Posduif gesels oor hul nuwe album, BRANDSTIGTER, en ander dinge.

Posduif gesels oor hul nuwe album, BRANDSTIGTER, en ander dinge.

Die lang wag is uiteindelik verby, want die gewilde musiekgroep, POSDUIF, is terug in die kollig met ’n vuurwarm enkelsnit en splinternuwe album wat aanhangers se grootste verwagtinge gaan oortref.  

Hulle nuutste treffer, BRANDSTIGTER, uit die pen van James Boland en Nick Jordaan, beloof om die vonke behoorlik te laat spat en is reeds besig om soos ’n veldbrand onder musiekliefhebbers te versprei.

Lees verder om meer uit te vind oor hierdie dinamiese groep musikante en hul trefferalbum, BRANDSTIGTER.

Wie is Posduif?

Daar is vyf van ons in Posduif. Ek, James Boland, is die hoofsanger en speel kitaar. Nick Jordan is die agtergrond-sanger en speel ook kitaar. Dan is daar Brennan Campbell op lead-kitaar en hy is ook die vervaardiger. Nick McCready op tromme en Amiel Gopal op baskitaar. Ons is al van 2018 af saam.

Waar kom almal vandaan?

Ek bly in Somerset-Wes hier in die Kaap, en die res van die manne is almal in Johannesburg, maar ons het mekaar in Johannesburg ontmoet en ons werk ook uit ons studio in Johannesburg. Alhoewel ons natuurlik oral oor die land saam toer.

Verklap iets van elke lid, wat is julle “guilty pleasures”?

Ek is baie lief vir roomys, ek is een groot soettand, en ek is mal oor tequila. Nick Jordaan probeer altyd ‘n nuwe diëet, maar hy is eintlik baie lief vir ‘n lekker burger en skyfies en ander gemorskos van tyd tot tyd. Die res se geheime is nog onbekend.

Waar het die inspirasie vir die nuwe album vandaangekom?

Die album bestaan uit nege stories vanuit ons lewens en dinge wat ons sien en ervaar. En daar is lekker kuierliedjies waar ons geïnspireer is deur goeie vriende en lekker tye en waar ons net wil saamdans en saam met mense wees wat ons geniet.

Ander liedjies gaan oor dinge van die hart en oor diepvoel en omgee en liefwees. So dis juis wat dit lekker maak om ‘n album te skryf – jy het die vryheid om oor al die goed te skryf. ‘n Hele boek vol stories van jou lewe.

Wie het almal gewerk aan die produk?

Ek en Nick Jordaan skryf meeste van Posduif se liedjies, maar ons was baie bevoorreg om op hierdie album te kon werk saam met die res van die groep ook. Ons het ‘n skryfkamp gedoen waar ons weggegaan het na ‘n Wildsplaas. Dit was een ongelooflike ondervinding gewees. Verder het ons ook saam met die baie talentvolle Nate Woodman, Kosie van Niekerk, Ernst Kleinhans gewerk. Die album is gemeng deur Hugo Ludik by sy studio Muse Studios.

Hoe het Posduif se unieke klank tot standgekom?

Omdat daar so ‘n klomp van ons in die band is, en elkeen het sy eie invloed, gee dit ons die geleentheid om met musiek op te kom wat klomp verskillende insette het wat strek oor verskillende musiek genres. Dit bevat elemente waar elkeen van ons geniet om na te luister. Dit laat ons toe om rond te speel met klanke te eksperimenteer wat nie moontlik sou wees as jy op jou eie geskryf het nie. Dit is regte samewerking, waar ons almal saam met die klank opkom.

Waar was die lekkerste optrede tot op hede?

Elke optrede het sy eie positiewe en negatiewe, en elkeen is ‘n unieke ondervinding. Partykeer is dit wonderlik om in ‘n groot plek op te tree. Ons het by Grand West Casino die voorprogram gedoen vir die country ster Kip Moore. Dit was ‘n ongelooflike ondervinding. En boonop was die venue net so cool.

Daar is ook ander plekke waar jy by ‘n fees is waar die mense net “awesome” is. Daar is die gees net so lekker. Elkeen kom met sy eie unieke pluspunte.

As julle saam met ‘n ander kunstenaar kon werk, wie sou dit wees?

Elkeen van ons sal seker ‘n ander antwoord gee. As ons van internasionale kunstenaars moet praat, sal ek sê Darius Rucker, wat die hoofsanger was van Hootie and the Blowfish. Hy is tans ‘n baie gewilde country musikant in Amerika. Daar is natuurlik baie plaaslike kunstenaars saam met wie ons wil werk en vir die volgende album gaan ons ‘n paar van ons musiekvriende nadertrek. Ons sien baie uit daarna.

Wat is die boodskap van die nuwe album?

Die album se naam is Brandstigter, en die hele idee agter dit is dat ons hoop dat die musiek en die kombinasie van die lekker harde kuier liedjies en die diep hartsake opnuut ‘n vuur in mense sal aansteek. Daar is gedeeltes in ons wat wil kuier saam met vriende, partytjie-hou en braai en laat nagte kuier. En dan is daar ook liefde vir ons families en liefde vir ons vriende, daar is omgee, en partykeer net moegwees en soms het jy rus nodig. Ons hoop daar is iets vir almal in die album.

Waar kan mense dit luister?

Julle kan ons musiek kry op Spotify, Apple Music, YouTube, en al die ander digitale platforms. Julle kan ons ook kry op sosiale media. Ons is op Facebook, Instagram, TikTok. So gaan, soek ons gerus op. Julle kan ons kry onder Posduif en Posduif_live.

Wie sal aanklank vind by die nuwe musiek?

Ek dink daar is ietsie vir almal in ons musiek. Of jy jonk en verlief is, of verlief wil wees, dan is daar definitief iets vir jou. As jy wil laatnag kuier met jou pelle en braai, dan is daar iets vir jou. As jy hartseer is en jou mense mis, dan is daar iets vir jou. Dis juis wat so lekker is om musiek te kan maak, ons kan stukkies van alles deel. So, ons hou daarvan om te skryf oor baie verskillende dinge van die lewe en nie net een spesifieke ding nie. So, luister gerus en ek hoop jy kry iets wat met jou hart praat.

Wat is volgende vir Posduif?

Ons is mal daaroor om op te tree en op die oomlik is dit ‘n groot gedeelte van ons fokus. So hou ons dop, daar is ‘n hele paar optredes op pad. En natuurlik as julle ons in julle dorp wil hê, kan julle ons laat weet, ons kom speel graag vir julle.

Ons is ook voortdurend besig om nuwe musiek te skryf en tussendeur werk ons aan twee musiekvideos. Ons gesels reeds oor ‘n volgende album vir die komende jaar. Daar is ‘n hele klomp interessante goed van ons kant in die pyplyn. Ons sien uit daarna om nuwe musiek met julle te deel.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

LEES MEER

Posduif – NIKS VERGELYK

Posduif se nuwe musiekvideo praat met die hart!

Posduif se nuutste enkelsnit, HERINNER MY

Posduif saai hoop met nuwe musiekvideo