fbpx
Rich Kardin sing oor DINGE VAN ‘n KIND

Rich Kardin sing oor DINGE VAN ‘n KIND

Die 19-jarige Rich Kardin se debuut-enkelsnit, DINGE VAN ’n KIND, handel oor ’n jong seun se beproewings en die pad wat hy moes stap om uiteindelik te genees.

Dié snit is gestroop van spesiale effekte en sy tenoorstem knappasperfek by die lirieke wat hy sonder enige voorgee aan die luisteraar oordra.

DINGE VAN ’n KIND is geskryf vanuit die perspektief van sy se eie pyn wat hy as jong seun moes ervaar en deurstaan. “Ons word so maklik deur ander mense geïndoktroneer om dinge te doen waarmee ons nie altyd gemaklik is nie.

“Ons moet soms deur die oë van ’n kind na onsself kyk – op die manier bring ons dit nader aan ons eie waarheid. Ons word ook herinner aan die feit dat ons almal op ons eie manier uniek is.”

Hy het die snit ook self geskryf en vestig hom nou as een van die Afrikaanse musiekbedryf se liedjieskrywers van formaat. Hy het al die afgelope ruk ’n redelike repertoire van liedjies opgebou en dit sal hopenlik binnekort uitgereik word.

Rich komponeer ook sy eie musiek, en sy genialiteit kan ook duidelik gehoor word in hoe musiek, klank en liriek ’n geheel vorm. En die resultaat is ’n musikaal en tegniese goedversorgde liedjie.

Met sy musiek, kom verskillende genres voor. Die snit bevat elemente van ’n liefdesballade gemeng met klanke wat geneem is uit die klassieke genre. Hy het onlangs die snit op digitale en sosiale mediaplatforms gelaai en die reaksie van luisteraars wissel van “trane in ons oë” tot “dit is nou ’n uitstekende nuwe stem in die musiekhemelruim.”

Rich is in Gauteng gebore, maar het in 2011 na die Kaap verhuis. Buiten sy musiek, is optometrie sy huidige beroep en van sy passies is die ontwikkelling van stylvolle brilrame. “Jou bril (of dit nou jou lees- of sonbril is) moet ook in die mode wees,” grinnik hy.

Rich dra die liedjie op aan almal wat oordeel oor ander gefel het en aan die wie se aksies al geoordeel is. “Die woord oordeel moet nie eers meer in ons woordeskat voorkom nie,” glo hy.

DINGE VAN ’n KIND is ‘n radiovriendelike luisterliedjie wat by oud en jonk sal byval vind. Rich het ’n andersoortige talent en ons hoop dat daar binnekort meer snitte uit sy pen gaan verskyn.