fbpx
SONSKYN KIND – ‘n debuutsnit met rou en eerlike lirieke

SONSKYN KIND – ‘n debuutsnit met rou en eerlike lirieke

Rooibos & Wijn se debuutenkelsnit, SONSKYN KIND, is pas vrygestel en sal aanklank vind by elkeen wat eerlike lirieke geniet. Dié liedjie is geïnspireer na oomblikke wat hoofsanger, JP van Zyl, en ’n dame ure aaneen kon filosofeer oor die lewe en natuurlik, die liefde.

SONSKYN KIND gaan oor ʼn meisie op wie ek verlief geraak het. Vir ure kon ek in haar oë staar op die slaapkamervloer terwyl ons filosofeer oor die idee van ware liefde. Die woorde het na my toe gekom tydens haar teenwoordigheid. Sy is ʼn muse,” het Van Zyl vertel.

Van Zyl het SONSKYN KIND gepen en begin met die lirieke: “Ek sien Jerusalem in jou oë, skryf ek halwe gedigte ook.” Dít som presies op waar dié liedjie se oorsprong vandaan kom – vanaf sy muse en onvoltooide gedigte.

“Dis ’n alternatiewe liedjie met rou emosie wat ek wil oordra,” het hy vertel. “Ek hoop dat almal wat hierna luister met iets in my lirieke sal aanklank vind,” het hy gesê. Van Zyl hoop is dat SONSKYN KIND vir mense ontvlugting sal bring tydens hulle geluk en ook tydens hulle swaarkry.

“Met die musiekvideo wou ons ’n storie vanuit my oogpunt vertel oor hoe ek SONSKYN KIND ervaar uit my skoene,” het Van Zyl verduidelik. Wanneer Van Zyl self verlore raak in musiek geniet hy enige iets, van Queen tot Mumford & Sons en Metallica. Afrikaanse alternatiewe musiek soos dié van Jan Blohm, Melktertkomissie, Spoegwolf, Twee en Glaskas is ook op sy speellys.

Luister nou na SONSKYN KIND op alle digitale platforms hier.