Vir Len Muller is musiek “Oorgenoeg”

Vir Len Muller is musiek “Oorgenoeg”

Tyd vlieg as jy jou passie en roeping uitleef. Dit is reeds 7 jaar vandat Len Muller die besluit gemaak het om voltyds in die musiekbedryf te werk. Die talentvolle skrywer en sanger het in die kort tydjie reeds ‘n reuse impak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak met sy nie-kommersiele, akoestiese klanke in Afrikaans en selfs Engels.

Len vind aanklank by musiek wat emosie en nostalgie ontlok, wat mense laat dink en inspireer of selfs hoop gee wat duidelik navore kom in sy laaste enkelsnit en musiekvideo, “Oorgenoeg”.

Len Muller het reeds 2 suksesvolle solo-albums vrygestel en onlangs ook sy nuwe kortspeelplaat (EP) die lig laat sien. Die beskeie sanger glo daarin dat die uniekheid van sy werk belangrik is en dat daar genoeg spasie vir elke kunstenaar is om hul talent te deel sonder om te kompeteer vir die kollig. Dit is juis die benadering wat die veelsydige musikant so laat uitstaan met sy hoendervleismooi musiek, wat direk met die hart te praat.

Die boorling van Richardsbaai het eers op Hoërskool sy sangtalent ontdek en begin kitaar speel alhoewel hy nog altyd geskryf het.

“My lirieke is baie persoonlik, diep en eerlik. Dit kom byna netso uit my persoonlike joernaal. Ek wil graag hoop in mense se lewens insing en dié bemoedig wat deur swaar tye gaan. Ek is moeg vir veral Afrikaanse musiek sonder enige emosie.

Ek glo ek het meer om oor te sing as net geld, meisies en goeie tye. Die mooiste liedjies vir my is die hartseer liedjies; want moeilike tye is ook deel van die lewe waardeur ons almal gaan”. Al sal Len enigiets gee om nader aan die see te bly en elke dag te kan surf, sal hy nie die geleentheid verruil om sy roeping uit te leef nie.

Die hoogtepunt van Len se loopbaan is ‘n suksesvolle projek genaamd ‘Musiek soos Grond‘ wat hy saam met vriende Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds aangepak het die afgelope jaar.

Hierdie reeks is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en is daarop gemik om vir kontemporêre kunstenaars ‘n platform te gee om hulle treffende lirieke, ware lewensverhale en veelsydigheid op die verhoog te deel.

Len het al verskeie Ghoema en Huisgenoot tempo nominasies ontvang en was ook al benoem as “Nuweling van die jaar” asook “Manlike kunstenaar van die jaar”. Sy bekwaamheid met die pen is alombekend en hy het ook al die verhoog gedeel met kunstenaars soos Jan Blohm, Straatligkinders, Dans Dans Lisa, Kaleidoskoop en Joshua na die Reën.

Hy begin ook in Augustus toer met sy nuwe kortspeler “Len Muller – Akoesties” toer. Al sy musiek is aanlyn op alle digitale platforms beskikbaar.

Besprekings: 

[email protected] of [email protected]

Sosiale Media:

Facebook , Twitter, Instagram, YouTube en SoundCloud

Webblad: www.lenmuller.co.za

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies
Gizela Arndt
Sel: 083 399 6869
E-pos: [email protected]
Webblad: www.starburstmusic.co.za

Leave a Reply