fbpx
Leevona Pitout – Volgende Lewe

Leevona Pitout – Volgende Lewe

Leevona Volgende Lewe

Leevona Pitout stel op haar 26ste verjaarsdag haar debuutenkelsnit, VOLGENDE LEWE vry.

Leevona, wat op agtien met haar musiekloopban begin het, het die afgelope paar jaar voorvertonings vir sangers waaronder Ampie, Bernice West, Demi-Lee Moore en Fatman gedoen.

VOLGENDE LEWE is ’n rustige liefdesballade wat die liefde vanuit ’n vars perspektief benader. “Dié liedjie was ‘n spanpoging. My beste vriendin het die lirieke neergepen en nog ‘n vriend Petrus van Wyk het dit getoonset,” vertel sy.

Na ‘n reis van agt jaar vol hoop, geduld, vetroue en baie trane vier die Bloemfonteinse sangeres Leevona Pitout haar 26ste verjaarsdag saam met die uitreiking van haar debuutenkelsnit, VOLGENDE LEWE.

“Dit was nog altyd my droom om ‘n enkelsnit vry te stel, maar dit was net nooit moontlik nie,” borrel die brunet wat geen bekendstelling in die Rosestad se musiekkringe nodig het nie. “Die enkelsnit is seker die grootste geskenk wat ek nog ooit aan myself gegee het.”

Leevona, wat op agtien met haar musiekloopban begin het, het die afgelope paar jaar voorvertonings vir sangers waaronder Ampie, Bernice West, Demi-Lee Moore en Fatman gedoen. Haar aanhangers het haar aangemoedig om liedjies op te neem, maar die regte oomblik het nooit daarvoor aangebreek nie.

Sy moes wag vir ‘n wêreldwye pandemie om ten einde haar stem, wat met gemak tussen die middel- en hoë C kan dans, tot sy reg kon laat kom. “Dit is eintlik ‘n bietjie oorweldigend wanneer ‘n droom uiteindelik waar word,” lag dié sopraan wat soggens die glans van die verhoog vir die gesag (en ook gemak) van die aktekantoor verruil.

Leevona het in ‘n huis groot geword waar musiek ‘n belangrike rol in haar vormingsjare gespeel het.  “My pa was ‘n groot musiekliefhebber en sy kennis oor musiek het my menigmaal stomgeslaan. Hy het sy passie en kennis met my gedeel en ek hoop dat ek my liefde vir musiek ook op my twee kinders kan oordra,” sê sy.

VOLGENDE LEWE is ’n rustige liefdesballade wat die liefde vanuit ’n vars perspektief benader. “Dié liedjie was ‘n spanpoging. My beste vriendin het die lirieke neergepen en nog ‘n vriend Petrus van Wyk het dit getoonset,” vertel sy.

Volgens Leevona handel die liedjie oor liefde tussen twee mense. “Dáártdie tipe liefde wat so groot is dat ‘n mens soms verwonderend voor dit staan en wonder of dit ‘n werklikheid of ‘n sprokie is. Die liedjie doen ‘n beroep op geliefdes om soveel tyd moontlik saam te spandeer, want ‘n mens weet nooit wanneer die uurglas leeg loop nie.” 

 Leevona sê Afrikaanse musiekliefhebbers, wat die liefde op ‘n andersoortige manier raaksien, die snit baie sal geniet. Die meeste liefdesliedjies vertel dieselfde stories, maar die liedjie het ‘n nuwe invalshoek. Een van die liedjie se hooftemas is tyd; ons wil hê tyd moet stilstaan, maar die tydaanwyser bly aan die beweeg; liefde wat vir ewig moet duur, maar net ‘n leeftyd daar gaan wees.”

Leevona het een van daardie stemme wat ‘n onmisbare bestannddeel in die Afrikaanse musiekbedryf gaan word. ‘n Mens hoop dat sy nie weer agt jaar gaan wag voordat sy nog ‘n enkelsnit uitreik nie. Die lirieke, toonsetting en en vervaardiging vorm ‘n gesinchroniseerde eenheid wat van die liedjie ‘n treffer maak.  Jaco Bezuidenhout van JB Productions het die liedjie vervaardig en Petrus van Wyk het dit getoonset.

SOSIALEMEDIA

Facebook, Instagram