fbpx
Valeska Muller het die wêreld aan haar voete

Valeska Muller het die wêreld aan haar voete

Valeska Muller het die jaar die musiekwêreld laat gons toe sy haar langverwagte debuutalbum, My Simfonie, in Augustus bekendgestel het. Die professionele sangeres, aktrise, sangafrigter en liedjieskrywer is al 19 jaar lank bedrywig in die musiekindustrie. 

Sy het haar debuut op die kassie gemaak as deel van die Top 7 van die musiekrealiteitsprogram, Zing. Dit het vir haar baie deure oopgemaak wat sy met beide hande aangegryp het. 

Valeska vul elke dag met ’n kombinasie van oefening, admin, opnames en optredes. En boonop rig sy elke middag haar sangstudente af by haar eie musiekskool. Valeska is bedrewe en leef ook volgens haar eie raad: “Werk hard! Niks wat die moeite werd is, val net in jou skoot nie.”

Die gebore Durbaniet is ’n trotse onafhanklike kunstenaar wat geen vreemdeling van die kunste is nie. Sy het reeds vanaf negejarige ouderdom privaatonderrig in die kunste ontvang. Op vyftien het sy vir die eerste keer by die Staatsteater in Pretoria opgetree as een van haar skoolkoor se hoofsangers. Net ’n jaar later was haar eerste kabaretvertoning by die Moonbox Teater.

Aan musiekervaring het die dame dus geen tekort nie. Sy beskryf haar musiek as elektroniese popmusiek met ’n unieke styl. “Dis waar ek tegnologie, klanke, instrumente en my emosies saammeng om sin te maak van my interne dialoog en om musiek te maak wat medisyne is vir my siel,” vertel sy. Sy speel ook self die kitaar.

Verskeie mense en oomblikke het oor die jare ’n invloed op Valeska gehad. “Dit was nie altyd goeie dinge nie. Ek dink die slegste oomblikke in my lewe het my die meeste geleer oor wie ek is en tot wat ek in staat is.”

Van haar musikale inspirasie sluit in: ABBA, Fleetwood Mac, Dire Straits, Toto, Julio Iglesias en Andrew Lloyd Webber. Hedendaagse musiek wat haar hart laat vinniger klop is Hozier, John Mayer, Sia, Coldplay, Beyoncé en Adele.

Haar raad aan jong kunstenaars is om nie rond te kyk na wat ander om jou doen nie, maar om binne jouself te soek vir idees, inspirasie, aanvaarding en liefde. 

Ek dink dis belangrik om jouself te omring met goeie mense wat jou ondersteun, lekker gesonde kos, hoë energie, en standvastige ideale. Balans is belangrik.” Sy moedig ander kunstenaar aan om aan hulself te glo en altyd te onthou hoekom hulle begin het met hul drome.

Valeska se musiek, asook haar onlangse album is op alle digitale platforms beskikbaar.

BESPREKINGS: [email protected] 

SOSIALEMEDIASKAKELS:
YouTube, Facebook, Instagram,  Twitter

Webtuiste: www.valeskamuller.com