fbpx
Fiennes beïndruk met biografiese fliek oor ‘n ballet-legende!

Fiennes beïndruk met biografiese fliek oor ‘n ballet-legende!

PERSVERKLARING – Die term “white crow (wit kraai)” is ’n Russiese gesegde vir iemand wat ongewoon of anders is. Dit kan dus tweeledig gebruik word om iemand te beskryf wat die talent en vermoë het om iets te doen wat ander nie kan nie; en om te verwys na ’n buitestaander wat nêrens inpas nie. Die bekroonde Russiese balletdanser, Rudolf Nureyev, versinnebeeld hierdie konsep.

Nureyev, wat bekend was vir sy sensuele danstalent, het die spanning van die Koue Oorlog aangeblaas deur van die eerste supersterre te word om weg te breek van die Sowjet-Unie in 1961. In THE WHITE CROW,vertel regisseur, Ralph Fiennes, dié balletlegende se verhaal. 

THE WHITE CROW is die storie van ’n unieke kunstenaar se avontuur om die balletwêreld vir altyd te verander. Dit neem die kyker op reis deur sy armsalige kinderdae in die Russiese stad, Oefa, sy studentejare in Leningrad en sy epiese kennismaking met die Westerse kultuur in Parys, in die vroeë 1960’s. 

Die rolprent is gebaseer op Julie Kavanagh se biografie oor dié Russiese balletdanser en die draaiboekverwerking is gedoen deur David Hare. Fiennes het, nadat hy twintig jaar gelede Nureyev: The Life gelees het, reeds versot geraak op hierdie verhaal. 

“Die storie het my aangegryp en ek kon dadelik die fliekpotensiaal raaksien. Ek het myself net nooit gesien as die regisseur daarvan nie, want dit was net ’n idee,” verduidelik hy. “Dit is so dramaties en spreek baie temas en aspekte aan. Dit het ’n interpersoonlike dinamika, ’n kans vir Nureyev om homself te laat geld en die meedoënloosheid wat daarmee gepaard gaan. Dit is ook binne die konteks van die ideologie van die verdeling tussen die Ooste en Weste tydens ’n spanningsvolle tydperk van die Koue Oorlog.”

Voor Nureyev het gehore hoofsaaklik op vroulike ballerinas gefokus en die manlike dansers was eintlik amper soos aantreklike standbeelde op die verhoog.

“Hy was gaande oor dans en het alles probeer om so sigbaar as moontlik op die verhoog te wees. Hy wou mense net so aangryp soos die vroulike ballerinas en het manlike verhoogoptredes herontwerp. Wanneer hy gedans het, wou hy seker maak dat almal vir hom kyk, sê vervaardiger Gabrielle Tana.

“Dit was sy karakter en eiewil wat hom laat besef het wie hy is, wat my regtig aangegryp het,” voeg Fiennes by. “Ons wou ’n fliek maak oor iemand wat uniek en onkonvensioneel was.”

Hare het die idee in ’n realiteit omskep. “Die rolprent gaan oor die oomblikke waarin hy vir twee redes die bekendste danser ter wêreld word. Die eerste rede is as gevolg van sy danstalent, en die tweede is dat hy die eerste bekende Sowjetse burger was om weg te breek van die Unie,” sê hy. “Ek wou daardie storie vertel en hom eer vir die ongelooflike toewyding wat hy gehad het om so briljant te wees in die kunsvorm wat hy beoefen het. Dit is baie ongewoon om dit in ’n fliek te sien.”

THE WHITE CROW is Fiennes se derde rolprent as regisseur en volg in die voetspore van Coriolanus en The Invisible Woman. As regisseur gee hy dieselfde aandag aan detail en karakterskepping as wat hy as akteur doen. Omdat hy daarna strewe om sy werk so outentiek as moontlik te laat lyk, het hy Russiese dansers en akteurs gebruik en hulle toegelaat om in hulle eie taal met mekaar te praat op skerm.

