fbpx
Nuwe enkelsnit vir RNK, ALLES VIR MY.

Nuwe enkelsnit vir RNK, ALLES VIR MY.

Op die omslag van dié enkelsnit ALLES VIR MY sit ‘n paartjie. Die man het ‘n ruie baard en ‘n geskeurde-hoogs-modieuse denim aan. Sy arm gemaklik om die blonde vrou wie se hand liggies op sy been rus.  

Alles vir jou en alles vir ons, sê die duopaartjie RNK se Reinhard en Karin Herbst, wat al sedert skooldae hopeloos verlief op en verlore in mekaar is. “Hy het voor die skoolsnoepie gestaan en my knieë het lam geword,” spot Karin oor Reinhard, haar man. Vandag is ek die ma van sy drie seuns en nou ook sy sangmaat. “Ons wou al lankal so intieme fotosessie saam gehad het, daar het soveel magic gebeur wat ons net moes vasvang,” deel hulle oor dié treffende omslag.  

Die duo het sowat drie jaar gelede begin naam maak met hulle treffers Springbok Pronk en Nashville in Afrikaans. Die nuwe enkelsnit is ‘n verrassing en  totaal en al anders as enige van hulle vorige enkelsnitte. Al die liedjies word deur die bekroonde Byron Kuntz in Australië vervaardig. Byron het ‘n groot passie vir RNK se musiek ontwikkel en sien uit na wat die toekoms inhou.

ALLES VIR MY is ‘n eg Afrikaanse mengelmoes van liefdesklankle, amper ‘n baldadige ballade, opgedra aan die liefde. “Ons glo daar is ‘n dieper boodskap in die liedjie as wat die blote oor kan hoor. Ons vertrou dat die liedjie mense wat uitmekaar gedryf het weer bymekaar sal bring,” verklap Karin oor dié liedjie.

ALLES VIR MY is saam ‘n vriend van die paartjie, Kenny van Zyl, geskryf. “Die melodie het sommer natuurlik gekom. Ek het ook die koorgedeelte van die liedjie herskryf,” sê Reinhard. Die koorgedeelte … ‘n belofte wat sal bly… is ook vir hulle ‘n belofte wat hulle aan mekaar gemaak het. “Ons is baie erg oor mekaar,” koer Karin. “ALLES VIR MY gee ‘n boodskap oor die liefde en hoe ‘n mens daardie een persoon vind wat jou voltooi. Daardie gevoel as ‘n mens lank getroud is (en baie kinders het), en jy weet wat jy in jou lewensmaat het, is onbeskryflik.”  

Luister hier

‘n Mens moet ook nie dink hulle is Suid-Afrika se nuwe weergawe van Min Shaw en Lance James Lance of Die Lieflinge nie. Dié twee is net anders; Karin se stem is soos ‘n ligte chardonnay en Reinhard sin ‘n donkerder versnit. Saam is hulle landgoedwyn!

“Die naam Lieflinge was klaar gevat,” spot Karin oor hoe hulle groep se naam ontstaan het.  “Ons het op ‘n plattelandse dorp grootgeword en het so saam-saam om braaivleisvure en by dorpkonserte gesing. Die organiseerder van een van ons eerste vertonings het gevra wat is ons groep se naam. Ons het toe nog nie ‘n naam gehad nie en ons het sommer gesê sy moet ons adverteer as R&K. Sy het toe RNK gehoor en so is die naam gebore,” vertel Karin.

En oor daardie baard van Reinhard, wat vir oom Paul Kruger sou laat bloos, sê Reinhard: “Ek wou my baard al ‘n paar keer afskeer, maar Karin keer. Ek dink sy laaik my baard.”  

Die duetpaartjie is soos sagte reën na ‘n lang musiekdroogte en met dié enkelsnit gaan RNK ‘n paar nuwe musiekharte verower.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook
YouTube