fbpx
Jerry Jamn en Mariné Moffat deel hul harte met SY DAGBOEK

Jerry Jamn en Mariné Moffat deel hul harte met SY DAGBOEK

SY DAGBOEK is die splinternuwe enkelsnit van Jerry Jamn en Mariné Moffat. Die musiekvideo is op Hartenbos geskiet en was op 15 Januarie vrygestel. Die treffende lied speel reeds op verskeie radiostasies regoor die land. Dit beloof om grense te verskuif en luisteraars uit te daag om oop te wees vir nuwe dinge.

Jerry is bekend vir sy betrokkenheid by Marcato (wat al meer as 10 jaar bestaan) en die EON groep. Nadat hy een aand vir Mariné hoor optree het, het hy besef hulle stemme sal goed harmoniseer en haar genader om ’n liedjie saam met hom op te neem.

Dié eerste enkelsnit saam gaan oor die alledaagse lewe en mense wat leeg is aan die binnekant maar tog te hardkoppig is om oop te maak vir bietjie liefde, raad en ondersteuning.

Dit gaan oor iemand wat besluite begin maak vir hulle toekoms na hulle foute van ander gesien het. Die pragtige lirieke en stemkombinasie van die sangduet word afgerond deur die klanke van ’n akoestiese kitaar.

SY DAGBOEK se lirieke bevat ’n positiewe boodskap met woorde wat die twee sonder veel moeite kon opdiep vanuit hulle harte. Jerry het ’n idee gehad oor wat hy wil bereik met die liedjie en nadat hy die akkoorde vir Mariné gespeel het, het hulle begin neerpen. Mariné dig graag en het van haar gedigte gebruik as inspirasie vir die lirieke.

Jerry se liefde musiek het, volgens oorlewering, begin voordat hy sy eerste woorde gepraat het. Hy het sy “debuut” op ’n batteryklawerbord gemaak, waarna sy oupa se konsertina gevolg het. “Ek het in graad 10 begin om naweke saam met vriende op te tree en van daar af het dit nooit opgehou nie,” sê Jerry.

Met Jerry se NQF 3 in kitaar is die musiekwêreld nie vir hom iets nuut nie. Hy deel graag dat hy saam bekendes soos Valiant Swart, Mel Botes, Piet Botha, Ghapi, MD Greyling, Pieter Smith en nog vele meer ’n verhoog gedeel het. Hy was ook deel van Duncan Faure se musiekgroep tydens sy toer in Suid-Afrika.

Jerry glo die publiek gaan die musiek geniet en is opgewonde oor die verwesenliking van sy droom om ’n akoestiese lied saam met ’n dame te sing. Mariné vertel “Vir my gaan die liedjie oor iemand wat op ’n plek in hulle lewe is en moet besluit waar hulle wil wees en waarheen hulle wil gaan geloofsgewys, toekomsgewys …”

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram