fbpx
CheraLee roer hartsnare in nuwe enkelsnit

CheraLee roer hartsnare in nuwe enkelsnit

In CheraLee se splinternuwe enkelsnit, PLEKKIE ONDER DIE SON, roer sy hartsnare en sing veral oor die verlange van familie wat immigreer. 

“Hierdie is ‘n Afrikaanse kontemporêre enkelsnit wat handel oor die denke van meeste Suid- Afrikaners wat wil immigreer met die hoop vir ’n nuwe lewe in ’n ander land, om die huidige omstandighede in Suid-Afrika te ontvlug,” sê sy. 

CheraLee het PLEKKIE ONDER DIE SON neergepen en haar inspirasie vanuit haar eie familie geput. 

“My sussie het so 12 jaar gelede na Kanada geïmmigreer en na al hierdie tyd mis sy nogsteeds haar land en haar familie vreeslik baie. Sy bly in ’n nuwe land waar die omstandighede heelwat beter is as Suid-Afrika. Maar haar hart hunker nog na haar Afrika land, sy mense, sy natuurskoon en haar geliefdes.

My broer het ook intussen na Swede geïmmigreer. Ons familie wat hier in Suid-Afrika agterbly, mis hulle altwee ook vreeslik baie. Die verlange is nie lekker nie,” vertel sy. 

“Ek het hierdie liedjie vir my sussie geskryf om haar moeilike besluit om te immigreer uit te beeld,”  verduidelik CheraLee. 

“Ek weet daar is vele Suid-Afrikaners wat dieselfde besluit in die gesig staar. Dit is ’n vreeslike moeilike besluit om alles wat jy ken en geken het, agter te laat en ’n nuwe lewe êrens anders te begin,” vertel CheraLee. 

“Ek weet ook dat die verlange na geliefdes, die land, sy geskiedenis en sy natuurskoon, altyd daar sal wees. ’n Mens gaan sukkel om weer so tuis te voel in ‘n ander land, want Afrika is in jou bloed.” 

Volgens CheraLee dink baie mense ook dat die “gras groener is aan die ander kant”. Maar dit gaan nie altyd maanskyn en rose wees as jy immigreer nie. “Daar is ’n moontlikheid dat jy ook gaan sukkel om aanvaar te word in ’n ander land, omdat jy ’n immigrant is, wat dinge kan vermoeilik. Gelukkig is ons as Suid-Afrikaners baie veerkragtig en ons is begaafd om altyd die goeie in ‘n slegte situasie raak te sien,” het sy gesê. 

CheraLee hoop diegene wat klaar besluit het om te immigreer of alreeds immigrante is, sal weet dat Afrika altyd deel van hul as ’n Suid-Afrikaners sal wees. 

“Ons as Suid-Afrikaners verdien ook ‘n plekkie onder die son. ’n Plekkie waar ons aanvaar word vir wie en wat ons is, ’n gelukkige lewe kan leef saam met ons geliefdes, sonder om bang te wees, al is dit nie onder die Afrika son nie,” voeg sy by. 

CheraLee wil graag in 2023 ’n nasionale toer aanpak om die musiek haar album met dieselfde titel te bemark. “Ek wil so graag almal wat my musiek geniet ontmoet,” het sy gesê. 

Kyk die video hier

Die musiekvideo se storielyn volg ’n gesin en ’n groepie vriende wat op ’n safaririt is tydens hul bosveldvakansie. Op die rit sien hulle kameelperde en stop dan by ’n watergat waar hulle uitklim en fotos neem. Hulle sluit die aand af met ’n geselligheid by die braaivleisvuur. 

CheraLee vertolk die liedjie met haar kitaar in verskeie uitrustings en liggings. “My hele gesin en van ons gesinsvriende was ook deel van die opnames, wat dit baie spesiaal maak,” het sy gesê. 

PLEKKIE ONDER DIE SON is nou op alle musiekstromingsdienste beskikbaar.

SOSIALE MEDIA

FacebookInstagramYouTube

LEES MEER

CheraLee – DROOMVERLORE

Cheralee neem nostalgiese reis met GROEI

Cheralee – AS MÔRE KOM is dit dalk te laat

Cheralee stel debuutenkelsnit vry