fbpx
Naledi – An African Journey deur Franco Prinsloo

Naledi – An African Journey deur Franco Prinsloo

4.5 out of 5 stars

NALEDI – AN AFRICAN JOURNEY is koraalmusiek wat geskryf en getoonset is deur Franco Prinsloo. Die storie gaan oor waagmoed, avontuurlustigheid en towerkuns, en Naledi (die môrester) se soeke na die Groot Kremetartboom wat die geheime van waarheid en lig toesluit.

NALEDI, wat ook aangebied is as ’n volslae musiekblyspel, dra die universele temas van die Suid-Afrikaanse volke op ’n kontemporêre wyse oor.

Die inspirasie vir die musiek is ’n versameling Suid-Afrikaanse mitologie wat spruit uit die Khoisan-, Ndebele-, Tswana-, Venda-, Seswati-, isiXhosa-, Tsonga-, Sotho- en Zoeloestamme.

In samewerking met skrywers Bonisile Nxumalo, Ingrid Hltaswayo en Hulisani Ndou word hierdie temas toeganklik deur die veeltalige musiek en lirieke.

Die album bestaan uit 46 snitte wat afwissel tussen musiek en storievertelling. Die storievertelling komplementeer die musiek en laat die luisteraar toe om te deel in die multikulturele ervaring van die Suid-Afrikaanse kulture en tale.

https://open.spotify.com/album/2tEmGVPzZWEeJ2FV2HRhrA?si=9jicMRf_T2KvwFl13sXGgw

Prinsloo is ingeroep deur die SAY MAD Foundation om koormusiek te komponeer wat die unieke kultuur van Suid-Afrika kon weerspieël. Met ’n populasie van bykans 56-miljoen mense en elf amptelike tale was hierdie nie ’n maklike taak nie. Dan bevind die land hom boonop in ’n sensitiewe politieke situasie.

Die uitdaging het daarin gelê dat Prinsloo ’n universele storielyn moes kry wat nie onder sy eie of enige ander persoon se subjektiewe interpretasie van die Suid-Afrikaanse kultuur lê nie.

Hy het die oplossing gevind deur nie op ’n sekere kultuur te fokus nie, maar eerder te soek na waar die tale konsepte uitruil.

Die lied NAMING THE STARS is ’n voorbeeld hiervan – nege van die elf tale gebruik die woord “ster”. Engels is as die taal vir storievertelling gekies en het die taak om oor die taalgrense te beweeg vergemaklik.

Die album is waarlik ’n samesmelting van Suid-Afrikaanse musiekstyle en sluit Kwêla, Jive, Slaapliedjies, Dreunsang en ook ’n Afrikaanse lied getiteld LUISTER NA DIE NAG in.

Die koormusiek is voortreflik en die vertolking deur die Vox Chamber Choir is meelewend. Indien jy ’n koormusiekaanhanger is, wil jy nie hierdie album oorsien nie. 

Vir die lied LEFATSE LE MONATE (LIFE IS GOOD) is die Universiteit van Pretoria se Jeugkoor ook ingekry om die lied daardie ekstra spesiale kleur te gee.

Die album is tans op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.

SOSIALE MEDIA

Franco Prinsloo: Facebook
Vox Chamber Choir: Facebook