fbpx
One Voice slaan wéér asems weg met gewilde Jonas Brothers-treffer!

One Voice slaan wéér asems weg met gewilde Jonas Brothers-treffer!

Die plaaslike meisiegroep, One Voice, het nou maar net die ongelooflike gawe om ’n bestaande treffer hulle eie te maak en te omskep in iets waaroor luisteraars gaande is. Gedurende Desember 2019 het hulle aanhangers verras met hul eie weergawe van die Little Mix treffer, SECRET LOVE SONG wat reeds ’n paar duisend kyke aanlyn gekry het. Nou gaan hulle vir seker hulle aanhaners verder wegblaas met hulle eie weergawe van die gewilde Jonas Brothers-treffer, SUCKER!

Die musiekvideo is verfilm deur Shaun en Madeleine McCreanor van McCrea Media in Ons eerste Volksbank op Kerkplein in Pretoria. Dit bou voort op die opwindende gevoel van verlief wees. “Ons wou graag met die video probeer om elke toeskouer te laat voel soos die persoon waarop iemand verlief is. Daarom maak ons oogkontak en sing ons direk in die kamera in,” verduidelik hulle.

“Alles is eenvoudig gehou en daar is meer op die gevoel gefokus as op die agtergrond. ’n Ou houtdeur met paneelwerk agter ons het wel gehelp om ’n nostalgiese gevoel te skep van daai dae toe almal nog jonk en verlief was.”

Kyk Video hier:

SUCKER is een van die snitte op hulle selfgetitelde debuutalbum en is ’n groot gehoorgunsteling tydens hulle lewendige optredes. Daarom het hulle besluit dat die tyd reg is om die enkelsnit en musiekvideo met die res van die land te deel!

“Die liedjie vertel die verhaal van iemand wat hulpeloos is teen sy liefde vir iemand anders. Die persoon is vasberade om sy lewe saam met sy sielsgenoot deur te bring, ten spyte van haar onvolmaakthede,” verklap die meisies oor die betekenis agter dié popsnit waaroor hulle self mal is.

“Ons verwag dat wanneer mense ons weergawe hoor hulle aangenaam verras sal wees, aangesien ons ’n bekende liedjie gevat het en ons eie unieke weergawe daarvan gemaak het. In ons weergawe bied ons ook die boodskap aan vanuit ’n vroulike perspektief en dit maak ’n groot verskil.”

Oor die sukses van hulle vorige video, SECRET LOVE SONGsê hulle: “Dit is ons gunstelingliedjie deur Little Mix en ons is baie tevrede met die terugvoer wat ons sover gekry het. Ons is ook baie trots daarop dat die video binne 24 uur deur meer as ’n duisend mense gekyk is.” DROOMPLANEET, hulle eerste enkelsnit, het net so goed presteer en kan steeds oor die radio gehoor word.

Tans is die groep besig om te werk aan oorspronklike musiek vir hulle volgende album, en om konserte en optredes vir die res van die jaar te beplan. “Ons wil graag hierdie jaar ook begin teruggee aan die gemeenskap. Aanhangers kan dus ons sosiale media dophou vir nuwe en opwindende dinge,” vertel hulle opgewonde.

One Voice is ’n vars briesie in die Suid-Afrikaanse musiekmark en met liedjies soos SUCKER bewys dié meisiegroep dat daar ’n blink toekoms op hulle wag – plaaslik en internasionaal.  

Hierdie liedjie is hier beskikbaar op hulle selfgetitelde debuutalbum, One Voice: Apple

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Instagram

Webblad: www.onevoice.co.za

BESPREKINGS:
E-pos: [email protected]