fbpx
V & A met Pieter Marcato

V & A met Pieter Marcato

Om ware liefde aanlyn te vind, is deesdae glad nie ’n vreemde verskynsel nie. Talle paartjies het al suksesvolle verhoudings met die druk van ’n knoppie gebou.

Pieter Marcato sing in sy splinternuwe enkelsnit, SWIPE REGS, juis van hierdie tipe liefde en hoe dit lewens kan verander. “Een van my beste vriende het onlangs met sy sielsgenoot getrou. Hulle het op ’n afspraaktoepassing (dating app) ontmoet en dit het my laat besef dat mense mekaar op verskillende maniere kan ontdek,” verduidelik die musikant oor die inspirasie agter sy tweede solovrystelling. 

SWIPE REGS is ’n lekkerluister Afrikaanse popliedjie uit Pieter se eie pen, met ’n opgewekte ritme wat jou voete sal laat jeuk om te dans. “Ek dink luisteraars gaan aanklank vind by die lirieke en dit geniet om saam te sing en dans,” sê die kunstenaar.

In die gees van aanlynliefde het ons ’n paar vrae aan hom gerig om hom beter te leer ken.

Wie is jy?

My naam is eintlik Pieter Smit, maar ek tree op onder die naam Pieter Marcato. Die rede daarvoor is dat daar reeds ’n Pieter Smith is, so my van sou nie werk nie toe besluit ek op my vorige bandnaam vir ’n van, MARCATO. 

Wat doen jy?

Ek is ’n sanger en liedjieskrywer – ek maak musiek vir ’n lewe en tree op reg oor die land. 

Waar het jy grootgeword?

Ek is in Pretoria gebore en het so drie jaar ook in Durban gebly. Op 6-jarige ouderdom het ons weer terugverhuis na Pretoria, waar ek vandag nog woon.

Watter genre beskryf jou musiek die beste?

Alternatiewe Pop.

Wat het jou laat opeindig in die musiekbedryf?

Ek het vanaf 13-jarige ouderdom geweet dat ek musiek wil maak vir ’n lewe.  Sedertdien het ek in groepe musiek gemaak.

Wie is jou invloede/rolmodelle?

Die rede waarom ek vandag musiekmaak is The Offspring en Blink 182. Alhoewel ek sal sê dat Dave Grohl van Foo Fighters my grootste rolmodel is.

Noem jou gunsteling ouderwetse en hedendaagse kunstenaar.

Ek is ’n groot Queen aanhanger en van die hedendaagse kunstenaars luister ek graag na Spoegwolf.

Hoe verloop ’n tipiese dag vir jou?

Staan op, gaan oefen by die gim. Dan is dit tyd vir bietjie administratiewe werk en net voor dit klaar is nog so bietjie admin. Ek maak seker dat ek tyd saam met my vrou en kind spandeer en in die aande is ek gewoonlik iewers besig met ’n vertoning.

Bespeel jy instrumente? Indien wel, noem ’n paar.

Ja, ek doen. Kitaar, klavier, baskitaar, mandolien, banjo, ukelele.

Beskryf jou musiekstyl.

Ek probeer my liedjies so skryf dat dit ’n storie vertel, maar steeds “catchy” is.

Is daar ’n staaltjie wat uitstaan van een van jou optredes?

Daar is baie, maar die een wat die lekkerste is, was die keer toe een van my vertonings sommer in ’n jagnaweek ontaard het. Ons het hope pret gehad.

Werk jy tans aan enige opwindende projekte wat jy graag wil deel?

Op die oomblik werk ek aan my sololoopbaan, maar ek is steeds ook besig met my ander groepe Eon en Marcato.

As jy nie in die musiekbedryf was nie, waar sou jy gewees het?

Ek sou heel waarskynlik ’n prokereur gewees het. Ek het ’n groot belangstelling daarin en het reeds een kwartaal se studies agter die rug.

Waar kan mense na jou musiek luister?

Op alle aanlynplatforms (Spotify, YouTube Music, Apple Music, Deezer).

Waar kan mense jou bespreek vir optredes?

Kontak gerus my agent by [email protected] of [email protected] 

Waar kan aanhangers met jou kontak maak?

Facebook, Instagram, Twitter

Wat is jou raad aan nuwe jong kunstenaars?

As musiek iets is waarvoor jy regtig ’n passie het en iets is wat jy vir die res van jou lewe wil doen, doen dit dan 100%. Daar is nie iets soos ’n deeltydse musiekant nie, so sal jy dit nooit maak nie. “It’s all or nothing” soos hulle sê.