Legkaart – NUWE REISE

Legkaart – NUWE REISE

Na drie suksesvolle radiotreffers, het Legkaart beslis nie meer bekendstelling nodig in musiekkringe nie.

Hierdie dinamiese duo het verlede jaar groot opslae gemaak met hulle unieke alternatiewe musiek en het dit daarom goedgedink om 2023 met ’n splinternuwe enkelsnit af te skop en sodoende die naam op almal se lippe te bly.

NUWE REISE is eie aan dié paar se pop-rock-styl en is oudergewoonte geskryf deur die groep se hoofsanger, Anrich Gericke.

NUWE REISE is geïnspireer deur die herinneringe van somervakansies in ons jeug saam met spesiale vriende. Daar was ’n ou motor waarmee ons gereeld op reise gegaan het toe ons leer bestuur het en van die beste tye van ons lewens was binne die vier deure van daardie motor,” deel hy oor die snit wat deur Johnny De Ridder (Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar) en Loki Rothman gemeng en vervaardig is.

Volgens die manne, spog hulle nuutste vrystelling met ’n energieke wysie wat jou nie net laat dink aan die somer nie, maar ook sal laat opgewonde voel oor die komende jaar.

Verder meen hulle dat luisteraars sal aanklank vind by die universele tema van vriendskap en samesyn en is dit beslis ’n liedjie wat mense sal opbeur wanneer hulle die langpad vat of in die verkeer vassit.

Die musiekvideo, wat ook nou op die kassie te sien is, is in Gordonsbaai, Stellenbosch en Durbanville verfilm deur Gerduan Kemp van Gerduan Kemp Photo & Film en hy was ook verantwoordelik vir die konsep en vervaardiging daarvan.

“Hierdie video is gebou rondom ’n somervakansie op die langpad in ’n outydse kombi al langs die kuslyn en bevat ook groot musiektonele met vuurwerke om die energie van die liedjie uit te beeld,” verklap hulle.

Kyk solank na ‘n paar agter-die-skerm grepe van dié opwindende video wat op 20 Januarie 2023 uitgereik word.

NUWE REISE volg in die voetspore van Terug in Tyd, waarvan die musiekvideo binne twee maande 100 000 kyke op YouTube gehad het, Wentelbaan en Ek Is Daar.

Legkaart, wat bestaan uit Anrich Gericke en Werner van der Merwe, is ’n musiekgroep van Durbanville in die Kaap. Omdat hulle glo dat elke groeplid, liriek en melodie bydra tot wie hulle in geheel is, het hulle gedink dat dié naam baie gepas sou wees toe hulle in 2020 saam begin musiek maak het.

Dié duo het ontmoet toe hulle deel was van die Hippokrates-serenadegroep in die koshuis. Aanvanklik was albei deel van ander groepe, maar het later begin saam musiek maak toe dit nie uitgewerk het nie.

Die groep het nog baie drome en doelwitte en beplan om in 2023 saam met bekende name in die bedryf te werk om nog meer topklas-musiek met bewonderaars te deel.  

NUWE REISE is ’n lekkerluister-liedjie wat nog vir baie lank om die braaivleisvuur en op persoonlike speellyste gaan koning kraai.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram, YouTube

LEES MEER

Legkaart – EK IS DAAR