Petronel Baard vier die lewe!

Petronel Baard vier die lewe!

Petronel Baard, ’n passievolle kabaretster met ’n strelende storievertellerstem, het oor die afgelope een-en-twintig jaar reeds diep spore in die musiekbedryf kom trap. Haar nuwe enkelsnit, LIFE IS GOOD, word nou uitgereik en gaan beslis verskeie musiekharte regoor die land verower.

LIFE IS GOOD, uit haar eie pen, is ’n kontemporêre snit wat elemente van Folk en klassieke Pop met ’n unieke Suid-Afrikaanse aanslag kombineer. Dit gaan daaroor dat die lewe kort is en dat ’n mens mekaar moet liefhê terwyl jy kan. Dié treffer is die perfekte pasmaat vir die musikant se sterk, soet stem en is beslis iets waarby gehore van alle ouderdomme sal aanklank vind.

“Na twee maande van angsaanvalle het ek een aand ’n droom gehad. Ek en my familie (en vriende) het deur die strate van ’n mooi stad gestap. Ek onthou die refrein, die groen bome en groot glasvensters van die geboue. Die ongelooflike gevoel van liefde en sekerheid dat ons mekaar moet liefhê. Toe ek wakker word, het ek die wysie en woorde vasgevang, want ek het net geweet dat die wêreld ’n boodskap van liefde nodig het,” vertel die sangeres.

Kort daarna het ek verloof geraak en twee dae later is ’n kosbare vriendin skielik oorlede. Ek het dit op haar begrafnis gesing en het die lied aan haar opgedra. Min het ek geweet dat ons my skoonsuster amper ’n maand na ons troue ook sou verloor. Die lied is opgedra aan hulle altwee; Sonja Pretorius en Marion Baard. Uit soveel hartseer vloei daar nou soveel positiewe energie.

’n Musiekvideo van die enkelsnit, aanmekaargesit deur Efpe Senekal van Efpe Senekal Produksies, is onlangs verfilm en sluit die mooiste natuurtonele (van Kleinbrakrivier, Grootbrakrivier en Mosselbaai), asook beeldmateriaal van familie en vriende in. “Die video wys my wat, in ’n trourok, op die mooiste plekke die lied sing. Ons wissel dit af met insette van verskeie mense en dele in ons area wat saamsing en dans om te wys dat die lewe goed is … ten spyte van, ter wille van, as gevolg van. Dis ’n absolute viering van die lewe,” verklap sy.

Petronel het in Villiersdorp grootgeword en was van kleins af versot op musiek. Haar ma en oom (wat die hoof en dirigent was by die Drakensberg-seunskoor) het haar lief gemaak vir koormusiek. Haar uitsonderlike solostem is op die ouderdom van twaalf ontdek tydens ’n skoolopvoering van Die Slapende Skoonheid en net daar het die sang- en toneelgogga haar behoorlik gebyt. Na skool het sy drama by Stellenbosch gaan studeer en in 1998 professioneel begin optree. Aan die einde van haar honneursjaar het sy ATKV se Crescendo-kompetisie gewen en voltyds in die vermaaklikheidsbedryf betrokke geraak.    

Oor die afgelope paar jaar het sy al verskeie optredes en toneelstukke gedoen en die geleentheid gehad om met kunstenaars te werk vir wie sy die grootste respek het, soos Stef Kruger en Riku Lätti. Sy sonder die opname van haar sesde album, DIE HEELAL DRAAI, uit as een van haar grootste hoogtepunte sover. Die album is deur Schalk Maas van Soetmelk en David Cruickshank vervaardig en word deur Vrouekeur beskryf as “een van die mooistes nog in Afrikaans”. Haar debuutvrystelling, LANK AL, is benoem vir ’n SAMA en twee Geraasmusiektoekennings.

Petronel geniet ’n wye verskeidenheid musiek, maar sonder Annie Lennox en Diana Krall uit as haar grootste inspirasie. Sy verklap ook dat sy baie opgewonde is oor die vooruitsig dat dieper musiek besig is om ’n meer prominente plek in die bedryf in te neem, juis omdat sy glo dat melodieë en lirieke die hart moet raak.

As jy haar uitvra oor waarmee sy haarself nog besig hou, sê sy: “Die ontwikkeling van strukture vir ons plaaslike kunste is my tweede loopbaan en passie. Ek dien daarom op die Weskaapse Kuktuurkommissie en is voorsitter van ons plaaslike kultuurforum in Mosselbaai. Ek doen al vir jare ontwikkeling in die platteland deur die kunste. Ons het destyds TISK Teaterkafees in die Suid-Kaap gehad wat toe TEO (Teaterkafee Ontwikkeling) geword het. Onder dit dien ek met die werk van ons kultuurforum, Mocca en Oer Moer Kultuur waar ons spesiale funksies hou met kunstenaars wat vir die oeroue beginsel van ‘die hoed’ speel.”

Die musiekbedryf het vir Petronel Baard geleer dat dit belangrik is om getrou te bly aan jou eie styl en dat jy nie bang moet wees om jou passie uit te leef nie. LIFE IS GOOD is die perfekte kombinasie van inspirerende lirieke en ’n goedvoeldeuntjie, wat haar stem nie net op sy beste laat vertoon nie, maar luisteraars ook uitnooi om saam te sing en die lewe ten volle te vier.

Die liedjie is op alle digitale platforms beskikbaar.
Kry dit hier:  https://music.apple.com/za/album/life-is-good-single/1482884883

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Twitter, Instagram, YouTube, SoundCloud 

Webblad: www.petronelbaard.com

Leave a Reply