Reinhardt Venter – Saaier

Reinhardt Venter – Saaier

‘n Dekade of wat terug het manne soos Theuns Jordaan, Bok van Blerk, en vele ander se rasperstemme die mark kom oorrompel en die weg oopgeploeg vir ‘n nuwe klank wat steeds uiters gewild is in die Afrikaanse Musiekbedryf.

Weg met soetsappige lirieke en Europese melodieë, is die pad geskraap vir ‘n nuwe klank wat met jou siel praat, lirieke wat water dra en ‘n stem wat rou en eerlik deurbreek tot in jou hart.

Reinhardt Venter is een van hierdie grotes se opvolgers, met die verskil dat hy al sy musiek self skryf. Jy ken dalk nog nie sy stem nie, maar sal êrens deur die stem van iemand anders van sy musiek alreeds ken.

Sy eerste liedjie het hy op 16 geskryf en tot op hede het hy nog nie weer die pen neergesit nie. Hy spog nou al met ‘n versameling van meer as 150 liedjies.

Reinhardt is gebore in Carletonville en het grootgeword in ‘n klein myndorpie tussen Randfontein en Carletonville. Dis ook daar waar hy nie net die liefde vir musiek ontdek het nie, maar ook sy droomvrou gevind het. Reinhardt is al 11 jaar lank getroud met die liefde van sy lewe, en hul het ‘n vierjarige seun, Jano.

Reinhardt het met ‘n groot liefde vir musiek grootgeword; sodat hy dit op sy eie op die kitaar en mondfluitjie bemeester het.

Vandag hoor jy dit op ‘n warm en sterk album, gevul met kitaarsnare wat sy diep lirieke ritme gee en ‘n sterk baskitaarverwerkings wat enige klankstelsel gaan laat bewe. Dan, terwyl die drom hard teen jou hart slaan, breek dit jou hart oop sodat sy eerlike en diep lirieke kan insink en vrae, antwoorde en idees saai.

SAAIER is volgepak met elf snitte met ‘n verskeidenheid temas wat wissel tussen die liefde tot liedjies wat jou gaan laat huis toe verlang as jy in die buiteland daarna moet luister. Rose van Yster en Trein na geluk is maar enkele van die snitte wat jou nuuskierig gaan wil laat wil luister.

Reinhardt se motto is: “As jy nie regkom nie, probeer weer.” Vir jare skryf hy al musiek vir ander kunstenaars, maar dis tyd dat ons die ou wat heeltyd net nog gesaai het ‘n kans gee om sy sak vol skatte self in ons landerye te kom saai.

Reinhardt Venter gaan op jou groei.

SOSIALE MEDIA:

Facebook

BESPREKINGS:

Tel: 082 596 3361
E-pos: [email protected]

Leave a Reply