fbpx
Gerrie Pretorius en Chris Else bemoedig luisteraars in duet

Gerrie Pretorius en Chris Else bemoedig luisteraars in duet

Die behoefte om mense te onderskraag en bemoedig gedurende hierdie uitdagende tye het ’n inspirerende duet tussen die immergewilde sangers, Gerrie Pretorius en Chris Else, tot gevolg gehad. EK SAL BY JOU STAAN is pas vrygestel en gratis op alle digitale platforms beskikbaar.

“Alhoewel ek eindelik besluit het dat ek nié meer gaan sing en nuwe liedjies opneem nie, het Chris my een aand oortuig om ’n duet saam met hom op te neem. Dit was in die tyd dat Covid-19 reeds mense om ons begin wegneem het en gesinne uitmekaar geskeur het, en ek wou iets inspirerenend daar buite kry,” het Pretorius vertel.

Pretorius, wat vroeg aan die begin van sy loopbaan ook Bles Bridges se musiek vertolk het, het op EK SAL BY JOU STAAN besluit en met dié twee se magiese stemme is ’n hoendervleis duet, wat gemoedere lig, gebore.

“Wat ’n groot voorreg om dit saam met die legende Gerrie Pretorius op te neem,” het Else vertel.

“Dit was omtrent moeite om hom te oortuig, maar nou kan ons die boodskap van hoop van positiwiteit oordra,” het hy vertel.

Volgens Else was die hoogtepunt van die hele projek om dit saam met koning van kitare, Deon van der Merwe, en Gerrie, te kan doen.

Pretorius het onlangs in ’n onderhoud aan Huisgenoot vertel dat hy nié meer op sy sangloopbaan gaan fokus nie en hierdie is moontlik die laaste nuwe liedjie wat ons van hom sal kan geniet.

Sy reisprogram op kykNET, Leef Jou Reis, vier vanjaar sy tiende bestaanjaar en Pretorius is onlangs tydens ’n intieme geleentheid deur sy borge, en die minister van toerisme Mmamoloko Kubayi-Ngubane, geloof vir sy bydrae in die toerismebedryf.

Else, wat ook saam met Gerrie een van die gesogte Coleske Artists-groep se kunstenaars is, het gedurende die eerste staat van inperking ’n stewige voet in die musiekbedryf gekry met aanlynkonserte wat hy op sy Facebook-blad gehou het. Sy volgers het gegroei soos hy hul met sy oop gesig en unieke stem oorrompel het.

Hy het gedurende daardie tyd ook baie versoeke vir Christelike musiek gekry en reik 1 Augustus sy Christelike album digitaal onder die vaandel van Coleske Artist uit.

Luister hier na die lied: https://vibe.to/EkSalByJouStaan

SOSIALEMEDIA

Gerrie Pretorius
Facebook, Instagram

Chris Else
Facebook, Instagram