fbpx
TOEGEWYD(E) Wit Kasteel stel tweede album vry

TOEGEWYD(E) Wit Kasteel stel tweede album vry

Wit Kasteel Toegewyd Album Omslag

Wit Kasteel is terug met hul tweede Afrikaanse Rock album getiteld TOEGEWYD.

TOEGEWYD is vervaardig en opgeneem by die welbekende Muse Studios en is vervaardig deur Hugo Ludick.  Dit is ʼn versameling van oorspronklike sowel as “covers” van bestaande liedere.

4.5 out of 5 stars

Die woord “toegewyd” beteken om jouself heeltemal te gee aan iets of om ʼn taak met oorgawe aan te pak en daar bestaan geen beter woord wat Wit Kasteel se album TOEGEWYD kan beskryf nie.

In 2011 het Clemond Dartnall en Jurie Schoeman die groep op die been gebring.  Kort daarna het Waldemar en Reinard ook by die groep aangesluit.  Dít was die begin van Wit Kasteel.  Vier musikante wat met toewyding en ywer gereed staan om vir Afrikaanse Rock ʼn baadjie aan te trek.

Met hul arsenaal van 3 liedjies het hul naweek op naweek saam geoefen in Waldemar se pa se motorhuis.  Dit was eers in 2013 dat hul die geleentheid gekry het om by destydse Firkin in Centurion te kan optree.

Die uitdaging egter was dat die repertoire van 3 liedjies nie genoegsaam was om die verlangde tyd van 45-minute op te vul nie.  Dit het die groep gedaag om nog 9 liedjies binne 3 weke aan te leer.  Wit Kasteel was vasberade om deur te druk.

Na die drie weke het die groep daarin geslaag om hul repertoire uit te brei en dit boonop met ʼn paar nuwe oorspronklike werke ook. Die optrede by Frikin was ʼn sukses!

Die groep is egter in ʼn panarie gelaat siende Jurie (hoof kitaarspeler) die groep verlaat het om eerder op sy studies te fokus.  Vandaar was dit omtrent ʼn wipwarit om die regte kitaarspeler op te spoor en dit was eers in 2017 dat Ernst Nieuwoudt by die groep aangesluit het.

Oor die afgelope 8 jaar het die Afrikaanse Rock groep reeds hul ankers vasgeslaan in die Afrikaanse musiekbedryf.  Hul musiek het reeds heelbo gepryk op talle treffersparades, onder andere SFM en GrootFM.

Oor die tyd het Wit Kasteel optredes gehad by van ons land se grootste feeste wat inlsuit: Innibos, KKNK, Aardklop, Rocking Potch en spog selfs met `n toer saam met KykNet.

Die groep se toewyding word in 2016 raakgesien en in dieselfde jaar word Wit Kasteel benoem vir `n Ghoema-toekenning in die kategorie, “Beste Rock Album”. “Dit is ʼn gebeurtenis wat ons as groep nooit sal vergeet nie.”, verduidelik Reinard.

En nou is Witkasteel terug met hul splinternuwe album TOEGEWYD wat op 20 November 2020 by Padstal in Pretoria bekendgestel is.

Die album is oorlaai met goeie Afrikaanse Rock musiek wat strek van kommersiële rock tot gewone rock. Die goeie balans tussen harder rock en kommersiële rock op die album sal vir seker die fynproewer bevredig en terselfdetyd nuwe gehore inhark.

Die groep het vroeër vanjaar reeds die titelsnit, TOEGEWYD, as enkelsnit vrygestel wat reeds goeie publieke ontvangs geniet.

TOEGEWYD is vervaardig en opgeneem by die welbekende Muse Studios en is vervaardig deur Hugo Ludick.  Dit is ʼn versameling van oorspronklike sowel as “covers” van bestaande liedere.

Die oorspronklike werk is oorhoofs geskryf deur die lede van Wit Kasteel en het gedeeltelike hulp ingeroep van: Hugo Ludick, Nick Jordaan, Josh Oosthuizen, Karm Bremer, Don Clarke, William de Bruin en Douw Steyn.

Wat verruklik is om te weet van Wit Kasteel is die feit dat elke musikant sy eie kleur van musiek na die tafel bring.  Die groep se uiteenlopende musiekinvloede sluit in: Klassieke musiek, 80’s musiek, AC/DC, John Mayer, Jimmy Hendrix – alles style wat nie noodwendig rondom dieselfde vuur sit nie, maar op een of ander manier is dit juis hierdie mengelmoes wat sorg vir Wit Kasteel se unieke klank.

Wit Kasteel Albumbekendstelling @ Padstal

“Elkeen van die liedjies het hul oorspong vanuit ʼn unieke plek”, verduidelik Waldemar. 

Die talentvolle sangeres, Elizca Coetzer, se stem kan ook gehoor word op Wit Kasteel se weergawe van HOUSE OF THE RISING SUN.  Die lied beloof om gou ʼn gunsteling te word.

“TOEGEWYD gaan oor die moeilike tye waarin elkeen hom- of haarself bevind – die boodskap bly: Lig op jou kop en lewe met ywer, dinge sal weer beter word.”

Wit Kasteel se wens is dat aanhangers die boodskap van hul musiek ter harte sal neem – of dit ʼn boodskap van hoop of net lekker rock en roll is, daar is altyd iets dieper om te vind in hul lirieke.

Met hul tweede album gaan Wit Kasteel vir seker hul merk laat op die Afrikaanse Rock toneel en al wat ons kan sê is dat ons met toewyding hul loopbaan met belangstelling dophou.

Wit Kasteel se musiek is op alle groot digitale stromingsplaforms beskikbaar.

BESPREKINGS & NAVRAE

Epos: [email protected]

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

LEES MEER

Wit Kasteel maak nuwe klanke met nuutste enkelsnit