fbpx
Anne-Marie van Eeden inspireer met nuwe geestelike popliedjie

Anne-Marie van Eeden inspireer met nuwe geestelike popliedjie

Anne-Marie van Eeden, die uiters begaafde Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer wat tans in Switserland woon, is bekend vir haar sielvolle musiek.

Dit is daarom nie vreemd dat haar nuutste enkelsnit, LET US COME BOLDLY, jou diep tref wanneer jy dit vir die eerste keer hoor nie.

Hierdie inspirerende geestelike popliedjie, wat soos haar voriges deur Helmut Meijer vervaardig is, is saamgestel uit Hebreërs 4:14-16.

“Jesus verstaan ons probleme en swakhede, daarom kan ons met ’n geruste hart voor sy troon van genade staan,” verduidelik sy oor die betekenis agter die lied. “Soms voel ek dat ek nie mag bid nie, omdat ek nie naby genoeg aan God of gelowig genoeg is nie.

Maar hierdie vers sê dat ons vry is om dit te doen. Dat Jesus as hoëpriester vir ons tussenbeide tree. Ek wou dit memoriseer en om ’n liedjie, met woorde direk uit die Bybel, daarvan te maak was die perfekte manier om dit te doen.”

Anne-Marie van Eeden

Die musikant verklap dat sy al hoe meer bewus word van hoe waardevol dit is om verse uit die Bybel te memoriseer.

“Wanneer ek vir dae en weke aan ’n lied gewerk het is dit sommer baie maklik om daardie Skrifgedeelte uit my kop te ken! Hierdie is dus ’n manier waarop ek myself en dié wat dit hoor help om nie net na ’n mooi melodie te luister nie, maar ook om verse uit die Bybel te memoriseer.” 

Volgens Anne-Marie kombineer hierdie enkelsnit ’n lekkerluister-wysie en kragtige lirieke wat luisteraars sal uitnooi om saam te sing.

Daarom het sy dit ook goedgedink om ’n lirieke-video saam met die snit uit te reik. Die hele video is in rooi en wit en is gekies om by die spesifieke tema van vrymoedigheid aan te sluit.

“Die woorde van hierdie lied is baie sterk en uit die staanspoor het ek besluit om ’n liriek-video te maak. Die woorde kom direk uit die Bybel en ek wou graag die kragtige teks belig met ’n kreatiewe en innoverende liriek-animasie,” verduidelik Anne-Marie.

Alret van der Walt van Empty Canvas Productions het die animasie met dapper eenvoud behartig en dit reggekry om lewe te gee aan die liedjie.

“Ek was verras deur die krag van dié liriek-video! Alret het ’n klein meesterstukkie vervaardig en ons het besonder lekker saam gewerk! Sy het presies verstaan wat ek in gedagte gehad het. Die minimalistiese gebruik van ’n rooi vierkant met helderrooi en wit, ondersteun die simboliek van die teks.”

Kyk die video hier

LET US COME BOLDLY volg in die voetspore van haar vorige treffer, WYS MY DIE PLEK, en albei maak deel uit van haar opkomende album wat in die nabye toekoms uitgereik gaan word.

Anne-Marie het haar debuut gemaak met haar eerste solo-album, KYK OP, in 2003. Sedertdien het sy nog drie albums vrygestel, twee Lier-toekennings gewen en is sy benoem vir ’n Ghoema (2017). Maar sy meen dat luisteraars se terugvoer – oor hoe haar musiek hulle harte geraak het – haar grootste hoogtepunt is.

Buiten vir haar musiek, is hierdie veelsydige ster – wat in Pretoria grootgeword het – ook ’n ma (en ouma), onderwyser, koorleier – sy het twee kinderkore oorsee gestig – en lid van die vrouebediening, KeeperSoul.

Sy is ook ‘n stigerslid van Scatterlings Collective – ‘n groep wat hulle beywer om Suid-Afrikaanse kunstenaars wat in Europa woon, die geleentheid te gee om te konnekteer en saam op te tree.

Sy beskryf haar musiek as wêreld-musiek – ’n unieke kombinasie van klassieke-, jazz- en folk-klanke. Howel sy haar eie lirieke in Afrikaans en Engels skryf, is sy ook bekend vir haar vaardighede om geliefde Suid-Afrikaanse gedigte te toonset.

LET US COME BOLDLY is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier.

“Die boodskap van hierdie lied is dat Jesus medelye met ons het! Hy verstaan ons pyn en swakhede want Hy het alles SELF ervaar. Daarom kan ons met vrymoedigheid na die troon van genade gaan. Hy is ons Hoëpriester. By Sy genadetroon sal ons genade vind,” sluit sy af.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook, Instagram, YouTube

Webwerf: www.annemarievaneeden.com