fbpx
VatVas Dansorkes – KITAAR VERLANGE

VatVas Dansorkes – KITAAR VERLANGE

“Dansmusiek is om op te dans. Ons musiek het ’n bietjie van ’n boereorkes aanslag, maar dit is nie só tradisioneel nie,” vertel die musikante van die bekroonde VatVas Dansorkes nadat hulle die afgelope week hulle nuutste enkelsnit KITAAR VERLANGE vanaf hul gelyknamige album KITAAR VERLANGE uitgereik het.  Dit is ook hulle vierde album.  

Die VatVas Dansorkes kan beskou word as een van die beste dansorkeste in Suid-Afrika. Sedert die groep in 2017 gestig is, is al onder meer met ’n Ghoema, – Aitsa!-  en ’n SAMA-toekenning bekroon. Hulle het ook vroeër vanjaar  ’n Afri Indie-toekenning vir die beste boereorkes vir hulle snit KAM IN DIE KOUS  ontvang.

Daar is net iets unieks aan die groep; miskien is dit die rou kitaarklanke óf die vastrap-skoffel-skoffel musiek. Hoe ook al, selfs mense met twee linkervoete sal wil dans as hulle na die groep luister.

KITAAR VERLANGE het ’n amperse weemoedige ritme, maar ook ’n vars kontemporêre klank waarmee heedendaagse musiekliefhebbers mee kan vereenselwig. Die snit handel oor mense wat al lankal oorgegaan het, wat nie meer hier by ons is nie. Ons sal hulle egter altyd onthou.

Die 14-snitte op die CD is wel aanlyn beskikbaar, maar die lede van dié dansorkes het ook besluit om dit in oorspronklike CD-formaat uit te gee. Dit it is wonderlik om weer die harde plastiek onder jou vingers te voel, om jou aan die CD-omslag te vergaap, en dit in jou motor se CD-speler te druk. Om die country-rock kitaar- en tromklanke deur jou venster te laat stroom…

Rudie Grobler, Martin Viljoen, Johan Duvenhage en Koos van Dyk verklap dat daar nog baie mense is wat nog na CD’s luister. “Dit is baie meer persoonlik en mense verkies om ’n album van VatVas in hulle CD-versameling te hê,” sê hulle. “Ons verkoop die CD ook by ons vertonings sodat die publiek met ’n stukkie van VatVas huis toe kan neem.”  

Dié dansorkes het veral in die grendeltydperk bekendheid verwerf nadat hulle die dansende menigtes oor aanlyn laat skoffel en vastrap het.

Terwyl die dansbane van kuierkroeë, skure en stadsale noodgedwonge hulle deure moes toetrek, het die groep hulle Facebook­­-blad gebruik om lewendige konserte te hou. Hulle het destyds gesê dat hulle nie kan wag om weer voor lewendige gehore op te tree nie, en nou is hulle weer terug op die verhoog.

Die musiek op die CD is almal – behalwe vir die snit Kitaar Boogie – oorspronklike Afrikaanse snitte. wat deur die hoofkitaarspelers Rudie en Johan gekomponeer is.

“Elke lid van Vatvas werk saam aan elke nuwe liedjie wat gekomponeer word. Elke snit word geskaaf tot VatVas-eksieperfeksie,” sê die groep.

Die snitte neem jou op reis na die verlede – na die goeie ou sestigerjare – toe vroue-met-haarsalonkrulle en mans-met-skerppuntskoene op Saterdagaande in klubs geskoffel en geboogie het.  Die boodskap wat die groep met snitte soos Vaaldam toe, Stoute Ogies en Volstruis Vastrap wil oordra is dat solank ons kan dans alles dooddollies is.

Die groepslede bestaan uit verskillende generasies. “Ons musiek is ook vir jonk en oud bedoel. Dit is ook waarom ons musiek ’n country-rock aanslag het. Dit is dansmusiek met ’n ekstra Taekwondo-skop,” sê hulle.

Dié groep lyk ook altyd professioneel op die verhoog en dit is te danke aan hulle stylkonsultant.  Volgens die groep het elke lid hulle eie persoonlikheid en voorkeure, maar hulle wil ook ’n eenheid op die verhoog vorm. “Die klere en kleure word so gekies dat dit elke lid se voorkoms en figuur komplimenteer. ’n Stylvolle uitrusting spreek ook van professionaliteit.”  

Dié manne, almal boorlinge van die Oos-Rand, het sowat vier jaar gelede saam begin musiek maak en sedertdien het dié groep met hulle country, rock ‘n roll en boeremusiek

mense van regoor die land aan die wikkel gekry. 

Rudie en Johan bespeel die elektriese kitare, Martin is op die baskitaar en Koos is op die tromme.

Die CD is ’n musikale meesterstuk. Hou dop, nog ’n paar toekennings is vir die onderskeie snitte op pad.

SOSIALE MEDIA

Facebook