fbpx
Muller Brandt – MOEDERTAAL

Muller Brandt – MOEDERTAAL

Die toekoms van Afrikaans is deesdae ’n onderwerp wat baie aandag geniet en vir diegene wat passievol is oor hulle taal en kultuur, is dit ’n saak waarvoor hulle sal veg tot die bitter einde.

Hierdie passie is presies wat die musikant en liedjieskrywer, Muller Brandt, se eerste Afrikaanse enkelsnit, MOEDERTAAL, geïnspireer het en hy wil graag hê dat dit die nodige emosie by luisteraars moet ontlok.

“Afrikaans word meer as ooit bedreig en ons kan nie agteroor sit en kyk terwyl ons taal van ons af weggevat word nie. Ons moet baklei en opstaan vir ons moedertaal,” verduidelik die sanger. “Ek is lief vir ons taal en kan nie myself ’n toekoms voorstel waarin my kinders en kleinkinders nie weet wat Afrikaans is nie. Ek gebruik my stem en talent om ’n bydrae te maak.” 

Volgens Muller, wat dié treffende snit saam met Douvoordag se Jattie de Beer geskryf het, kan dit beskryf word as ’n eg patriotiese liedjie, met lirieke wat met die hart praat. “Dit gaan luisteraars herinner aan hoe belangrik hierdie saak is en dis hoekom hulle dit gaan geniet.”  

Jattie de Beer was ook die regisseur van die besonderse video wat in Hartebeespoortdam deur AGP Media verfilm is.  “Ek wou die boodskap van die lied op ’n eenvoudige manier kommunikeer deur ’n gesprek te voer met die kamera. Ek voel dat dit juis hierdie eenvoud is wat dit maklik maak om op die lirieke te fokus,” deel hy.

MOEDERTAAL is die eerste vrystelling vanaf sy komende album, Brand die Skepe, wat in September 2022 vrygestel word en hy sien uit daarna om hierdie juweel met die publiek te deel.

Muller Brandt het in Pretoria grootgeword en is reeds twaalf jaar in die musiekbedryf doenig. Sy pa se liefde vir country-musiek het sy passie vir sing laat vlam vat en hy het nog nooit afgewyk van sy droom om ’n voltydse sanger te wees nie.  

Dié dertigjarige kunstenaar meen dat Theuns Jordaan die grootste invloed gehad het op sy eie styl, maar vind ook aanklank by musikante soos Kris Kristofferson, Johnny Cash, Elvis Presley, Boney M, Bryan Adams, Bon Jovi, John Mellencamp, Neil Diamond en Luke Combs.

“Goeie talent, gemeng met goeie karakter is die sleutel tot ’n lang en gesonde loopbaan. Mense inspireer my nie met talent nie, maar met goddelike karakter,” sê hy. “Ek beskou myself as ’n denker en dit het my lank gevat om nie alles te oordink wanneer dit by skryf kom nie. Alles wat jy skep hoef nie diep te wees nie. Alhoewel die meeste van wat ek skryf aan die dieper kant is, glo ek dat musiek se krag van so aard is dat selfs die ligste liedjies ’n mens kan laat beter voel. As iets werk, dan werk dit. As ek dit sing en dit voel reg, dan sing ek dit.” 

Die musiekbedryf het vir dié veelsydige sanger geleer dat jy jouself kan verloor as jy nie weet wie jy is nie, dat jy jouself nie met ander moet vergelyk nie en dat jy nooit moet vergeet wat regtig belangrik is nie. MOEDERTAAL beklemtoon hierdie sentiment en is een van daai liedjies wat jou sal bybly lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.  

Die liedjie is nou op alle digitale platforms beskikbaar. Kry dit hier: https://MullerBrandt.lnk.to/Moedertaal

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram