fbpx
Len Muller nuutste enkelsnit is rou, eerlik en opreg!

Len Muller nuutste enkelsnit is rou, eerlik en opreg!

PERSVERKLARING – Len Muller is ’n veelsydige en talentvolle musikant, wat bekend is vir sy hoendervleismooi musiek, wat direk met die hart te praat.

OORGENOEG, dié blondekopster se nuutste enkelsnit en musiekvideo, is ’n treffende Afrikaans-Akoestiese verwerking wat sy vaardighede as liedjieskrywer en sanger behoorlik ten toonstel en selfs die kieskeurigste luisteraar tevrede sal stel.

Len Muller – Oorgenoeg

Die snit kan beskryf word as rou en eerlik en kom uit ’n baie spesiale plek in die sanger se hart uit. “Vandat ek baie klein was, het ek ’n diep hartseer oor die armoede in ons land en het baie gehuil oor mense wat op straat moet bly. Ek kon nog nooit vertaan hoekom ’n sekere groep mense meer het as wat hulle nodig het, terwyl ander doodgaan van die honger nie. Die liedjie het dus ontstaan uit hierdie frustrasie met geldgierigheid”, verduidelik Len. “Ek het gevoel dat ek self nie veel finansieel kan doen om ’n verskil te maak nie, maar wat ek wel het is musiek. As ek een persoon kan kry om anders te dink of meer mededeelsaam te leef, dan is dit die moeite werd. Die lirieke is baie rou en eerlik en dit is seker een van die eenvoudigste liedjies wat ek al geskryf het, maar tog die naaste aan my hart.”

OORGENOEG, wat deur Theo Crous van Bellville Studios vervaardig is vir Len se kortspeelalbum wat eersdaags beskikbaar sal wees, is ook die eerste liedjie wat hy saam met sy sussie, Miemie Blaauw, opneem en haar stem vul syne perfek aan in die laaste koorgedeelte van die enkelsnit. “Sy het my laat huil in die ateljee. Dit was baie spesiaal,” deel hy. 

https://open.spotify.com/track/5stgPKNGNGERnybJzQCNnA?si=n6NqF7JZQCyRIVcOJPHY-w

Volgens Len is die musiekvideo geskep om vir die liedjie ’n platform te skep en agtergrond te bied van wat agter-die-skerms by die ateljee gebeur. “Die idee was om meer te deel oor die skeppingsproses en nie noodwendig om ’n storie te probeer vertel nie. Hierdie enkelsnit praat vir hom self en die video ondersteun dit,” vertel hy. “Ons wou graag mooi visuele elemente afneem terwyl ek die lied sing, in oop spasies.”

Die beeldmateriaal is by die Voortrekkermonument verfilm, kort na Len se vertoning by Park Acoustics waar hy die liedjie vir die eerste keer lewendig opgevoer het. Reghardt, Werner en Nelis Botha van Blimp Films het die video opgeneem en vervaardig.

Die sanger se nuwe vrystelling, volg in die suksesvolle voetspore van sy groot treffer, Vrede, wat gebruik is as die temalied vir die sterbelaaide (Bobby van Jaarsveld, Lea Vivier, Sandra Prinsloo, Crystal-Donna Roberts, Reynardt Slabbert en Solomon Cupido) kykNET sitkom, Mense Mense, wat in Maart 2018 op die kassie begin wys het. Die musiekvideo, wat ook as bemarking vir die program gebruik is, is reeds deur meer as 33 000 mense op YouTube gekyk en die enkelsnit het bo-aan die treffersparades van verskeie groot radiostasies gekuier. Die lied, wat geskryf is geskryf in samewerking met Roan van As en Raldo Mattheus, is by verre een van die kunstenaar se gewildste enkelsnitte en is gesamentlik al deur meer as 60 000 luisteraars afgelaai en geluister op Apple Music, Shazam en Spotify. Dit verskyn ook twee keer op die lys van die Top 10-mees gestroomde Afrikaanse liedjies op Len se aanlyn-platforms.

Sterrewals, wat in die laaste kwartaal van 2018 uitgereik is, is net so goed ontvang en is ’n nostalgiese liefdesballade wat hy vir sy vrou, Chanél, geskryf het nadat hulle getroud is. Vrede en Sterrewals is albei geneem vanaf sy tweede album, Oog Van Die Storm, wat in 2017 uitgereik is.

Dié album het verskeie radio- en televisietreffers opgelewer, waaronder die goedvoel-liedjie Ek Glo, wat ongelooflik goed ontvang en het verskeie weke op die nommer een posisie van verskeie treffersparades gekuier. Die musiekvideo is ook reeds deur duisende mense op sosialemedia gekyk. Sing vir Sente, die tweede lied wat hy saam met Faraway George geskryf het en ook die tweede enkelsnit vanaf dit album, is in Junie 2017 uitgereik en kan steeds gereeld oor die radio gehoor word.

