fbpx
Sharoney – ONS TEEN DIE WÊRELD

Sharoney – ONS TEEN DIE WÊRELD

Sharoney is soos ’n goeie bottel vonkelwyn. Haar borrelende persoonlikheid en liefde vir die lewe is net so indrukwekkend soos die passie en talent waarmee sy elke liedjie wat sy opneem aanpak… iets wat sy weereens bewys met haar nuutste en langverwagte vrystelling, ONS TEEN DIE WÊRELD.

sharoney ons teen die wêreld
Foto: Morné Coetzee

Volgens dié vyf-en-twintig-jarige sangeres van die Oos-Rand is haar nuwe Afrikaanse popsnit, uit die pen van Douvoordag se Jattie de Beer, die perfekte beskrywing daarvan om die regte persoon op die verkeerde tyd van jou lewe te ontmoet.

Die lirieke skets ’n prentjie van twee jongmense wat verlief en verlore is. Verlief op mekaar en verlore in die eindelose avonture van die lewe. Dit is die tipe sprokie wat ’n mens in stories sien en in boeke lees,” deel sy. “Hier sien ons egter dat ’n sprokiesverhaal nie altyd ’n gelukkige einde het nie. Ek hou van musiek wat stories vertel en was van die begin af mal oor die liedjie waarin die toekoms vir die paartjie nie heeltemal uitwerk soos wat hulle beplan het nie.”

ONS TEEN DIE WÊRELD is iets waarmee almal kan vereenselwig en spog met ’n vars en moderne klank, wat dadelik aandag trek en luisteraars uitnooi om saam te sing. Die publiek gaan verseker aanklank vind by hierdie nuwe vrystelling van Sharoney! Omdat sy soveel moeite doen om haar video’s uitsonderlik te maak, wil sy nie veel verklap oor hierdie enkelsnit se video wat op pad is nie, behalwe dat sy baie opgewonde is om dit op 20 Augustus met bewonderaars te deel!

Hierdie nuutste vrystelling van haar volg in die voetspore van 21 Vir Ewig wat uitstekend ontvang is deur radiostasies landswyd en waarvan die energieke musiekvideo die eerste van sy soort in die Afrikaanse mark was. Hierdie video kan gereeld op televisiekanale soos kykNET, kykNET NOU, SABC 2 en VIA gesien word. Wat egter uiters indrukwekkend is van 21 Vir Ewig is dat hierdie liedjie, volgens Radiomonitor, 5.83m Imp’s (impakte) tot op datum gekry het.

Hierdie “impakte” word saamgestel uit data wat deur radiostasies beskikbaar gestel word van werklike luistergetalle en dui daarop dat die liedjie ’n luistertal van 5.83-miljoen tot op datum bereik het! Daar word voorspel dat ONS TEEN DIE WÊRELD selfs beter gaan vaar. Radiomonitor is die industrie se standaard radio-speeltydmonitordiens, wat gebruik word deur alle groot platemaatskappye en radiostasies wêreldwyd.

Sharoney het haar merk in die musiekbedryf 2014 begin maak met die vrystelling van haar debuut-enkelsnit, Een Keer. Reeds met hierdie eerste vrystelling het sy almal laat regop sit en notisie neem van haar.  Dit het onmiddellik begin presteer op die grootste treffersparades in die land en word steeds gespeel.

Sedertdien het sy talle hoogtepunte in haar loopbaan bereik, waaronder twee Ghoema- en Huisgenoot Tempo-benoemde albums en verskeie groot radiotreffers (CrushIn Ons FairytaleSkynWees My Held, Prinses en meer). Sy het ook in 2020 as eerste prinses uit die stryd getree in die Ster-Status-realiteitskompetisie op VIA en oor die jare by die grootste funksies en feeste in Suid-Afrika opgetree.

Hierdie jong vrou sit nie stil nie en is ’n voorbeeld vir baie jong vroue daarbuite.  Sy is ook ’n handelsmerkverteenwoordiger vir verskeie produkte en besighede en fokus daarop om ’n gesonde leefstyl te handhaaf. Tans is sy  hard aan die werk met die opname van nuwe liedjies vir haar volgende album wat sy in die nabye toekoms wil vrystel.  

ONS TEEN DIE WÊRELD is een van daardie onvergeetlike liedjies wat, net soos die indrukwekkende vrou wat dit sing, jou hart uit die staanspoor verower en vir lank in jou gedagtes bly maal. Die snit is nou aanlyn beskikbaar.

Laai dit hier af: http://sharoney.hearnow.com/ons-teen-die-wêreld

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram