Heidi – Die lang wag is verby!

Heidi – Die lang wag is verby!

Eers moes ons nege maande lank wag vir die koms van hierdie sprankelende Vrystaat-meisie (Zastron) met die naam, Marli. Nét om weer nege maande later te hoor haar naam is verander na Heidi.

Daarna moes ons weer wag, die keer vir tyd. Tyd vir Heidi om boeremeisie te speel, te groei en haar smeulende, egte Country-stem te ontwikkel.

Die wag was toe nog nie verby nie … Ons moes Heidi nog tyd gee om haar eerste album op te neem en haar voete te vind in die baie kompeterende Afrikaanse Musiekbedryf. Maar met Vrystaatwater wat in haar are loop en haar borrelende, lewenslustige persoonlikheid, steel sy harte.

Haar debuutalbum, WAT ’N HART LAAT LAG, val dadelik op die Ghoema-tafel en kry ’n benoeming as “Beste Popalbum deur ’n Vroulike Kunstenaar”!

Heidi

Die wag is nou verby en Heidi stel haar nuutste enkelsnit, ’n HELE WEEK vry. Die trefferlied is spesiaal vir Heidi geskryf deur die befaamde Johan Oberholzer. Behalwe vir die ligte Country-styl in haar stem, weerspieël dit nie noodwendig die lied as ’n Country-lied nie. Dis modern en vars soos net Johan dit kan doen en ons glo dit gaan baie op die dansvloere gehoor word ook.

Behalwe vir aansteeklike melodië, is daar diepte weggesteek wat op ’n ligte manier verpak is in die enkelsnit. ’n HELE WEEK is ’n egte liefdeslied wat oor tyd gaan. Twee mense wat uitsien na elke dag van die week, wat wag vir elke geleentheid wat hul saam kan deurbring.

Dit is op ’n speelse manier geskryf met elke dag van die week as ’n saam-ding-doen tema. Hierdie lied sal aanklank vind by elkeen wat weet wat die liefde aan jou kan doen.

Heidi se sprankelende persoonlikheid bars dwarsdeur haar uiterlike skoonheid. Sy het alles wat dit vat om een van ons land se nuwe name op almal se tonge te word.

Ons moes wag vir ’n ster om gebore te word. En hier is sy met ’n trefferlied wat die uitsien, opgewondenheid, en ook die gewag vir liefde lekker maak. ’n HELE WEEK gaan meer as net ’n week lank boer op die treffersparades vir 2020.

Die gewag is verby – Heidi is hier om te bly!