Pelican State – HEARTBREAK MOTEL

Pelican State – HEARTBREAK MOTEL

Pelican State, die eenmangroep wat bekend is vir treffers soos JUNGU JOSH en PEACHES, skop die jaar af met ‘n nuwe Engelse enkelsnit genaamd HEARTBREAK MOTEL. Hierdie enkelsnit is die derde liedjie op die groep se nuwe kortspeler, en vertel die eeue-oue verhaal van liefde en wanhoop.

HEARTBREAK MOTEL, wat ook die titel van die vier-liedjie kortspeler is, is ‘n samesmelting van die hoofsanger, Constant van Graan, se aantrekkingskrag op die Amerikaanse platteland en sy bewondering vir die vreesaanjaende ding wat ons liefde noem.

Die enkelsnit is geskryf en vervaardig deur Van Graan en Hugo Ludik by Muse Studios. Die enkelsnit is gebaseer op Van Graan se persoonlike ervarings, maar volg tog ‘n fiktiewe storielyn.

Van Graan glo dat luisteraars nie net die musiek sal geniet nie, maar ook empatie sal hê met die stryd van die hoofkarakter van die kortspeler. Alhoewel HEARTBREAK MOTEL ‘n melancholiese verhaal vertel, sal luisteraars die musikale aspek van die liedjies ligter en meer optimisties vind, wat hulle sal motiveer om saam te sing.

Op ‘n vraag oor sy toekomsplanne wil Van Graan sy loopbaan van 12-jaar in die Suid-Afrikaanse en internasionale musiekbedryf verder volg. Hy beplan ook om in die nabye toekoms ‘n Afrikaanse kortspeler vry te stel, en hoewel die COVID-19 pandemie ‘n impak gehad het op die groep se onlangse voornemens om regstreeks op te tree, sal Pelican State voortgaan om nog vele meer kreatiewe ure in die opname-ateljee deur te bring.

Maar dit is nie net die musiek wat die jong kunstenaar geïnteresseerd hou nie – Van Graan is ook ‘n ewe talentvolle liedjieskrywer. Dit is ten toon gestel by die wêreld se grootste liedjieskryfkompetisie – The International Songwriting Competition – waar sy liedjie DOWNSTREAM hom ‘n plek as finalis verseker het. (18 000 inskrywings in 2015). Dit was dieselfde jaar wat die bekende Indie-kunstenaar, Vance Joy, die louere geneem het vir sy bekende treffer-enkelsnit RIPTIDE.

As die hedendaagse Renaissanceman wat hy is, is Van Graan nie net aktief in die musiekbedryf nie, maar is hy ook ‘n gepubliseerde kinderboekskrywer (sy reeks JUNGU JOSH het in 2021 verskyn) en ‘n senior lektor in Forensiese Rekenmeesterskap aan die Noordwes-Universiteit.

Om alles af te rond, is hy magtig in Magani, ’n fiktiewe taal wat hy vir die JUNGU JOSH-reeks geskep het. Die enigste probleem, merk hy op, is dat hy tans die enigste persoon in die wêreld is wat dit praat … Gelukkig het hy onlangs ‘n Magani-woordeboek saamgestel, wat binnekort op die JUNGU JOSH-webwerf beskikbaar sal wees.

HEARTBREAK MOTEL is nou beskikbaar op alle digitale stroomplatforms en spog ook met ‘n liriekvideo, wat op al Pelican State se sosiale media-platforms, insluitend YouTube, gevind kan word.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram, YouTube