fbpx
Nuwe enkelsnit hou kollig op Rooksein!

Nuwe enkelsnit hou kollig op Rooksein!

Die talentvolle driemanskap, Rooksein, se enkelsnit ONTHOU JY DIE DAE is onlangs uitgereik waarmee hulle vir seker die aandag van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers getrek het. WEES VRY, hulle nuwe enkelsnit wat gedurende Mei 2020 radiostasies landswyd sal tref, gaan beslis verseker dat die kollig op hierdie Potchefstroomse musiekgroep bly. 

Rooksein is deur Renier van der Westhuizen gestig en maak opslae vandat hulle in 2018 saam begin optree het. Renier (22) is ’n liedjieskrywer en musikant van Rustenburg wat inspirasie put uit die waarhede en emosies in die lewe. Verder bestaan die groep uit Megan Danner (21), die hoofsanger en enigste Eva, afkomstig van die Paarl. Dian Maritz (20), van Plettenbergbaai, is die hoofkitaarspeler en agtergrondsanger van die driemanskap.

Die onderwerp van die meeste van hulle musiek is liefde en verhoudings. Met WEES VRY het hulle besluit om oor iets dieper te skryf en te sing. Met die enkelsnit, geskryf deur Renier, raak hulle aan ’n meer sensitiewe onderwerp wat oor die algemeen vermy word, naamlik die dood.  

WEES VRY probeer sê dis oukei, ek weet dit is seer, maar alhoewel dinge nie nou fine lyk nie, sal die son weer môre skyn, dalk nie so helder soos toe alles nog fine was nie, maar elke dag sal die son ’n bietjie helderder raak,” sê Renier.

Renier het WEES VRY geskryf uit die perspektief van ’n persoon wat doodgaan en dié se boodskap aan die persoon wat agterbly.  “Die dood van iemand na aan ons is een van die seerste seer wat ons as mense ooit sal ervaarMaar hierdie liedjie is geskryf as die laaste woorde van die persoon wat sterf om aan die een wat agterbly te sê dis oukei want ek is op ’n beter plek. Ek weet dit is seer, maar dit sal beter word, moenie laat hierdie jou onderkry nie.  Lewe jou lewe ten volle, wees vry want dit is wat ek vir jou wil hê.  Nie seer en spyt en hartseer en onsekerheid nie,” sluit hy af.

WEES VRY gaan ’n diep snaar in mense se harte aanraak vanaf die eerste keer wat dit gehoor word. Dit sal mens laat besef hoe mooi die lewe is. Geniet dit vir wat dit is, terwyl jy kan, want niemand van ons weet wat môre inhou nie. “Hou my in jou gedagtes en weet ek kyk uit vir jou, maar gaan en lewe, gaan en wees vry.”

Die liedjie is ook beskikbaar op alle digitale platforms: Klik hier  

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Instagram

Webblad: http://rooksein.wixsite.com/rookseinepk