Len se debuutalbum, Doodgewone Avontuur, wat in 2015 uitgereik is, het hom amptelik aan die musiekbedryf bekendgestel en heelwat treffers en benoemings (Ghoema- en Tempo-benoemings vir Manlike Kunstenaar van die Jaar en Nuweling van die Jaar) opgelewer. Sedertdien het hierdie sangsensasie ’n prominente plek in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers. Hy is veral bekend vir die gewilde duet, Vir Die Een Wat Geval Het, wat hy saam met Joshua na die Reën vrygestel het en Smag na Jou, wat gebruik op die klankbaan van die romantiese komedie, Strikdas.

Oor die afgelope paar jaar het Len nie net die verhoog met groot name soos Matthew Mole, Francois van Coke, Straatligkinders, Jan Blohm, Bok van Blerk, Dans Dans Lisa, Chris Chameleon, Jak de Priester, Andriëtte Norman, Dan Patlansky en Kaleidoskoop gedeel nie, maar homself ook gevestig as liedjieskrywer.

Die kunstenaar was ook, saam met Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds, deel van die betowerende reeks musiekkonserte, Musiek Soos Grond, wat in Mei 2019 by Villa Avianto in Bloemfontein en The Big Red Barn in Pretoria plaasgevind het. Hierdie reeks is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en is daarop gemik om vir kontemporêre kunstenaars ’n platform te gee om hulle hoendervleismooi lirieke, ware lewensverhale en veelsydigheid op die verhoog te deel. Die konsep is ongelooflik goed ontvang en daar is reeds aanvraag na ’n herhaling van hierdie vertoning. Lugballon, ’n enkelsnit en musiekvideo deur al die kunstenaars wat deel was van die konsert om dit te bemark, kan tans op verskeie gewilde platforms gesien en gehoor word.

Op 31 Mei 2019 word Len se nuwe kortspeelplaat (EP) vrygestel en die sanger is baie opgewonde hieroor omdat dit hom die geleentheid gegee het om ’n meer organiese produk, wat nie oorvervaardig is nie, op die rak te sit. Die album bestaan uit vyf van sy bestaande treffers, waarvan sy nuutste enkelsnit een is. “Ek wou al baie lank van my musiek lewendig en akoesties laat opneem, met net die regte instrumente soos die tjello, banjo, ukelele, akoestiese kitaar ensovoorts,” vertel hy. “Hulle sê dat masjiene musiek in die toekoms perfek gaan maak en dat mense nie meer sal nodig wees nie. Maar ek voel dat menslikheid en emosie in musiek dit juis besonders maak, al breek daar ’n snaar êrens in die middel – want net soos wat ons foute maak, is daar ook foute in musiek.”

Hy deel verder: “Dis nou sewe jaar vandat ek die besluit gemaak het om voltyds in musiekbedryf te werk. Twee solo-albums later, weet ek nogsteeds nie altyd of dit die regte besluit was nie. Wat ek wel glo, is dat hierdie deel van my passie en roeping is. Om musiek te maak om in die kommersiële mark te pas werk nie vir my nie, want ek kom agter dat luisteraars my eie werk en styl meer waardeer. Ek wil nie voel dat ek met ander kunstenaars moet meeding vir die spreekwoordelike kollig nie. Elkeen moet tog ’n plekkie hê sonder om in kompetisie te wees, omdat dit nie eintlik oor die individu gaan nie. Ek wil help bou aan die onderstebo-koningkryk waar die laaste eerste is, die kleinste die grootste of belangrikste is en wie die minste het eintlik die meeste het… In hierdie koningkryk het almal ‘oorgenoeg’.” 

OORGENOEG is nie net die perfekte lusmaker vir Len Muller se nuwe album nie, maar ook ’n inspirerende liedjie wat die potensiaal het om ’n verskil te maak in ’n land waar daar so baie mense is wat swaarkry en is op alle digitale platforms beskikbaar.  Kry die liedjie nou hier: http://ditto.fm/oorgenoeg

LIEDJIES OP DIE KORTSPEELPLAAT

1. Nuwe Horison (Akoesties)

2. Ek Glo (Akoesties)

3. Sing vir Sente (Akoesties)

4. Oorgenoeg (Radioweergawe) 

5. Verdwyn (Akoesties) 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/lenmuller1/?fref=ts
Twitter: @lenniemuller
Instagram: @lennie.muller
Webblad: www.lenmuller.co.za
YouTube: www.youtube.com/lenniemuller
SoundCloud: www.soundcloud.com/lenmuller

BESPREKINGS

E-pos: [email protected]  / [email protected]

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies
Gizela Arndt
Sel: 083 399 6869

E-pos: [email protected]
Webblad: www.starburstmusic.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui