Tanja Storm is op pad!

Tanja Storm is op pad!

Nes die Kaapse Dokter, storm Tanja die musiekbedryf binne op ‘n jong ouderdom en is hier om te bly. Getoë in Melkbosstrand en toe alreeds ‘n meester van die klawerbord op ouderdom 7, het Tanja geweet musiek spoel soos die branders deur haar – onkeerbaar. Op ouderdom 14 sluit sy aan by ‘n orkes nadat hulle intussen na Mosselbaai verhuis het.

Nog see, nog water. Dit moet iets in die soutwater wees wat hierdie meisie onblusbare talent en passie gegee het, want sy bespeel elke tweede instrument en haar enkelsnitte boer deesdae op plaaslike radiostasies.

Sy neem haar debuut album in 2009 op en die optredes stroom landwyd in, maar nou is sy oppad met ‘n splinternuwe album getiteld, “Ek is oppad” [sic].

Met haar eerste snit val sy met die deur in die huis met ‘n Rock-a-Roll liedjie wat beslis die aandag gaan vang. Haar unieke, eerlike stem spoel om die note asof jy dit nie kan vasvang nie en besef, híér loop talent oor.

Tanja Storm – Ek is oppad (Lusmaker)

Haar album is styf gepak met ‘n spektrum van musiekstyle. Soms opgewek, soms diep, soms verlang jy en ander kere wil jy om die tafel dans soos met haar kwêla wat jou sommer trots afrikaans laat voel. Dan draai die storm om en kalmeer jou met die mooiste ballades en lirieke wat nie soetsappig is nie, maar water dra en jy mee kan vereenselwig.

Tanja pas haar stem aan by elke musiekstyl wat nie net die beste uit haar bring nie, maar ook uit die lied. Luister jy na haar nuwe album, slaan die passie in haar stem jou om soos ‘n Mosselbaai-brander.

Tanja het al saam met van ons land se grootste kunstenaars opgetree, was al by omtrent elke fees en tree op met ‘n vol ‘band’. Sy is anders. Sy is vars. Sy is op pad…

Vir meer inligting, kontak

Lydia Winchester
Tel: 011 475 2187
E-pos: [email protected]

Leave a Reply