fbpx
Cheralee stel debuutenkelsnit vry

Cheralee stel debuutenkelsnit vry

Die sangeres, liriekskrywer, musikant en grafiese ontwerper van Centurion, Cheralee, het pas haar debuutenkelsnit vrygestel. Aanhangers se voete sal dadelik begin jeuk en koppe sal op-en-af knik as hulle na SO VERKEERD luister. Die enkelsnit is opgeneem deur Gert Koevert van Fire River Studios.

Dié liedjie het ’n sterk pop-rock aanslag. Afrikaanse musiekliefhebbers sal aanklank vind by die sterk melodieë, akoestiese kitaarklanke en haar suiwer stem.

Kyk die musiekvideo hier

Daar lê ’n sterk boodskap in die lirieke – dit is verkeerd om in ’n verhouding vasgevang te wees waar emosionele aftakeling en fisieke geweld deel van jou daaglikse bestaan is. Cheralee verwoord die sterk gevoelens in die koorgedeelte van die liedjie “Ek wens ek kan dit vergeet, dit was so verkeerd om jou lief te hê.”

Hierdie inspirerende pop-rocksnit is vir haar baie persoonlik, omdat sy self uit ’n emosioneel afbrekende verhouding ontsnap het. Daarna moes sy baie struikelblokke uit die weg ruim voordat sy dié liedjie kon bekendstel.

Daar is baie temas wat in die liedjie voorkom, maar die hoofboodskap is dat iemand in jou lewe kan inkom en jou vernietig,” verduidelik sy. “Ek hoop dat hierdie lied luisteraars sal help om hulleself en diegene rondom hulle weer te respekteer, want die lewe is te kort om in ’n slegte verhouding vasgevang te word. 

 “SO VERKEERD is gebore kort nadat ek my verhouding verbreek het. Ek het die lirieke al bykans sewentien jaar gelede geskryf, maar het eers jare later weer daaraan geskaaf tot dit ’n melodie gevorm het.”

Sy sê sy skryf gereeld gedigte – in Engels en Afrikaans – wat sy later tot lirieke verfyn. “Ek skryf oor alledaagse dinge; liefde en liefdesteleurstellings, ons land en gebeure. Soms put ek ook inspirasie uit rolprente en televisieprogramme.”

Cheralee het gematrikuleer aan die Hoërskool Pro-Arte, Alphenpark en het daarna ’n honneursgraad in inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria voltooi.

Maar sy het altyd gesing en is dus nie ‘n onbekende stem (of gesig) in die vermaaklikheidsbedryf nie. Sy het reeds op dertienjarige ouderdom by verskeie korporatiewe geleenthede en in winkelsentrums opgetree.

In 2002 het sy en haar broer (sy kom uit ’n musikale familie) ’n Engelse rockgroep, Falisafe, gevorm. Dié groep het ’n 10-snit album opgeneem, maar dit is nooit versprei of bemark nie. Tog het die liedjies vanaf die album op Highveld 94.7 en TUKS FM se treffersparades geboer.

Die groep het ses jaar later ontbind, waarna sy saam met verskeie groepe, waaronder Heteromorpha, Geuss Who, Mckenzie Blue, Spitfire en Swa-Vé, opgetree het. 

Sy het drie jaar gelede besluit om haarself as ’n solosangeres te vestig, en het ook die kitaar bemeester, waarop sy haarself tydens haar vertonings begelei. Cheralee het vinnig ’n gunsteling in die Pretoria-omgewing se restaurante en kroeë geword, en gehore se reaksie op haar optredes was: “Jy het ’n hemelse stem. Hoekom het jy nog nie ’n vollengte album uitgebring nie?”  

Hieroor sê Cheralee: “Ek werk al die afgelope twee jaar aan ’n vollengte album wat uit tien liedjies bestaan. Ek wou die album graag in April vrygstel het, maar die korona-pandemie het ’n stokkie daarvoor gesteek. Ek moes my vrystellingsdatum uitstel.

Met SO VERKEERD bewys Cheralee dat sy ’n meesterlike vermoë het om liedjies op ’n eerlike manier te “vertel” en te interpreteer en dat sy ’n talent het wat dopgehou moet word.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram