fbpx
Enkelouer Ma – Gerard Stoop se eerste enkelsnit

Enkelouer Ma – Gerard Stoop se eerste enkelsnit

Die liedjie, ENKELOUER MA, is Gerard Stoop se heel eerste enkelsnitvrystelling. Dit is vroeër die maand vrygestel en het positiewe kommentaar van musiekliefhebbers landswyd ontlok.  ENKELOUER MA deur Gerard Stoop is in ‘n storievertel-trant geskryf en herinner sterk aan die werk van die musiek en -liriek sangers van die laat tagtigs.

Gerard Stoop, ‘n prokureur van Pretoria, het vir ‘n wyle sy regsdokumente eenkant toe geskuif en ‘n liedjie neergepen wat moontlik net ‘n nuwe era in die musiek-en liriekbeweging kan inlui.

Gerard, wat ‘n bekende gesig in die regswêreld is, het in ‘n musikale huishouding grootgeword, maar het teen sy talent en roeping vasgeskop. Hy het wel gedurende sy universiteitsdae in restaurante gesing en kitaar gespeel.

Maar dit is eers hier “in my middeljare,” spot hy dat besluit het om die musiek en liriek talent wat soos goue heuning deur sy familie stroop, te ontwikkel.  Sy suster, Marietjie Stoop, is ‘n bekroonde liriekskrywer wat ‘n vuistevolle treffers vir onder andere Janita Claasen geskryf het.   

Gerard Stoop Enkelouer Ma

Liedjieskryf was nog altyd ‘n droom wat hy diep tussen stowwerige regsboeke weggebêre het. “Ek het dit egter so geniet om die liedjie te skryf dat daar nog baie uit my pen gaan kom.”

ENKELOUER MA is geïnspireer deur dáárdie vroue wat jare lank finansieel en emosioneel moet swoeg om hulle kinders groot te maak. Dit handeloor die rol wat enkelma’s in hulle kinders se lewens speel; om biede die rol van ‘n ma en ‘n pa te vertolk.

Dié tema is ook heel gepas vir die omstandighede waarin duisende Suid-Afrikaanse vroue hulself bevind.

Gerard het besluit om Marietjie se sopraan as agtergrondstem in te span en die eindresultaat is ‘n inspirerende, goedvol-luisterliedjie. “Ek het nog altyd die grootste bewondering en respek vir my suster se talent gehad en dit was ‘n groot voorreg om saam met haar te werk.”  

Gerard verklap dat hy die woorde van ENKELOUER MA sommer in sy motor geskryf het. “Net voor die grendeltyd het ons ‘n 21ste verjaarspartytjie van ‘n vriendin se seun bygewoon Sy het haar kinders alleen grootgemaak en haar waagmoed en durf het my so geïnspireer dat ek gevoel het ek moet ‘n liedjie daaroor skryf,” vertel Gerard. “Ek het besef dat baie vroue hulle in soortgelyke situasies bevind en daarom het ek ook die liedjie aan hulle opgedra. Die wysie het een oggend vroeg in my kop gedraai en ek het dit daar en dan op my selfoon opgeneem.  

Pieter Stanton het die musikale versorging en opname van die liedjie gedoen en die musikant Quentin Pendle was verantwoordelik vir die musikale begeleiding.  

Gerard glo dat hy gebore is om liedjies te skryf en dat elkeen van sy liedjies ‘n storie in die mooiste Afrikaans moet vertel. Met die vrystelling van ENKELOUER MA behaal hy daardie doelwit en hopenlik word hy hiermee ook aan die wyer musiekmark bekendgestel.

SOSIALE MEDIA

Facebook