fbpx
VatVas Dansorkes Laataand Boogie ideaal vir jou tuisskoffel

VatVas Dansorkes Laataand Boogie ideaal vir jou tuisskoffel

Hier teen maand vier van die nasionale inperking moet ons weer die ritme in ons voete en die swaai in ons heupe vind. En die bekroonde VatVas Dansorkes se nuutste enkelsit LAATAAND BOOGIE vanaf hul derde album KOUS IN DIE KAM is die ideale snit vir dáárdie tuisskoffel.

Hoewel ons nie die voor-korona vastrap in ‘n skuur, kuierkroeg of op ‘n troue kan doen nie – kan ons dit wel in ons eie sitkamers of kombuise doen.

VatVas Dansorkes Laataand Boogie

Die musiek, wat deur die hoofkitaarspelers Rudie Grobler en Johan Duvenhage, gekomponeer is, neem jou op reis na die verlede – na die goeie ou sestigerjare – toe vroue-met-haarsalonkrulle en mans-met-skerppuntskoene op Saterdagaande in klubs gerock ‘n roll het.  

Tog het dié boogie ‘n vars kontemporêre klank waarmee hedendaagse dansmusiekliefhebbers mee kan vereenselwig. Daarmee saam is hulle ook so eg Suid-Afrikaans soos boerewors en mieliepap.

“Dit is een van die liedjies waarvan almal hou, want dit laat jou voete beweeg,” koor die orkeslede, Rudie Grobler, Martin Viljoen en Johan Duvenhage Koos van Dyk. 

Self diegene wat die ritme van ‘n tweedehandsestofsuier het, sal na ‘n dansmaat gryp en rondtrap. Dit is ook presies wat die groep met die liedjie wou regkry; om mense te laat dans.

“Die boodskap wat ons hiermee wil oordra is; steek die vuur aan, laat ons braai en dans.”

Die musiek wat deesdae oor die meeste radiostasies weerklink is ‘n geween en  gekners van tande, temerige ballades en sniksannie-treffers , daarom laat die vastrap-mielievloer-stronkstaan jou terugverlang na die dae toe die koronavirus net nog in skrywers se verbeelding bestaan het.

Dié manne, almal boorlinge van die Oos-Rand, het sowat vier jaar gelede saam begin musiekmaak en sedertdien het dié groep met hulle country, rock ‘n roll en boeremusiek

mense van regoor die land aan die wikkel gekry.  Die groep het verlede jaar ‘n Ghoema-toekenning ontvang vir die publiek se gewildste groep of duo en is ook al bekroon met ‘n Sama-toekenning. 

Rudie en Johan bespeel die elektriese kitare, Martin is op die baskitaar en Koos van Dyk is op die tromme.

Martin boer al lank in die musiekbedryf. Hy het sy eie opnameateljee en verkoop ook klank- en beligtingstoerusting. Rudie is ‘n ingenieur en Johan is ‘n boer en sakeman.

Na drie suksesvolle albums, waarvan verskeie van die liedjies goed op radiostasies landwyd ontvang is, is hulle al goed bekend onder die dansende menige.

Moet ook nie dink dat die ingrendeltydperk die manne se musieklus geblus het nie. “Ons het saam geoefen – sommer so oor WhatsApp en Skype,” lag Martin.

Hulle het ook die mense aan die dans gehad deur lewendige konsertvideo’s op die Live Music Band SA se Facebook-blad te laai.

Dié groep is dit egter eens dat die eerste ding wat hulle gaan doen as die koronavirus soos ‘n miswolkie in die lug verdwyn het, is om weer ‘n konsert voor ‘n groot “regte” gehoor te doen. 

Die belangrikste van alles is dat die VatVas Dansorkes met die liedjie bewys dat die toekoms van Suid-Afrikaanse dansmusiek nie so donker lyk soos baie mense dink nie.

SOSIALE MEDIA:

Facebook