Cheralee neem nostalgiese reis met GROEI

Cheralee neem nostalgiese reis met GROEI

In GROEI sing CheraLee oor die woorde wat haar Pa as kind vir haar gesê het en dis weereens net ’n bewys hoe blywend die boodskap is wat jy aan jou kind oordra. GROEI is onlangs as enkelsnit vrygestel en nou kan die musiekvideo ook geniet word.

cheralee groei

Kykers word op ’n nostalgiese reis deur hul eie lewens neem oor die lesse wat aan hulle oorgedra is.

“Met GROEI wil ek luisteraars graag daaraan herinner om aan hulle drome vas te hou, om te GROEI en te glo dat hulle hul drome kan bereik. Dié boodskap word deur middel van my eie lewensverhaal en my hegte verhouding met my pa, Frik Vd Schyff, oorgedra,” het CheraLee vertel.

Van der Schyff is die kern waaroor die enkelsnit en ook die musiekvideo handel. Die musiekvideo beeld CheraLee se lewenspad as klein dogtertjie, hoopvolle tiener tot waar sy haarself tans bevind, uit. 

Dié enkelsnit, met die moderne country-aanslag, is deur CheraLee gepen, en spog ook met ’n effense Reggae-invloed waarvan die opgewekte wysie dadelik sal vassteek.

“GROEI vertel die nostalgiese storie van my lewenspad as musikant om my drome in realiteit te verander. My pa se ondersteuning staan sterk uit in my lewe omdat hy ook nog altyd – veral by my musiekloopbaan – betrokke was. As kind het hy my reeds geleer om my drome te volg,” het sy vertel.

“Sy woorde ‘moet jou nie steur aan wat mense sê’ het by my vasgesteek en my gemotiveer om in myself te glo.

“Die dag toe ek in myself begin glo het, het ek myself toegewy aan die ontwikkeling en GROEIproses van my vaardighede as ’n sanger, liedjieskrywer en musikant. Ek wou só myself in staat stel om my droom – om ‘n voltydse musikant te word – na te jaag,” het sy vertel.

Volgens CheraLee is dit ook Van der Schyff se musieksmaak wat haar beïnvloed het om die genre te vertolk wat sy vandag doen en met hom as kitaarspeler en liedjieskrywer het hulle ’n spesiale verhoudig gevorm deur hul passie vir musiek.

“Ek onthou ek kon ure lank na my pa se plate van musikante soos Janis Joplin, The Beatles, Bruce Springsteen, Dire Straits, T-Rex, Status Quo, Led Zeplin, Fleetwood Mac, Lebo, Neil Diamond, Yes, Rolling Stones, Creedence Clearwater Revival, Rabbit en vele meer luister, terwyl ek weggevoer was na ’n wêreld gevul met emosie en passie,” het sy nostalgies vertel.

CheraLee het verder vertel dat sy hoop die opgewekde klank en ritme van die lied mense gelukkig sal maak en dat die boodskap húlle sal inspireer om nooit op te gee op hul drome nie.

“Ek het iemand gehad wat by my gestaan het en in my geglo het terwyl ek partykeer in my eie vermoë en talent getwyfel het omdat ek na ander se opinies oor my geluister het,” het sy gesê.

“Met GROEI wil ek my pa se invloed in my lewe uitlig en eer en daardeur ander mense aanmoedig om ook in hulself, en hul eie vaardighede te glo, sodat hulle hul drome kan waar maak.”

“Ons almal sukkel nou om net kop bo water te hou en ons skuif dus ons drome en passies op sy. Ek wil mense net herinner om vas te hou aan hulle drome en dit wat hulle gelukkig maak, want as ‘n mens iets het om voor te streef, is daar hoop vir ’n beter toekoms,” het sy bygevoeg.

CheraLee het ook vertel dat sy nie kan wag om ’n nasionale toer saam met haar orkes aan te pak sodat sy ook haar boodskappe deur middel van musiek met mense kan deel.

“Intussen sal ek soveel nuwe musiek probeer skryf en vrystel as wat ek kan met met die mikpunt om luisteraars altyd op te hef en te inspireer.”

CheraLee is reeds van ’n jong ouderdom blootgestel aan die verhoog en het in 2002 deelgeneem aan die eerste Idols nasionale sangkompetisie. Sy het die rondtes gehaal wat op televisie uitgesaai was. Daarna was sy deel van ’n paar musiekgroepe en produksies voor sy in 2017 vir die eerste keer ’n kitaar opgetel het om dit self te speel. Sy het haar solo musiekloopbaan aangepak om haar boodskap met die wêreld te deel.

CheraLee het vroeër vanjaar As Môre Kom vrygestel waarvan die musiekvideo reeds bykans 20 000 kere in vier maande op YouTube gekyk is. 

Luister GROEI nou op alle digitale platforms hier: https://MySlink.app/cheraleemusic

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

LEES MEER

Cheralee – AS MÔRE KOM is dit dalk te laat

Cheralee stel debuutenkelsnit vry