fbpx
Held van Harte maak hul debuut!

Held van Harte maak hul debuut!

Ontmoet Shaun Van Niekerk en André Hurter, stigterslede van Held van Harte. Die tweemanskap stel vandag hul debuutenkelsnit, DIE LIG, vry.

DIE LIG se lirieke en melodie verwoord verliefdheid en jong liefde op die perfekte manier. Held van Harte het ’n meesleurende klank geskep wat die hartsnare raak en jou laat uitsien na die volgende enkelsnit.

Held van Harte het beplan om ’n musiekvideo vry te stel saam met hulle enkelsnit, maar as gevolg van die afsonderingstydperk weens COVID-19 moes die manne ‘n alternatiewe plan beraam. Hulle laat hulle nie onderkry nie en het die beplande musiekvideo omskep in ’n liriekvideo.

Die groep is geïnspireer deur Rockgroepe vanuit die 80’s, 90’s en tot op hede. Geïnspireer deur groepe soos Def Leppard regdeur en Nickelback, skep Held van Harte Pop-rock klanke wat jou voete sal laat saamstamp, en refreine wat jou sonder moeite sal laat saamsing.

Die lirieke bevat soms diep liefdesverhale en ander kere net prettige flankeerdery. Shaun, ’n boorling van Ermelo, en André, woon in Pretoria waar hul in Montana Studios saam hul liedjies skryf en opneem. Shaun is die hartstogtelike hoofsanger en gesoute entertainer wat jare se evaring het in lewendige vermaak as solokunstenaar, verskeie musiekgroepe en Barnyard vertonings. André, musikale genie en multi-instrumentalis is agter al die instrumentasie en produksie van hul liedjies.

Op live shows kry jy hom agter die baskitaar en as agtergrondstem, soms op kitaar of selfs dromme! Die twee word op die verhoog vergesel deur sessiemusikante, PH Steyn op kitaar en Sean Kenselaar op dromme.

Maar waarom sou mens jou groep Held van Harte doop? Miskien is julle casanovas wat ’n string harte verower het? Egomaniakke wat dink hulle is elke meisie se droom? Of dalk is julle net twee gewone ouens wat weet ons almal is op soek na die held van ons eie hart? Definitief die laasgenoemde …

Wanneer dinge weer na normaal terugkeer, sal jy Held van Harte beslis by verskeie musiekvertonings raakloop. Intussen kan hulle gevolg word op sosiale media om op hoogte te bly.

Wat dink ons?

3.5 out of 5 stars

Held van Harte se musiek het vir seker ’n volwasse klank alhoewel die lirieke en die ritme daarvan steeds by jonger gehore sal aanklank vind. Dit is goed afgerond en die verwerkings en styl is vars vir die Afrikaanse mark.

Oud en jonk sal hulle musiek kan geniet. Definitief iets vir die langpad wanneer die hele gesin in die kar is.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram