fbpx
LONELY TOGETHER deur Ziya sal jou tussen die oë tref

LONELY TOGETHER deur Ziya sal jou tussen die oë tref

LONELY TOGETHER, geskryf deur Ziya (oftewel Jana Viljoen) sal, wanneer jy vir ’n oomblik gaan stilstaan en ’n klein bietjie minder op jou eie omstandighede fokus, jou tot die besef bring dat daar baie mense is wat alleen voel, veral die gesinne en persone met spesiale behoeftes. Die woorde van hierdie aangrypende lied, LONELY TOGETHER, sal jou tussen die oë tref: ‘To you it’s the new normal, to me it’s just another day’ (Vir jou is dit ’n nuwe normaal, maar vir my is dit net nog ’n dag’). 

Lonely Together Ziya Album Art

Inperkingsmaatreëls word stadigaan, regoor die wêreld, verslap en mense sukkel om aan te pas by ’n ‘nuwe normaal’, maar met hierdie lied plaas Ziya hierdie situasie in die kollig… maar vanuit die perspektief van kinders met spesiale behoeftes en hulle gesinne. Het jy al ooit daaraan gedink hoe eensaam hierdie kinders en gesinne kan wees? Het jy al ooit daaraan gedink dat inperking nie eens vir hulle iets “nuut” was nie?

Ziya, ’n Suid-Afrikaanse musikant, komponis, liedjieskrywer en die mede-stigterslid en ’n direkteur van die Brain Child Fund woon tans in Philadelphia in die VSA, saam met haar man – Hannes – en hulle vier kinders. Die idee vir die liedjie is gebore uit ’n gesprek wat die sangeres met ’n ma gehad het wat deel is van die Brain Child Fund-netwerk. “Ek het gevra hoe dit met hulle gaan gedurende inperking. Sy het geantwoord dat dit nie anders is as waaraan hulle gewoond is nie. Hulle seun het ’n verswakte immuunstelsel, wat beteken dat hulle nooit êrens heen kan gaan nie,” verduidelik die musikant wat self die ma is van drie kinders wat spesiale behoeftes het.

“Die liedjie fokus daarop dat daar baie mense is wat alleen voel, al is hulle nie in afsondering nie. Dit gaan daaroor dat ons almal eintlik maar dieselfde is,” sê die liedjieskrywer. “Gedurende inperking was ons almal in dieselfde oseaan van onsekerheid – ons was saam eensaam. Dit het klem geplaas op ons behoefte om liefde te gee en te ontvang.”

“Die essens van die liedjie is dat alhoewel COVID-19 ’n ‘nuwe normaal’ kom skep het waarin mense vasgevang voel, baie van diegene met spesiale behoeftes elke dag vasgevang voel in hulle eie liggame. Vir hulle is dit net nog ’n dag. Hierdie ongelooflike siele en mense, met hulle gedagtes en drome, voel net so vasgevang in hulle lywe as wat ons voel as gevolg van inperking.”

Kyk LONELY TOGETHER hier:   https://youtu.be/64xwEiSEE9M

LONELY TOGETHER vorm deel van ’n projek met die naam Voice of the Speechless(VOS), wat die musikant se passie vir musiek en liefde vir diegene met spesiale behoeftes kombineer. VOS is ’n veldtog deur die Brain Child Fund, ’n nie-winsgewende organisasie wat gesinne met spesiale behoeftes bystaan. Dit is in 2009 deur Ziya en haar man gestig.

“VOS is ’n sosiale bewusmakingsinisiatief wat van opvoedkundige vermaak gebruik maak om bewusmaking te skep en die stigma rondom diegene met verstandelike gestremdhede uit te skakel, met behulp van musiek en video’s,” verduidelik Ziya. Die projek is regtig die eerste van sy soort – dit vang die geluide, omgewing, leefwyse en stories van kinders met spesiale behoeftes vas en gee dit weer met behulp van musiek en beeldmateriaal. Die doel is om vir kykers te wys hoe hierdie kinders, uit verskillende lande en agtergronde, se lewens lyk.

LONELY TOGETHER is die eerste snit in ’n reeks liedjies wat sy in ’n visuele album gaan omskep – ’n konsep waar daar ’n video saam met elke liedjie vrygestel word, in samewerking met gesinne en ander musikante van regoor die wêreld. Die projek, in geheel, sal dan as ’n kort dokumentêr dien om bewusmaking te skep oor die lewens van kinders met spesiale behoeftes.

