Jacques & Liezel – MOVING ON

Jacques & Liezel – MOVING ON

Suid-Afrika se gunsteling geestelike duo, Jacques en Liezel, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat daarop gemik is om luisteraars aan te moedig om hulle drome na te jaag.

MOVING ON, wat beskryf word as ’n geestelike country-lied, is deur die twee musikante self geskryf en vervaardig deur Jattie de Beer van Artistry Productions en Loki Rothman.

Ons het eendag tydens oefening opgewarm en rondgespeel met instrumente. Jacques het toe spontaan begin saamsing op die wysie wat ek op die klavier gespeel het en die woorde en melodie het perfek gewerk. So is die liedjie toe gebore,” verklap Liezel oor hoe dié snit tot stand gekom het. “Die boodskap is om alles wat jou terughou te laat gaan en, in geloof, vandag nog jou drome na te jaag.”

Volgens die musiekpaar behoort die liedjie aanklank te vind by ’n wye gehoor, omdat almal drome het en die lirieke dien as inspirasie om daardie drome waar te maak – met God aan jou sy.

Natuurlik moet so ’n opbouende lied ook ’n musiekvideo hê en hulle het regtig uit hulle pad gegaan om dit besonders te maak. Die video sal op 22 Julie 2022 vrygestel word.

As jy nou spring, kan jy dalk wegstap met ’n 2018 Sym Orbit II Scooter (tweedehands met 2 600 km op die klok) wat in die musiekvideo te sien is en jou deel doen vir die gemeenskap! 10% van elke inskrywing word geskenk aan die 500KPerDay-inisiatief om vir minderbevoorregte kinders kos te gee. Om in te skryf, besoek: https://www.facebook.com/JacquesLiezel

Die trekking sal op 29 Julie 2022 regstreeks om 18:00 op Jacques en Liezel se blad plaasvind.

Hulle is ook vanjaar benoem vir vyf Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings, waarvan hulle met drie weggestap het; Beste Geestelike MusiekvideoBeste Geestelike Enkelsnit en Beste Algehele Geestelike Kunstenaar.Sedert Jacques Schoeman en Liezel Marshall in November 2021 hulle debuut in die musiekbedryf gemaak het, nadat hulle op Facebook ontmoet het, het hulle nog net van krag-tot-krag gegaan.

Tans is hulle besig om te werk aan nuwe Afrikaanse musiek, asook hulle romantiese verhouding wat onlangs vlam gevat het en hulle baie gelukkig maak.

Jacques geniet dit om ou motors te restoureer en tyd saam met sy seuntjie te spandeer. Hy is ook betrokke by die musiekbediening by verskeie kerke en kampe.

Liezel wat ’n paar jaar deel van die groep Onbeskaamd en spog met ‘n Ghoema-benoemde album op haar kerfstok hou daarvan om foto’s te neem en om met haar honde te stap.

Jacques en Liezel is besig om hulle musiekdrome waar te maak en met MOVING ON motiveer hulle nie net hulself om aan te hou droom nie, maar ook vir enigeen wat daarna luister.

Om ’n droom na te jaag wat jy nog nooit gehad het nie, moet jy iets deur geloof doen wat jy nog nooit gedoen het nie,” sluit hulle af.


Dié opbouende snit is nou aanlyn beskikbaar, kry dit hier: https://jacquesenliezel.lnk.to/37x4vPdd

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook, Instagram, YouTube, TikTok

LEES MEER

Jacques & Liezel – VASHOU