fbpx
Tertius Swanepoel – ‘n Land met vrede

Tertius Swanepoel – ‘n Land met vrede

Die Krugersdorpse sanger Tertius Swanepoel het pas sy nuutste enkelsnit  ‘n Land met vrede vrygestel en met dié liedjie bepleit hy vrede vir ons land. En die vet weet; met Jacob Zuma wat die vryheidsdans in Nkandla doen en die pandemie wat besig is om virusvoos te slaan, het ons ‘n liedjie nodig wat vrede, hoop en voorspoed bepleit.

Tertius Swanepoel 'n Land met vrede

‘n Land met vrede is in ‘n sekere mate ‘n vryheidslied wat dieselfde tipe aanslag as Liani May se Pretoria en Bok van Blerk se Melk en heuning het.

Dit is asof die nuwe generasie sangers weer ‘n sterk veglustigheid in hul musiek en liriek openbaar, maar anders as die vorige generasie bepleit hulle nie vryheid nie, maar eerder vrede.

En dit is wat Tertius se liedjie so spesiaal maak; sy vredesboodskap word ook vergestalt in die lirieke: “en gee ons hoop; en gee ons vrede; en gee ons die krag om weer net te lewe…”

Tertius het self die liedjie neergepen en die lirieke spreek nie net van diepe sentimenteit teenoor ons land nie, maar ook van insig in die situasie waarin ons onsself nou bevind. Dit klink wel asof die liedjie ‘n sterk Christelike inslag het, maar dit kan nie as ‘n gospelliedjie getipeer word nie. Dit is eerder ‘n sterk pop-rock gedrewe liedjie.

Oor die liedjie sê hy: “’n Land met vrede is ‘n lied wat ek geskryf het vir die mense van ons land. Mense lewe net vir hulself, of dit nou hartseer bring of nie, of dit nou God se goedkeuring wegdra of nie. Met die lied pleit ek om vrede en vergifnis; ons sal sterker teen die vyand kan staan as ons mekaar vergewe en lief het.”

Die sanger, wat ook pa is van twee dogtertjies, is nie ‘n onbekende naam in die musiekbedryf nie. Hy tree gereeld by funksies op en het ook drie jaar gelede gedebuteer met ‘n onafhanklike album Padkaart na my hart. Al twaalf liedjies, wat op die album verskyn het, is oorspronklik en met die verskyning het Tertuis ook sy eie persoonlike stempel op die Afrikaanse musiekmark afgedruk.  Sy vorige enkelsnit Altyd in my hart boer al die afgelope drie weke op Bosveld Stereo se top 20-trefferparade.

Tertius sing al van jongsaf en deur die jare het sy stem en sy musikale vermoëns volwassedom bereik.

Tertius beskou homself as ‘n passievolle kunstenaar wat sy luisteraars op ‘n reis deur die musikale wêreld neem, waar vryheid, vreugde en hartseer in perfekte balans met mekaar staan. Hy glo in die towerkuns van musiek. “Goeie musiek kan die wêreld verander,” sê hy. 

SOSIALEMEDIA

Facebook