fbpx
Muller Brandt se musiekvideo van WILDEBEES is hier!

Muller Brandt se musiekvideo van WILDEBEES is hier!

Muller Brandt het pas sy enkelsnit, WILDEBEES vrygestel wat baie goed deur radiostasies ontvang is en nou is die musiekvideo van die snit ook beskikbaar. 

WILDEBEES, wat hy saam met Jattie de Beer geskryf het, is gebaseer op sy eie plaas-ervaring op sy swaer se plaas in All Days en beskryf hoe elke man van nature ’n wildebees in hom het.

“Dis ’n lekker humoristiese skoffelliedjie, wat jou voete sal laat jeuk om te dans,” sê hy oor sy tweede Afrikaanse enkelsnit.

Die musiekvideo is op Sikilele-plaas geskiet en wys hoe ’n klomp stadsjapies op die plaas kuier en leer hoe alles werk.

Kyk die video hier

“Jy hoef nie goed te wees in alles om ’n wildebees te wees nie, is die boodskap wat ek graag met dié video wil tuisbring,” verduidelik Muller.

WILDEBEES vorm deel van sy debuut-album, BRAND DIE SKEPE, en volg in die voetspore van MOEDERTAAL wat baie goed ontvang is en speeltyd op groot radiostasies regoor die land geniet.

Die lied is ook die temalied van die avontuur program op VIA, Wildebees, wat ook ‘n baie gewilde klere handelsmerk is.

Muller Brandt het in Pretoria grootgeword en werk al twaalf jaar in die musiekbedryf. Sy pa se liefde vir country-musiek het sy passie vir sing laat vlam vat en hy het nog nooit afgewyk van sy droom om ’n voltydse sanger te wees nie.  

Hy verklap dat hy reeds besig is om liedjies bymekaar te maak vir sy volgende album, maar vir nou sien hy eers uit om ’n blaaskans te vat aan die einde van die jaar en tyd met vriende en familie te spandeer.

WILDEBEES is op sy album op alle digitale platforms beskikbaar. Kry dit hier.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Instagram, YouTube