Rooksein tree uit hulle gemaksone met nuwe enkelsnit!

Rooksein tree uit hulle gemaksone met nuwe enkelsnit!

Rooksein maak al opslae vandat hulle in 2018 saam begin optree het. Sedertdien, het dié talentvolle driemanskap vier suksesvolle liedjies opgeneem en op dieselfde verhoë verskyn as groot name soos Francois van Coke, Sunset Sweatshop, Shortstraw, Bouwer Bosch, Brendan Pyper, Almero, Appel, Theuns Jordaan, Deon Groot, Dewald Wasserfall en Tussen Sterre.

Nou is die groep terug in die kollig met ’n splinternuwe enkelsnit, ONTHOU JY DIE DAE, wat hulle musiek in ’n totaal nuwe rigting gaan stuur!

ONTHOU JY DIE DAE gaan oor die skokkende realiteit dat daar deesdae baie verneuk word binne verhoudings. Dit is geskryf vanuit die perspektief van iemand op wie daar verneuk is, wat met die sondebok praat en hom of haar herinner aan hulle goeie tye saam,” verduidelik Renier van der Westhuizen. “Ons musiek het nog altyd die waarheid vertel, hetsy goed of sleg, en alledaagse gebeure inspireer ons om liedjies te skryf.”

Alhoewel die snit steeds eie is aan die akoestiese Folk-klank waarvoor hulle bekendheid verwerf het, spog dit ook met ’n vars en opgewekte Pop-Rock-aanslag wat beslis die publiek gaan beïndruk. “Hierdie was ons uit-die-boks-uit-liedjie en ons het probeer om iets anders te doen as gewoonlik. Dit was ’n strategiese keuse, omdat dit aan die radio uitgereik word en ons graag wil hê dat dit mense aan ons ander musiek moet voorstel,” sê Renier. “ONTHOU JY DIE DAE is verfrissend anders en ’n liedjie wat lekker luister en waarop jy kan saamsing. Die lirieke is diep en betekenisvol en ’n pleidooi dat die persoon waarvoor jy lief is nie jou hart moet breek nie, wat by almal aanklank vind.

ONTHOU JY DIE DAE volg in die voetspore van hulle vorige enkelsnitte, KYK NA MY HART, KRAG, WOORDELOSE STORIE en ROOKSEIN, wat elkeen baie goed ontvang is en vir hulle reeds ’n hele paar aanhangers ingepalm het.

Rooksein is ’n Potchefstroomse musiekgroep, wat bestaan uit Megan Danner, Dian André Maritz en Renier van der Westhuizen. Die groep is deur Renier gestig, omdat hy graag professioneel wou begin optree, maar nie kans gesien het om dit alleen te doen nie. Hulle het by die Pukkie Talentfees ontmoet en mekaar van daar af beter leer ken. Aanvanklik het Renier en Megan saam met ’n ander groeplid as Finding Forever opgetree en die gehoor gaande gehad na ’n open mic-aand by Texas Rock Bar. ’n Paar maande daarna het Dian by hulle aangesluit, en het dinge behoorlik begin vlamvat.

“Rooksein is moeiteloos. Ons werk net as ’n groep saam en is drie vriende wat baie vinnig familie geword het. Die doel is om betekenisvolle musiek te maak in ’n generasie waar dit besig is om uit te sterf,” sê hulle.

Megan Danner (21) is die groep se hoofsanger, enigste Eva, en kom van die Paarl in die Weskaap. Sy was van jongs af passievol oor musiek en sing al vadat sy ses is. Een van haar grootste loopbaanhoogtepunte tot dusver is dat sy onder die Top 3 geëindig het in die eerste reeks van Emo Adams se realiteitsprogram, Maak My Famous. Die musikant het ’n wye musieksmaak wat wissel van Country tot Jazz en Rock, en sy vind inspirasie vir haar eie musiek in alledaagse dinge.

Dian Maritz (20) is die hoofkitaarspeler en agtergrondsanger van die driemanskap. Hy is ’n rustige mense-mens met ’n goeie sin vir humor en ’n positiewe uitkyk op die lewe. Tans studeer hy besigheidsbestuur, maar verklap dat hy al sy hele lewe lank doenig is met musiek. Dié Plettenbergbaaier hou baie van alternatiewe musiek en meen dat kunstenaars soos Jack Johnson, John Butler Trio, Ben Howard, Bon Iver, Mumford and Sons, Beatenberg, Johnny Clegg, Queen, Bread, The Maproom en John Mayer almal ’n invloed op sy styl gehad het. Dian glo dat musiek kuns is wat direk met die hart praat, en put baie inspirasie uit die land, geloof en verhoudings wanneer dit by sy eie werk kom.

Renier van der Westhuizen (22) is ’n liedjieskrywer en musikant van Rustenburg, wat inspirasie put uit die waarhede en emosies in die lewe. Musiek was nog altyd een van sy groot passies, alhoewel hy dit ook geniet het om aan sport – soos sokker – deel te neem. Wanneer hy nie op die verhoog is nie, geniet hy dit om tyd saam met die spesiale meisie in sy lewe, of sy vriende te spandeer en so nou en op te vang met die nuutste televisiereekse.

Sedert hulle ontstaan het Rooksein al by ’n hele paar privaat funksies en feeste opgetree, soos Aardklop, Potch Jool, Fight Night, Patricia July, Piekfijn Food and Wine Festival, en Die Woordfees. 

Buiten daarvoor dar hulle hul studies wil voltooi, het die groep nog baie planne en drome vir die toekoms, wat meer lewendige vertonings en ’n album insluit. Hulle sal ook nog graag saam met name soos Early B, Spoegwolf, Elandré en Francois van Coke wil werk in die toekoms. Vir nou vat hulle die reis stap-vir-stap en geniet hulle elke oomblik daarvan.

“Musiek is ons manier om iets te sê sodat ander mense dit hoor. Luisteraars sal ongetwyfeld kan vergelyk met ons klank, styl en lirieke. Ons is maar net drie jongmense wat lief is vir musiek en bevoorreg genoeg om te kan doen waaroor ons mal is,” sluit hulle af.

ONTHOU JY DIE DAE bevat al die nodige bestanddele van ’n groot radiotreffer wat nog vir jare gewild gaan wees. Dit is ook die begin van ’n nuwe en opwindende hoofstuk in Rooksein se musiekloopbaan.

ONTHOU JY DIE DAE is digitaal beskikbaar: Apple  

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Instagram

Webblad: http://rooksein.wixsite.com/rookseinepk