fbpx
Sharine Barnard – PRAY

Sharine Barnard – PRAY

Dit is vroegoggend en ek ontmoet vir Sharine in ‘n koffiewinkel in Centurion. Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat die onderhoud met die slanke, swartkop vrou met krapmerke op haar arms nie ‘n gewone storie gaan vertel nie.

“Aangename kennis,” sê sy terwyl sy my groet met ‘n ferm handdruk, eg aan ‘n dame wat van die plaas afkomstig is.

“So, waar het jy grootgeword?” vra ek vir haar. En daar laat vat sy met die gesprek.

Ons maak ‘n draai by haar grootwordjare op Jan Kempdorp en hoe sy as 12-jarige saam met haar vriendinne trekker gery het. Sy vertel van haar ouers se saaiboerdery wat haar pa later omskep het in ‘n Pekanneutplantasie.

Op skool het sy reeds in Sub A (Graad 1) begin sing. Op hoërskool verruil sy Skeinat (Natuurwetenskap) vir musiek as vak. Dit is ook juis hier wat sy haar klavieropleiding voltooi.

Die plaasmeisie se drome was reguit gerig op ‘n loopbaan in musiek.

Op haar pa se aanbeveling besluit Sharine egter om haar studies in BCom Regte aan Kovsies te voltooi. Tydens haar studentejare woeker sy steeds met haar sangtalent en doen vooroptredes vir talle kunstenaars by die Sand Du Plessis-teater in Bloemfontein.

“Nou waar kom die krapmerke vandaan?” wonder ek.

Na afloop van Sharine se studies het sy en haar man getrou. Hulle lewe het ‘n skielike wending geneem toe iemand op ‘n dag ‘n weerlose leeuwelpie van twee weke oud verdwaald op ‘n grondpad gevind het.

Hierdie onbekende Samaritaan het die leeuwelpie gehelp en op vier maande hom dieretuin toe geneem. Na ‘n paar maande het die dieretuin besluit dat hy eerder uitgesit moes word, omdat hulle vermoed het dat hy oor ‘n swak geen beskik wat sy sig en beengroei beïnvloed het.

Sharine en haar man het besluit om die leeutjie in te neem. Hulle word die nuwe eienaars van die leeu toe hy maar nege maande oud was en vermoed dat sy swak groei eerder vanweë wanvoeding was. Wat merkwaardig van die verhaal is, is dat ‘n leeu se gemiddelde leeftyd in die natuur slegs agt jaar is, maar hierdie leeu het 21 jaar oud geword!.

Vandag is daar allerhande katte op hulle plaas (voorheen ‘n melkplaas) te sien, insluitend wit en Bengaalse tiere. Die egpaar fokus op die geenpoel van die leeus – alles met die doel om ‘n erfenis vir hul nageslag agter te laat.

Met haar besige lewe op die plaas en haar vier kinders (17, 16, 15, 12) het Sharine die laaste paar jaar bitter selde tyd gekry om haar musiekdroom uit te leef.

Tussen die kinders se aktiwiteite, die plaaslewe en die kosmaak in hulle restaurant was ‘n loopbaan in die musiekbedryf iets wat tot nou toe op die agterstoep moes staan.

Dit is eers toe die wêreld tot stilstand geruk is deur die COVID-pandemie dat Sharine kon stilraak en weer kon musiek begin skryf.

Dit is ook tydens die grendeltyd dat haar lewe ‘n vreemde parallellelyn trek met dié van die leeuwelpie. Sy begin om sestien kinders uit die gemeenskap te help met hulle skoolwerk en besef hoeveel seer en worsteling in die lewe bestaan.

Soos die welpie geen hoop gehad het nie, het sy besef dat die hele wêreld moedeloos staan.

Sy begin bid.

In ‘n droom sien sy hoe sy eendag die wêreld motiveer terwyl sy voor ‘n groot skare staan en sing. Sy sing egter ‘n lied wat sy nie ken nie, maar die boodskap is so helder soos daglig.

Sy word wakker, gryp haar selfoon en begin tik aan die lirieke vir haar lied PRAY!

“Die volgende oggend het ek koffie gemaak en oudergewoonte voor die klavier gaan sit terwyl almal nog slaap. Waar enige ander lied deeglik bedink en geskaaf moes word, het PRAY net gevloei. Dit was soos ‘n Skriflesing wat vir my gegee is as antwoord op my kwelvrae; dit het my kalm en rustig gemaak en ek het besef dat alles reg sal uitwerk,” verduidelik Sharine.

Sharine het die liedjie self geskryf en gekomponeer, terwyl André de Jager van 2Tone Records dit vervaardig het. Sy erken dat dit baie van haar vorige werk verskil. “Al my liedjies vertel ‘n storie en is versigtig aanmekaargesit, nie net wat die storielyn aanbetref nie, maar ook wat die formaat en instrumente behels. PRAY is egter my gunsteling,” deel sy.

“Ek dink mense is honger vir hoop en hierdie liedjie bied die nodige hoop en gerusstelling dat alles oukei gaan wees. Wat ook al jou situasie is, waar ook al jy in die wêreld is en ongeag van wat jou situasie is, daar is altyd hoop.”

Sharine verduidelik verder dat sy vandag besef dat ‘n mens nie so baie druk op jouself moet sit nie. “Moenie dat die eise van die wêreld jou vrede steel nie. Dis oukei om jouself te wees. Al is jy ‘n leeuwelpie wat deur die wêreld verwerp word, al wat jy moet doen is PRAY.

“Maak klaar met wat jy begin het. Jy kan nie ‘n dier optel en nie daarvoor sorg nie, jy kan nie ‘n liedjie begin skryf en dit nie sing nie. Jy MOET.”

Die liedjie is tans op alle digitale stromingsplatforms beskikbaar en kan reeds op meer as 32 radiostasies landswyd geluister word.

Sharine werk nou aan ‘n album wat vroeg in 2023 vrygestel word. Sy beplan ook om drie enkelsnitte deur die loop van 2022 vry te stel en hoop om talle mense aan te raak met haar musiek.

“Hou vas! God loop voor jou. Moet net nie in sak en as gaan sit nie.”

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram