fbpx
Corne Louw vier sy beter helfte in nuwe enkelsnit!

Corne Louw vier sy beter helfte in nuwe enkelsnit!

“Die liedjie gaan oor iemand wat op breekpunt is. Dan kom daar ’n persoon in sy lewe wat hom opbou en help om weer mens te wees,” verklap Corne Louw oor die betekenis agter sy derde enkelsnit, wat vanaf vandag, 27 Februarie 2020 aan plaaslike radiostasies uitgereik word.   

DIE BESTE DEEL VAN MY, wat die sanger saam met Hugo Ludik en Vaughan Gardiner geskryf het, is ’n inspirerende kontemporêre popsnit, wat die opwinding van liefde en die hoop wat dit bring perfek vasvang.

“Die idee vir die koorgedeelte het posgevat toe ek besig was met opnames vir my album. Daaruit het ons toe die liedjie verder gebou,” verduidelik die musikant. “Daar is baie mense wat deur swaar tye gaan, maar een persoon kan instap en al jou seer en laste ligter maak.”

DIE BESTE DEEL VAN MY volg in die baie suksesvolle voetspore van sy vorige twee enkelsnitte, Date Night (waarvan die musiekvideo deur Fathom Media vervaardig is) en Maak of Breek, waarvan laasgenoemde tans in die Nr. 3 posissie op Bok Radio se Top 20 pryk.  Die voorspelling is dat dié liedjie kort voor lank die Nr. 1 plek sal inneem.  Al drie snitte maak ook deel uit van sy debuut-album (Date Night) wat in 2019 uitgereik is.

Hierdie CD spog met dertien lekkerluister-kuierliedjies, in sy kenmerkende moderne Country-Popstyl, wat geïnspireer is deur sy vrou, kinders en alledaagse gebeure rondom hom.

Corne woon in Langebaan in die Weskus en het die kuns bemeester om gehore in die palm van sy hand te hou met sy veelsydigheid en hartlike verhoogpersoonlikheid. Hy kom uit ’n familie vol musikante en glo dat musiek deur sy are vloei. Hy en sy pa speel nou nog so af en toe saam kitaar.

Sedert sy musiekloopbaan in 2004 amptelik vlam gevat het, het hy al by verskeie feeste, waaronder die KKNK en Robertson’s Wacky Wine Festival, plekke soos Route 66 en Ocean Basket en funksies opgetree.

Wanneer hy nie besig is om liedjies te skryf of op te tree nie, hou hy ook baie daarvan om kitare te versamel en deel hy ook dat hy graag ’n argitek of ingenieur sou wou wees as musiek nie vir hom uitgewerk het nie. “Ek is mal oor kitare en het ’n hele versameling Gibsons en Fenders, alhoewel ek nie noodwendig die beste kitaarspeler is nie,” vertel hy met ’n vonkel in sy oog.

Tans is dié veelsydige ster ook besig om materiaal te skep vir ’n Engelse Country-album, wat hy graag later in die jaar wil laat opneem, en werk hy ook hard aan voorbereidings vir sy 2020-optredes.

DIE BESTE DEEL VAN MY spog met ’n opgewekte wysie en betekenisvolle saamsing-lirieke, wat by gehore van alle ouderdomme sal aanklank vind en sy storievertellerstem soos ’n handskoen pas. Met elke nuwe liedjie wat Corne Louw vrystel, kruip hy nie net dieper in die harte van musiekliefhebbers nie, maar verstewig hy ook sy plek in die plaaslike musiekbedryf.

Laai die snit hier af: Apple music  

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter

Webblad: www.cornelouw.co.za