Die kunstenaar se oorspronklike plan was om Suid-Afrika toe te reis en video-opnames te doen by verskillende gesinne wat kinders met spesiale behoeftes het. Die idee was om ’n dag in hulle lewe weer te gee. COVID-19 het egter hierdie plan in die wiele gery. “Ek het toe besluit om die projek op ys te sit. Dit was totdat ek met daardie ma gesels het en die lirieke begin vorm aanneem het. Ek het besef dat die tyd reg was om hierdie storie te deel,” sê sy.

“Ek het besef dat die meeste mense slimfone het en dat daar nie ’n beter manier is om iemand se daaglikse lewe te ervaar as deur tuisvideo’s nie. Ek het toe uitgereik na ’n paar gesinne en riglyne verskaf aan die wat gereageer het oor wat ons nodig gehad het. Hulle het die opnames gedoen en vir ons gestuur.”

LONELY TOGETHER sluit agtien gesinne, insluitend Ziya se eie, in van Suid-Afrika, Amerika en Nigerië. “Die proses om hierdie liedjie te skryf, vervaardig en op te neem, was ’n ongelooflike reis,” sê die sangeres. Almal wat deelgeneem het stem met haar saam!

“Ons hoop dat hierdie projek vir mense insae sal gee in die lewens van mense met spesiale behoeftes. Ons inperking het nie met COVID-19 begin nie, dis ’n leefstyl waaraan ons gewoond is,” sê Christy en Shawn van Nigerië, wie se seun ontwikkelingsprobleme het.

Die Amerikaanse paartjie, Joe en Dawn Gallagher en hulle gesin, het ook deelgeneem: “Ons is die trotse ouers van Joe, wat op twee gediagnoseer is met Outistiese Spektrum Stoornis. Vandag is hy ’n gelukkige, liefdevolle en saggeaarde sewe-en-twintigjarige. Sy lewensgeluk en liefde is aansteeklik. Ons probeer elke dag om meer soos hy te wees en om die lewe deur sy oë te sien. Joe kan nie praat nie en gebruik verskeie maniere en geluide om sy gevoelens oor te dra. Ons gesin is so opgewonde  om deel te wees van hierdie projek, want ons weet dat daar geen woorde nodig is nie.” 

Valencia Viviers en haar seun, Jayden, kom van Suid-Afrika en is ook in die video te sien. “Ons het dit regtig geniet om deel te wees van die projek. As gevolg van Jayden, het ek geleer dat daar soveel betekenis in stilte kan wees. Ek verstaan my seun, sonder dat hy nodig het om te praat en VOS maak dit moontlik vir die wêreld om die lewens van kinders met spesiale behoeftes, en hulle gesinne, beter te verstaan.”

Alhoewel Ziya self die liedjie gekomponeer en vervaardig het, het sy die hulp van Nick Costaras (videoredigeerder en mede-vervaardiger) en Chris Letcher (mede-vervaardiger) ingeroep.

“Ek hoop dat die rou emosie van die video kykers se harte sal raak en hulle manier van dink sal verander. Dit is tyd dat almal die mooi in kinders met spesiale behoeftes raaksien,” Ziya.

Gesinne van kinders met spesiale behoeftes, wat graag beeld- of klankmateriaal wil bydra tot dié projek, kan betrokke raak deur die Facebook-blad https://www.facebook.com/vosmovement/ te besoek of ’n e-pos te stuur na [email protected] en sodoende beslis uitvind wat die vereistes is.

Ziya en Hannes Viljoen het vier ongelooflike kinders. Kyna (15) wat ’n beroerte as baba oorleef het, Gian (14) wat Downsindroom en Outisme het, en Leo (12) wat ook op die Outisme-spektrum is. Abigale (11) is haar ouer boeties en sussie se grootste steunpilaar. “Ons kinders se diagnose definieer hulle nie en dis vir ’n ons voorreg om hulle ouers te wees.”

Ziya erken dat sy self oningelig was voordat sy geboorte geskenk het aan ’n kind met spesiale behoeftes. “Ek het nie ’n benul gehad hoe om rondom sulke individue op te tree nie, omdat ek nooit daaraan blootgestel is nie. Daarom verstaan ek dat daar mense is wat ongemaklik voel en dit is hulle wat ek deur middel van VOS wil bereik.”

