fbpx
Cheralee – DROOMVERLORE

Cheralee – DROOMVERLORE

CheraLee se nuutste enkelsnit, Droomverlore, is pas vrygestel en in dié liedjie sing sy oor ware liefde – dié een wat geen begin en geen einde ken nie.

Dié sangeres, wat ook onlangs as Sangeres van die Jaar tydens ’n toekenninsgaand aangewys is, het verduidelik dat ’n trauma wat haar ouers moes deurwerk, haar geīnspireer het om Droomverlore te pen.

“Die liedjie handel oor die verlies wat my ouers reeds vroeg in hul huwelik ervaar het met die afsterwe van hul eersgebore kind, my broer Eugene. My ma het gereeld van hom gepraat en telkemale vir ons gesê dat sy hom in ons oë kon sien,” het sy vertel.

“My ouers se liefde vir mekaar was so sterk, met die liefde vir Eugene wat só merkwaardig was dat dit selfs die dood kon oorbrug en ten spyte van die tragedie kon voortleef,” het sy verduidelik.

Sy kon eenvoudig nie anders as om dit in ’n liedjie te verewig nie.

“Dit het my laat besef dat ons altyd aan mekaar verbind sal wees – in lewe en dood. Ek het ook verstaan dat ons kinders nie net verbind is aan mekaar oor ons bloedverband nie, maar ook deur my ouers se oneindige liefde vir hul kinders. Ons is droomverlore deel van mekaar,” het CheraLee bygevoeg.

Droomverlore handel egter ook oor die liefde wat sy en haar man koester.

CheraLee se verloofring was ook die enigste ring wat hy al ooit aan iemand gegee het.

“Vir my man is ’n ring baie spesiaal want dit simboliseer dat die liefde geen begin en geen einde het nie,” het CheraLee vertel.

Dit is dan ook dié simboliek wat die lirieke “sirkels in die sand” inspireer het.

CheraLee se hoop dat luisteraars van Droomverlore ook die kern van onvoorwaardelike liefde sal voel as hulle na die liedjie luister. Sy skryf gereeld oor haar gevoelens en emosies en meen dat om onbeskaamd musiek te maak deel van haar identiteit in die bedryf is.

“Ek hoop dat enige iemand wat verlies ervaar het in hul lewe, ’n bietjie vertroosting sal vind in die boodskap dat die liefde geen einde het nie,” verduidelik CheraLee.

Droomverlore het ook ’n musiekvideo wat afspeel in verskeie natuurtonele en word binnekort vrygestel.

“In die musiekvideo is ek in twee uitrustings geklee – een rooi rok en een swart rok. Die rooi uitrusting simboliseer lewe en die swart uitrusting simboliseer die dood. Die beeldmateriaal van my in die rooi en swart uitrustings oorvleuel met mekaar deur die verloop van die video wat die konsep dat liefde ’n brug tussen lewe en dood is, beklemtoon,” het CheraLee opgewonde oor die musiekvideo vertel.

Die musiekvideo fokus op ’n verteller wat droomverlore en ewig opsoek is. Hierdie soeke, meen CheraLee, lei tot ’n tipe waansin wat kykers sal kan identifiseer.

Droomverlore is die eerste enkelsnit van CheraLee se splinternuwe album, Plekkie onder die Son. CheraLee het ook onlangs haar heel eerste Engelse enkelsnit, Remember, vrygestel en kan reeds op plaaslike en internasionale radiogolwe geniet word.

CheraLee se musiekloopbaan het twintig jaar terug begin toe sy in Idols deelgeneem het en dit tot by die TV-rondtes deurgemaak het. Daarna het sy haar fokus daarop geplaas om haar plek in die musiekindustrie uit te kerf as ’n onafhanklike kunstenaar. Droomverlore is nou op alle musiekstromingsdienste beskikbaar.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram, YouTube

LEES MEER

Cheralee neem nostalgiese reis met GROEI

Cheralee – AS MÔRE KOM is dit dalk te laat

Cheralee stel debuutenkelsnit vry