fbpx
Orde van die Beiteltjies is aan agt woorkunstenaars toegeken

Orde van die Beiteltjies is aan agt woorkunstenaars toegeken

Orde van die Beiteltjies is aan agt woordkunsskeppers en -fasiliteerders op 30 November 2020 toegeken deur die Afrikaanse Woordkunsakademie.

Die gesogte Ordes van die Beiteltjie is vanjaar toegeken aan Frieda van den Heever, Ilse Oppelt, Petronel Baard, Frazer en Deniel Barry, Chrisna Beuke-Muir, Steffie le Roux en Deon Meiring.

Agt woordkunsskeppers en -fasiliteerders is vanaand, 30 November 2020, deur die Afrikaanse Woordkunsakademie met die Orde van die Beiteltjie vereer.  Die toekennings is virtueel tydens ’n beeldstroom op Facebook en op YouTube bekend gemaak wat om 19h00 uitgesaai het. ‘n Oorkonde, trofee en kontantbedrag is deel van elke toekenning.

Die gesogte Ordes van die Beiteltjie is vanjaar toegeken aan Frieda van den Heever, Ilse Oppelt, Petronel Baard, Frazer en Deniel Barry, Chrisna Beuke-Muir, Steffie le Roux en Deon Meiring.

Hulle sluit nou aan by die 31 toonaangewend woordkunstenaars wat sedert 2015 Ordes van die Beiteljie vanaf die Afrikaanse Woordkunsakademie, wat deur die Cordis Trust bedryf word, ontvang het. 

Dr. Fanie Marais, Uitvoerende Trustee van die Cordis Trust, het gesê hy is oortuig die toekennings sal die ontvangers inspireer tot groter prestasie en om ander te begeester en by te staan. “Cordis Trust streef om ’n stem te gee aan die oorvloedige woordkuns-potensiaal wat daagliks beitel sonder erkenning.”

Steffie le Roux

Volgens Steffie le Roux het ’n eerste toekenning ’n spesiale plek in jou huis en jou hart. “Ek is baie trots en dankbaar dat ek soveel geduld het. Om in die bedryf te wees as ’n sanger en akteur is nie altyd maklik nie. Soos jou loopbaan egter vorder kom jy tot die besef dit wat jy doen, en hoe jy dit doen, eintlik goed genoeg is. “Daarom is hierdie toekenning ’n groot eer. Dit wys daar is mense wat sien wat ek doen, wat daarvan hou, daarin glo, en dit waardeer.”

Petronel Baard

Die bekroonde sanger, liedjieskrywer en kunste-fasiliteerder, Petronel Baard, sê dit maak vir haar sin dat die kunste die wegtrekpunt behoort te wees vir gemeenskapsontwikkeling in Suid-Afrika. “Die kunste is die een plek waar ons verskille iets is wat ons vier, in stede daarvan dat dit ons skei van mekaar. Die Ordes van die Beiteltjie slaag juis daarin om dié diversiteit van woordkuns in Afrikaans te vier. Suid-Afrikaners het nog nie genoegsaam in mekaar se teenwoordigheid ontspan nie -watwou nog mekaar leer ken. Selfs meer as in sport, waar wedywering wel deel is van die natuurlike stand van sake, is die kunste die plek waar ons mekaar moet vind en kan opbou. Ons diversiteit kom tot sy reg in ’n hoogs kreatiewe gemeenskap en uitlewing wanneer ons daarop fokus.”

Deon Meiring

Die sanger, liedjieskrywer en digter, Deon Meiring, het gesê skeppende werk, soos woordkuns, kan soms eensaam wees. ’n Toekenning soos die Orde van die Beiteltjie is ’n manier om met die wêreld kontak te maak en om ’n brug tussen die kunstenaar en ander mense te bou. “Dis een van die rigtingwysers wat aanwys jy is op die regte pad en jy moet aanhou om dit te doen. Dít vra dapperheid. Baie keer raak mens ontmoedig en wonder jy of die wêreld nodig het wat jy doen? Kan jy nie iets meer sinvol met jou tyd doen nie?  Maar as iets soos die Beiteltjie-toekenning egter op jou pad kom, is dit asof iemand die beiteltjie in my hand sit en sê: ‘maak nóg iets daarmee’.”

Franzel en Daniel Barry

Volgens Frazer en Deniel Barry van Tribal Eco-faam het Afrikaans van die straat na die boeke en weer terug na die straat gespring. “Dit maak ons baie opgewonde. Daar is nou meer erkenning vir streeksdialekte en dit beteken mense kan weer dig en stories skryf in hulle eie dialek.”

Frazer en Deniel is internasionaal bekende musikante, skrywers en kunsteontwikkelaars en is reeds met verskeie bedryfspryse vir hulle skeppende werk bekroon.  Volgens Frazer is die naam van die orde, “beiteltjie” heel gepas. “Ons in Suid-Afrika werk nog aan ons erfenis.  Ons beitel altyd die regte woorde uit ons lyf uit.  Dit is vir ons ’n groot eer en voorreg om die toekenning te kan ontvang.” 

Frieda van den Heever

Die bekende radio-omroeper en regisseur, Frieda van den Heever, wat onder meer die weeklikse programme “Vers en Klank” en “Kortom” op RSG aanbied, het gesê sy is dankbaar dat die Cordis Trust mense hoop gee en nie die geestesdimensie vergeet waarmee ons besig is nie. 

“Ons het ’n spesiale taak as mense wat Afrikaans praat om hierdie boodskap van hoop en van radikaal verskil, terwyl ons ons verskille moet en mag vier,te bring.” 

Ilse Oppelt

Die bekroonde skrywer, dramaturg en akteur Ilse Oppelt het gesê sy dink nie die publiek weet altyd hoe hard Afrikaanse skrywers baklei vir Afrikaans se waardigheid en voortbestaan nie. “Daarom aanvaar ek dié toekenning namens al my kollegas wat nooit bedank word, óf erkenning kry nie. Ek wil ook die Beiteltjie opdra aan my pa, Neil Oppelt.  Dis die man wat my liefde en passie vir Afrikaans aangewakker en gevoed het op ’n daaglikse basis.  Hy het my blootgestel aan die wonderlike unieke klanke, ritmes, beeldrykheid, metrum en al hierdie dinge. Wat ek besef het is dat my liefde en passie vir Afrikaans geensins aangeleer is nie, maar ingebore.”

Dr. Chrisna Beuke-Muir, senior lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Namibië en stigter van die Windhoek Woordfees, het gesê die internasionale mark beskou dikwels Namibië as bydraend tot Afrikaans en Suid-Afrika as die kern van die Afrikaanse taal.  “Dikwels word buite sig gelaat watter dimensie Afrikaans in Namibië aan die groter prentjie van Afrikaans gee.” Volgens haar bewys die Orde van die Beiteltjie vir 2020, waarmee sy vereer is, juis die uitnemende rol van woordkunstenaars in Namibië.   “Die toekenning is ook ’n toekenning aan die digters en die kortverhaalskrywers van die bundel ‘Land onder Woorde’.”  Die bundel is deur Chrisna saamgestel en uitgegee deur Cordis Trust.

SOSIALE MEDIA SKAKELS

Facebook, Twitter, Instagram

Webblad: www.petronelbaard.com

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCKZN7LSwYxmt1wK9I6PgXBA

SoundCloud:  https://soundcloud.com/petronel-baard

LEES MEER

Gesogte Beiteltjies word weer vanjaar toegeken