“Omdat drie van my eie kinders spesiale behoeftes het, is ek altyd opsoek na manier om die wêreld vir hulle – en ander soos hulle – ’n beter plek te maak. Die meeste mense sal nie oor iets lees as dit hulle nie persoonlik raak nie. Hulle sal egter na ’n liedjie luister of ’n video kyk  – narratief en kuns skep ervaringe wat mense aanmoedig om ’n kop skuif te maak, wat dit dus een van die mees effektiewe maniere maak om ’n boodskap oor te dra.”

Die eerste saadjie vir Voice of the Speechless, is in 2010 geplant, sê Ziya. “Ek was besig met terapie in die buitekamer van ’n engel by wie ons gebly het nadat ek en my man alles moes verkoop om na ons kinders om te sien. Haar naam is Rosemarie. Terwyl ons op die vloer rondgekruip het, het Gian gestop en na my gekyk. Ek het agtergekom dat hy iets dringend op die hart gehad het, maar dit nie kon kommunikeer nie. Dis toe wat ek vir die eerste keer gedink het – ‘Ek wens dat ek die klanke wat jy maak kon saamweef in musiek en lirieke kon skryf om vir die wêreld te vertel hoe wonderlik jy is. Ek wens ek kon jou stem wees.’”

Agt jaar en ontelbare uitdagings later, het Ziya ’n wiegelied saamgestel wat die voorloper was van die VOS-beweging. “In 2018 het ek myself uitgedaag om ’n honderd liedjies in net so oor ’n honderd dae te komponeer. Ek het dit op Facebook geplaas of tydens lewendige optredes gesing. Die wiegelied wat ek geskryf het, is geïnspireer deur die ouers wat soms deurnag vir hulle kinders se lewens veg. Ek het dit opgelaai voordat ek gaan slaap het. Die volgende dag was daar ’n boodskap van ’n ma wat my bedank het, omdat die liedjie haar deur die aand gedra het. Ek het vir drie dae gehuil en die dag in Rosemarie se buitekamer onthou. Dit was ’n belangrike oomblik – as gevolg van die gesinne waarmee ek deur middel van die Brain Child Fund gewerk het, het dit oor meer begin gaan as om Gian se stem te wees.” 

Ziya was nog altyd versot op musiek en erken dat sy al komponeer en konserthou vandat sy vyf is. Op die ouderdom van twintig, het sy die musiekbedryf amptelik betree, maar meen dat sy te veel van ’n rebel is om met ’n spesifieke platemaatskappy ’n kontrak te teken.

Nie een van haar albums kan as hoofstroommusiek geklassifiseer word nie en sy sê: “Ek wou nog altyd musiek op my eie terme maak. Dit is vir my belangrik om getrou te bly aan myself en die seisoen van die lewe waarin ek my bevind. Ek is ongelooflik dankbaar vir die jong musikante wat destyds Lighthouse Music besit het. Hulle het my potensiaal raakgesien en my aangemoedig om uit my gemaksone te tree.”

Die volgende stap, sê Ziya, is om die album te voltooi – met behulp van ander kunstenaars en individue of gesinne met spesiale behoeftes regoor die wêreld – en om dit saam te weef in ’n dokumentêr wat ’n verskil gaan maak.

“Ek hoop dat hierdie beeldmateriaal vir mense sal wys waardeur sommige gesinne elke dag gaan en dat die VOS-veldtog sal maak dat daar met nuwe oë na hierdie gemeenskap gekyk word. Daar is, op die einde van die dag, nie iets soos ons en hulle nie. Dis net ons.”  

Word ’n stem vir diegene wat nie vir hulleself kan praat nie, deur LONELY TOGETHER vandag digitaal af te laai.

Ons wil graag die publiek nooi om hulle stem by die van die stemloses te voeg. Jou stem maak ’n groter verskil as wat jy dink. Om VOS te help om nog soortgelyke projekte aan te pak, besoek https://www.facebook.com/vosmovement/  om te sien hoe jy ’n skenking kan maak of op ander maniere betrokke kan raak.

SOCIAL MEDIA LINKS

Facebook,Instagram, YouTube

Website: http://voiceofthespeechless.org/