White Crow – Lokprent

Omdat hy geglo het dat dit onmoontlik is om ’n akteur te leer om soos ’n meester te dans, het Fiennes besluit om ’n danser die hoofrol te gee. Nureyev word briljant vertolk deur Oleg Ivenko, ’n solo-danser by die Jalil Tatar-balletteater, wat net genoeg jeugdige energie en talent in die rol plaas. 

Ivenko gee ’n danser se perspektief oor wat Nureyev so spesiaal gemaak het: “Rudolf het ’n ongelooflike energie gehad wat hy op die verhoog uitgeleef het,” verduidelik hy.  “Hy het baie hard gewerk om die beste te wees en sy lewe op die verhoog spandeer. Dansers word dikwels soos robotte, omdat hulle ’n uitgewerkte dansroetine opvoer, maar hy het lewe gegee aan elke danspassie. Hy het inspirasie gevind in kuns, boeke en mense om sy doelwitte te bereik en na die stem binne homself geluister. Hy het nooit afgewyk van sy plan nie.”

Regdeur die fliek word balletstukke foutloos opgevoer en is dit verteenwoordigend van die sukses wat hy bereik deur die verlede agter te laat vir ’n nuwe toekoms. Ivenko is ’n gesoute danser en die ondersteunende rolle, sluit die regte balletster en akteur, Sergei Polunin, in.

Fiennes speel self in die fliek as een van die mees onderskatte karakters (wat hy heeltemal in Russies vertol) – Alexander Pushkin, die beroemde dansmeester wat iets in Nureyev se passie raaksien. Pushkin se vrou, Xenia (Chulpan Khamatova), stel ook baie belang in Nureyev en nooi hom na haar woonstel waar sy hom verlei.

In die fliek, reis die balletster na Parys saam met die Kirov-balletgeselskap. Daar raak hy bevriend met die Franse danser, Pierre Lacotte (Raphaël Personnaz), en die glanspersoonlikheid, Clara Saint (Adèle Exarchopoulos) – wat treur oor die dood van geliefde, wat ook die seun is van die Franse Minister van Kultuur, André Malraux.

Die lewe in Parys is vir Nureyev baie opwindend en die jong danser is gretig om al die kultuur, kuns en musiek – wat die skitterende stad te bied – te verteer. Maar die KGB-beamptes wat hom dophou, raak al hoe meer agterdogtig oor sy gedrag en sy vriendskap met Saint. In ’n reeks uiters vermaaklike oomblikke, sien ons hoe hy Parys ontdek terwyl hy sy KGB-beamptes ontduik.

Spanning bou perfek op na die briljant-opgestelde oomblik toe die Kirov-troep by Parys se lughawe gereed maak om na Londen te vertrek. ’n Toutrekkery ontstaan op die lughawe – aan die een kant is die Russe wat wil hê Nureyev moet huistoe kom, en aan die ander kant is sy ambisie om sukses te behaal op ’n wêreldverhoog te slaag in die koue, onseker onbekende.

“Die prent skets die kunstenaar as ’n jong onafgewerkte man met ’n reuse verbeelding en ’n stoute kant,” sê Fiennes. “Daar is iets onaangenaam en selfs onsimpatiek omtrent hom, maar hy kom dit nie agter nie. Ek vind dit nogal roerend.”

THE WHITE CROW is ’n indrukwekkende, danasbelaaide biografie, wat fokus op Nureyev se kinderdae, opleiding en lewensveranderende besoek aan Parys. Dit word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 14 Junie 2019.

SOSIALEMEDIA

Vir meer inligting oor THE WHITE CROW, insluitend die amptelike lokprent, hou ons Facebook-blad dop of volg ons op Twitter by @NutsAboutMovies en gebruik die hutsmerk #TheWhiteCrow_SA om oor die fliek te gesels.

INTERNASIONALE SKAKEL Facebook

PUBLISITEIT EN BEMARKING

Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: [email protected]

www.starburstmusic.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui