fbpx
Len Muller vier familie en samesyn met nuwe enkelsnit!

Len Muller vier familie en samesyn met nuwe enkelsnit!

Len Muller het die wonderlike gawe om jou te laat voel met sy musiek. Partykeer laat sy hoendervleismooi lirieke jou onwillekeurig na ’n snesie gryp … en ander kere laat sy inspirerende klanke ’n warm vrolikheid deur jou are bruis, net soos sy nuutste enkelsnit, HEILDRONK!

“Die lied laat my gelukkig voel en help my onthou dat jy nie alleen deur die lewe hoef te gaan nie. Dis die moeite werd om saam met familie en vriende te stap en nie jouself af te sonder nie … soos ek in die verlede nogal geneig was om te doen,” verduidelik dié blondekop ster oor die goedvoelsnit wat hy saam met Jattie de Beer (met die hulp van Kaleidoskoop se Anique Jordaan) geskep het. 

“’n Mens is armer sonder ’n kerk, familie en gemeenskap. ’n Mens is nie ’n eiland nie …”

Volgens Len was sy skoonfamilie se tradisie om jaarliks ’n groot kuiergeleentheid van die Curriebekerfinaal te maak die inspirasie agter sy nuutste vrystelling. “Die hele familie daag op vir hierdie rugbynaweek en dit is iets besonders vir my,” deel hy. “Alhoewel dit aanvanklik ’n kultuurskok was, is dit nou iets waarna ek uitsien en HEILDRONK is gebore uit die feit dat ek die waarde van gemeenskap en samesyn eerstehands kon sien en ervaar.”

Die musiekvideo, waarin Len se vrou ook te sien is, word op 26 Maart 2020 vrygestel. “Dit was nog altyd my vrou Chanél se droom om eendag met haar trourok (Carike Nel Design) in die see in te dans. Ons wou ook graag ’n paar van ons avonture saam uitbeeld en die video by van ons gunsteling plekke skiet om die intimiteit van die lied uit te beeld,” sê hy. Chanél en Nico Welgemoed was ook die kreatiewe breine agter die beeldmateriaal wat rondom die Kaapse Skiereiland en Valsbaai verfilm is.

https://open.spotify.com/track/2MISgmbFUGZOv0UYXxR2tv?si=00Z_7dEiSN-nJDx9ZAkkFA

Hierdie opgewekte nommertjie volg in die voetspore van OORGENOEG, die kunstenaar se vorige enkelsnit en video waarin hy sy frustrasie oor die armoede in die land uitspreek. Dit is deur Theo Crous van Bellville Studios vervaardig en is sy eerste snit wat op al die radiostasies waarheen dit gestuur is speeltyd gekry het. Dis ook die eerste liedjie wat hy saam met sy sussie, Miemie Blaauw, opgeneem het en haar stem vul syne perfek aan.

Beide snitte vorm deel van sy opkomende album wat tans in die afrondingsfase is en later hierdie jaar vrygestel word.

Sedert Len sewe jaar gelede met sy sololoopbaan begin het, was daar voorwaar baie hoogtepunte op sy pad. Hy het nie net die geleentheid gekry om saam met groot name soos Stef Bos te werk nie, maar ook om sy eie kortspeelplaat uit te reik met akoestiese verwerkings van sy bekendste liedjies.

Verder was by ook bevoorreg genoeg om die verhoog met groot name soos Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Musiek Soos Grond, Francois van Coke, Straatligkinders, Jan Blohm, Bok van Blerk, Chris Chameleon, Jak de Priester, Andriëtte Norman en Dan Patlansky te deel en homself as liedjieskrywer te vestig.

Sy treffer, VREDE, is gebruik as die temalied vir die sterbelaaide (Bobby van Jaarsveld, Lea Vivier, Sandra Prinsloo, Crystal-Donna Roberts, Reynardt Slabbert en Solomon Cupido) kykNET-sitkom, Mense Mense, wat in Maart 2018 op die kassie begin wys het. Die liedjie is in dieselfde jaar benoem vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning vir Liedjie van die Jaar.

STERREWALS, wat in die laaste kwartaal van 2018 uitgereik is, is net so goed ontvang en is ’n nostalgiese liefdesballade wat hy vir sy vrou geskryf het nadat hulle getroud is. VREDE en STERREWALS is albei geneem vanaf sy tweede album, Oog Van Die Storm, wat in 2017 vrygestel is, in 2018 benoem is vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning (Kontemporêre Album van die Jaar) en suksesvolle snitte soos EK GLO en SING VIR SENTE opgelewer het.

Len se debuutalbum, Doodgewone Avontuur (2015), het hom amptelik aan die musiekbedryf bekendgestel en vir hom heelwat treffers en benoemings (Ghoema- en Tempo-benoemings vir Manlike Kunstenaar van die Jaar en Nuweling van die Jaar) losgeslaan het. Sedertdien het hierdie sangsensasie ’n prominente plek in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers. Hy is veral bekend vir die gewilde duet, VIR DIE EEN WAT GEVAL HET, wat hy saam met Joshua na die Reën vrygestel het en SMAG NA JOU , wat gebruik op die klankbaan van die romantiese komedie, Strikdas.

Deesdae woon die musikant in die Kaap en voel hy bevoorreg om elke dag op sy branderplank af te skop. Buiten vir sy nuwe album, het hy onlangs ’n nuwe agentskap begin wat ander kunstenaars bestuur, soos Danie du Toit (Reënwolf), en vir hulle toere reël. Hy is ook besig om liedjies vir Caroline Grace en Kurt Darren te skryf. Die kunstenaar is ook lid van die musiekbeweging, Musiek Soos Grond, saam met Joshua na die ReënKaleidoskoopLeon GroppLizandra Winter en Liani Reynolds,wat in 2019 gestig is.

HEILDRONK is ’n lekkerluistertreffer wat voortbou op die unieke Afrikaans-Akoestiese Folk-styl waarvoor Len Muller bekendheid verwerf het. Dit stel nie net sy vaardighede as liedjieskrywer en musikant behoorlik ten toon nie, maar nooi jou ook uit om spontaan saam te sing en met nuwe oë na die mense in jou lewe te kyk. “Ek dink die liedjie sal aanklank vind by alle ouderdomme en dat dit belangrik is om mense te herinner om nie familie, vriende en samesyn as vanselfsprekend te aanvaar nie,” sê hy.

Hierdie liedjie is op alle digitale platforms hier beskikbaar:  https://ditto.fm/heildronk

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Twitter, Instagram

Webblad: www.lenmuller.co.za

YouTube: www.youtube.com/lenniemuller

SoundCloud: www.soundcloud.com/lenmuller

BESPREKINGS

E-pos: [email protected]  / [email protected]