fbpx

Marionetmeester – Krisjan

MARIONETMEESTER is deur die bekende sanger en liriekskrywer Pierre Rossouw geskryf en toe Krisjan dié liedjie die eerste keer hoor, het hy geweet dit is “spesiaal” vir hom geskryf.  “MARIONETMEESTER het ‘n baie diep betekenis. Dit handel oor die diepste menswees; oor jou; jy is hierdie pop (marionet) wat in ‘n verhouding is en deur die ander persoon gemanupileer word. Jy is dan die pop (marionet) en die ander persoon die poppemeester.”

Daar is ‘n tsoenamie in die Afrikaanse musiekbedryf op pad en sy naam is Krisjan. “Sommer net Krisjan”, sê die 21-jarige oopgesigseun van Hartenbos in die Wes-Kaap wat eintlik Johannes Christiaan Leonard gedoop is. “My oupa het begin om my Krisjan te noem,” sê hy.   Dié naam het vasgesteek en voordat hy sy oë kan uitvee is die verhoognaam (en -ster) Krisjan gebore.

Sy sosialemediavolgelinge (veral die ouer dames) sug oor sy blou oë, wyemondglimlag en bas-donderstem wat so salig soos perdehoewe op die grondpad op jou ore val.  “Ek hou ook baie van die tannies. Ek het ook spesiaal ‘n liejdie aan die tannies geskryf,” knipoog hy.

Maar vergeet nou eers van die tannies, dit is sy heel eerste enkelsnit, MARIONETMEESTER, wat die tannies, die ooms, die jeugdiges (en sommer die hele land warm aan die klets het), want Krisjan is dalk net die nuwe generasie se Bobby van Jaarsveld.

“Dit is nou ‘n kompliment wat baie waardeer word, maar ek dink dit is baie belangrik om jou eie unieke stempel op die bedryf af te druk en daar is reeds ‘n Bobby – so hou dop – hier kom Krisjan.”

Krisjan het in die Vrystaat grootgeword, maar het sowat sewe jaar gelede saam met sy ouers na Hartenbos, waar hulle ‘n perdryskool begin het, verhuis.  Daarom was dié jong sanger ook nie verveeld gedurende die grendeltyd nie.”Ek het myself op die plaas besig gehou; trekker gery, plaaswerk gedoen, stalle gebou, en tussendeur aan nuwe liedjies gewerk. “

Hoewel Krisjan eers sowat twee jaar gelede professioneel begin sing het, het sy musiekvideo’s reeds derduisende trefslae op sy Faceook-blad gekry het.  Hy sê hy maak nie sommer net musiekvideo’s omdat hy moet nie; trouens elke musiekvideo het ‘n storielyn. “Ek werk saam met die span van Naak Films.

Ek en Jaak Erasmus beplan saam aan die video’s en dan werk dit net.” MARIONETMEESTER het ‘n lekker klank en ritme en luisteraars se voete sal begin klop as hulle net na die eerste note luister. Tog is dit ook is ‘n baie persoonlike liedjie wat met die luisteraar se hart gaan praat. En na die voete geklop en gedans het, terug te sit en na die lirieke te luister.

SOSIALE MEDIA

Facebook