fbpx
Valeska Muller bekoor met emosiebelaaide liefdesballade.

Valeska Muller bekoor met emosiebelaaide liefdesballade.

Ware liefde is die inspirasie agter Suid-Afrika se gunsteling popster en liedjieskrywer se splinternuwe enkelsnit. Valeska Muller het pas NABY MY NABY JOU bekendgestel en laat reeds musiekharte warm klop. 

Hierdie is ’n lied wat ek uit die diepte van my hart geskryf het vir my sielsgenoot. Deur dit te sing, wil ek ware liefde in my lewe laat manifesteer,” verduidelik die sangeres oor die betekenis agter hierdie snit. 

“Ek kan myself verbeel hoe ek gaan voel wanneer ek vir die eerste keer aan sy hand vat en in sy liefdevolle oë kyk. Dis ek wat na al my liefdesteleurstellings en aaklige Tinder-afsprake nog nie moed verloor het nie en steeds bly glo dat daardie een-keer-in-jou-leeftyd-liefde regtig bestaan.

“Ek hoop ook hy hoor hierdie enkelsnit en sal besef dat hy die een is, maar hy moet gou maak want ek is moeg gewag,” glimlag sy. NABY MY NABY JOU is ’n pragtige, moderne ballade wat dit regkry om die euforiese gevoel van die liefde vas te vang. Dit is ’n spanpoging deur Valeska en haar vervaardiger, BIGG-T.

Drie genres, Pop, Reggae en Huismusiek, word gekombineer om ’n merkwaardige eindresultaat te skep. Die meesleurende wysie sal die luisteraar herinner aan ’n spesiale Somerromanse, en laat uitsien na luilekkerdae rondom die swembad. 

Die liedjie is die nuutste vrystelling vanaf haar eerste elektroniese pop-dans album, MY SIMFONIE, wat nou beskikbaar is. Dit volg in die voetspore van vorige treffers soos VERLANGE VAN JOU, SKYN JOU LIGGIE VIR MY en VERDWAAL SAAM MET JOU wat almal baie goed ontvang is en steeds radiospeeltyd kry. 

Nic Billington van Saint Nic Media is die kreatiewe brein agter haar pragtige musiekvideo’s wat tans op die kassie te sien is en reeds duisende kykers op YouTube gelok het.

Valeska, wat haar eie musiekskool – Valeska Muller Vocal Academy (VMVA) – besit, werk al negentien jaar in die musiekbedryf. Sy het op die musiekrealiteitsprogram, Zing, haar debuut op die kassie gemaak as deel van die Top sewe van die kompetisie. Die geleentheid het vir haar baie deure oopgemaak. 

Sedertdien het sy al hoofrolle gehad in verskeie verhoogproduksies, asook rolle in televisieprogramme soos GenerationsRoer Jou Voete en Binnelanders.

Een van haar liedjies is gebruik as die temalied van die program, ’n Ster Vir My Bed, op Via TV. Sy het al opgetree by verskeie funksies en feeste, waaronder Aardklop, Innibos, Aartappel Fees en KKNK.

Valeska Muller was nog nooit bang om haar hart te deel of grense te verskuif met haar musiek nie; eienskappe wat haar (as kunstenaar) en haar nuutste enkelsnit so onvergeetlik maak. 

NABY MY NABY JOU is nie net die perfekte liedjie om hierdie vakansieseisoen deel te maak van jou langpadspeellysie nie, maar ook ’n vrolike manier om enige kuier aan die gang te kry. 

Hierdie liedjie is beskikbaar op Valeska Muller se album MY SIMFONIE op alle digitale platforms: https://orcd.co/bgglpq9

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter