fbpx
Stephen Jonathan stel sy eerste enkelsnit vry!

Stephen Jonathan stel sy eerste enkelsnit vry!

“Partykeer moet jy iets laat gaan of eindig om regtig te leef. Dit kan enigiets wees, van ’n moeilike verhouding, tot slegte gewoontes of ’n werk wat jou ongelukkig maak. Alhoewel dit nie maklik is om deur so iets te gaan nie en dit jou kan verwar, is dit dalk presies wat jy nodig het,” verduidelik Stephen Jonathan oor die boodskap agter sy langverwagte debuutenkelsnit, wat dié week vrygestel is. 

THE WIND WILL TAKE ME THERE, wat sagte rock– met kontemporêre elemente kombineer, is oorspronklik deur Joshua na die Reën geskryf (LAAT DIE WIND MY NEEM) vir sy 2016-album, DIE WÊRELD BINNE MY. 

Jonathan, wat op daardie stadium in sy orkes gespeel het, het dadelik verlief geraak op die lied en besluit om dit te vertaal en sy eie verwerking daarvan te doen. Behalwe vir die feit dat dit sy talent as musikant en sanger ten toonstel, sluit dit ook elemente van die Afrikaanse snit in.

“Die boodskap van die liedjie het my van die begin af geboei. Oor die jare, het dit in my kop bly vassteek. Daarom het ek besluit om dit nie net te vertaal nie, maar ook die boodskap in Engels te herskryf en my eie verwerking daarvan te doen,” verduidelik hy. 

“Dis ’n pragtige inspirerede lied, deur ’n baie talentvolle musikant en liedjieskrywer en ek is baie trots daarop dat ek dele van die oorspronklike snit in my weergawe kon insluit.”

Joshua na die Reën sê dit is vir hom ’n eer dat Stephen hierdie liedjie opgeneem het. “Stephen Jonathan is waarlik ’n talentvolle, oorspronklike en spirituele siel wat nie net musikale waarde toevoeg tot die globale musieklandskap nie, maar ook filosofiese bydraes lewer. Wat ’n eer dat hy hierdie liedjie van my weer verwerk en na Engels vertaal het.”

Stephen Jonathan

Behalwe vir die geleenthede wat hy al gehad het om openingsvertonings te doen by verskeie uitverkoopte konserte en dat hy saam met van die grootste name in die bedryf kon werk, sonder Jonathan die vrystelling van sy eerste enkelsnit uit as een van sy grootste loopbaanhoogtepunte sovêr.

Dit was ’n wonderlike ervaring om by my gunsteling ateljee, Audio Nebula, op te neem! Byron Muller is ’n puik vervaardiger. Ons werk al lank aan hierdie snit en ek is baie opgewonde om te sien watter resultate dit gaan oplewer,” deel hy.

Stephen Jonathan is ’n Suid-Afrikaanse musikant en liedjieskrywer van Pretoria, wat reeds vir twaalf jaar in die musiekbedryf doenig is. Alhoewel hy aanvanklik bekendheid verwerf het vir sy ongelooflike kitaarspel, het hy gedurende sy vormingsjare homself ook bewys as ’n gedugte sanger en liriekeskrywer.

Sedertdien was hierdie talentvolle man deel van verskeie groot en suksesvolle musiekgroepe, waaronder Stones & Gold (stigter, sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler), Jackvalve (kitaarspeler en liedjieskrywer), Joshua na die Reën (akoestiese kitaarspeler) en Deon Bakkes and the Stolen Horses (ritme- en hoofkitaarspeler).

Hy het ook al opgetree by groot musiekfeeste soos Oppikoppi, Mieliepop, Innibos, Aardklop en die Smoking Dragon Festival, én die verhoog gedeel met Fokofpolisiekar, Francois van Coke, Jeremy Loops, Matthew Mole en Desmond and the Tutu’s.

Stephen het in ’n huis grootgeword waar sy pa altyd musiek gespeel het, van Klassieke Rock tot Blues. Volgens die kunstenaar fassineer die manier waarop note, melodieë en woorde so perfek kan saamvloei om soveel betekenis voort te bring hom al vandat hy op die ouderdom van twaalf leer kitaar speel het. Kort daarna het hy ook ’n passie daarvoor ontwikkel om sy eie liedjies te skryf.

“Ek vind inspirasie in my eie fisiese en emosionele ervaringe. As ek iets kan voel, kan ek die storie deur middel van my woorde en melodieë vertel,” verklap hy. “Ek bewonder ook plaaslike musikante soos Joshua na die Reën, Dan Patlansky, Roan Ash en Jeremy Loops. Hulle het sukses bereik as gevolg van hulle ongelooflike musiek en moes hard werk om bo uit te kom. Ek dink ook dat groepe soos Pollinator, Scarlotte Will en Strait-Jackal fantastiese musiek maak, maar nie noodwendig die erkenning kry wat hulle verdien nie.” 

Stephen beskryf homself as ’n rustige koffieliefhebber wat ’n sielkundige sou wou wees as hy nie kon sing nie, juis omdat die menslike psige hom na aan die hart lê. Hy het waardering vir verskillende tipes musiek en meen dat groot name soos Dire Straits, Pearl Jam, John Mayer, Chris Cornell, Bruce Springsteen, MUSE, Foo Fighters, Ryan Adams, Madrugada, Rodrigo Y Gabriella, JJ Grey en Mofro die grootste invloed op sy eie styl, wat elemente van verskeie genres kombineer, gehad het. “Ek hou van ’n goeie liedjie, ongeag van wat die genre is. Grunge, Blues, Rock, Funk en R&B is egter waarna ek my hele lewe lank luister, maar ek geniet ook Metaal-, Country- en Popmusiek ewe veel,” vertel hy.

Dié veelsydige ster het onlangs besluit om te werk aan sy sololoopbaan en beplan om binnekort ’n nuwe enkelsnit en musiekvideo uit te reik. Sy soloprojek en – optredes sluit iets in van alles wat hy al gedoen het en kan beskryf word as Progressiewe Poprock, wat ’n nuwe en opwindende klank na die plaaslike musiekmark bring.

Net soos elke ander musikant, moes Stephen Jonathan ook hard veg vir sy plekkie in die kollig en meen hy dat hy steeds elke dag op soek is na daai een liedjie wat hom in verwondering laat. Hy glo dat musiek tyd en stilte versier en probeer met alles wat hy skep ’n blywende impak op die harte van musiekliefhebbers laat. Met THE WIND WILL TAKE ME THERE oortref hy nie net hierdie doelwit nie, maar vestig hy ook vir homself ’n permanente plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

Kry die liedjie hier:
Itunes/ Apple, Spotify, Youtube music, Google play, Deezer            

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram