fbpx
Vincent Gordon laat “die liefde tel”

Vincent Gordon laat “die liefde tel”

Ná die wegholsukses van Vincent Gordon se eerste enkelsnit, Stap soos Karlien, is dié sanger se naam weer op almal se lippe met ’n nuwe enkelsnit vanaf sy debuutalbum, Asem … net betyds vir die maand van liefde!

Dis die liefde wat tel, uit Vincent se eie pen, gaan oor die liefde wat meer gewig dra op die ou end, en wat staande sal bly teenoor aardse dinge en vooropgestelde idees wat nie altyd waarde dra nie.

dis die liefde wat tel

Vincent vertel dat soveel mense daagliks sy pad kruis en dat hy sien hoe mense so dikwels eerder na aardse dinge kyk, terwyl dit wat hul werklik nodig het reg langs hul staan. “Of dit nou ’n ma of pa, broer of vriend is, hulle kyk die grootste geskenk mis, die liefde! Ek kan nie genoeg dankie sê vir my ma wat my ondersteun in alles. Die liedjie is gebore uit my waardering vir opregte vriende en familie en ek gevoel om te skryf oor dit,” sê hy.

Volgens Vincent lê die liedjie hom na aan die hart omdat liefde ’n mens deur moeilike tye dra. “Ek dink die liedjie gaan sorg vir ’n goeie gemoed en mense op hul eie reis neem en hul gaan laat dink aan wie daai belangrike mense is in hul lewens. Natuurlik sorg die ritme ook vir ’n lekker dans op die dansvloer.”

Die lirieke is vermaaklik en die melodie propvol ritme en lewe. Die liedjie het boonop ook ’n positiewe boodskap: Jy hoef nie alles in die lewe te kan doen om goed genoeg te wees nie – jy sal altyd ’n goeie eienskap hê, iets wat jou spesiaal maak vir iemand anders.

Die musiekvideo, deur Cinastage opgeneem en vervaardig, speel af op drie verskillende plekke – No.89 Hazelwood, IQ Brooklyn en Rademeyers Park. Volgens Vincent het hul doelbewus dit so gedoen om die kwaliteit en effek wat ’n mens nie elke dag in Afrikaanse video’s sien nie te verbeter.

Ons het besluit om die storie uit te beeld waar ’n jong seun en meisie verlief raak. Die twee se paadjie skei dan wanneer haar pa van werk verander en hul na ’n ander dorp verhuis. Na jare kruis hul pad onverwags weer. Alhoewel hul mekaar nie dadelik herken nie, brand die liefdesvlam van destyds weer. Wanneer die meisie die seun bedien in die restaurant waar sy werk en hy asem skep na ’n moelike dag is dit die hangertjie wat hy as kind vir haar gegee het wat haar identiteit verklap,” brei Vincent uit oor die storielyn van die musiekvideo.

Vincent Gordon (27) is ’n sanger vir wie musiek lank reeds deur sy are vloei. Hy het van kleins af geweet musiek is vir hom en op die ouderdom van 9 jaar het hy reeds vir ’n gehoor opgetree. Sedert 2013 kan van sy musiek ook op radiostasies gehoor word.

Hy som sy stem op as smaakvol, nuut en ’n ‘bederfie vir die oor’. Ferdinand Skead, ’n vriend van Vincent, is ’n groot inspirasie vir hom. “Ferdinand is ’n man met soveel talente. Om net saam met hom te sit, te skryf, melodieë uit te werk en om in daardie kreatiewe atmosfeer te wees, is onbeskryflik. Dit spoor my aan om meer te leer en om net beter te wil doen en wees,” sê hy. Hy sal graag eendag saam met die sanger, Bobby van Jaarsveld, ’n liedjie wil skryf en sing.

Vincent vertel dat sy ondersteuners en persoonlike ervarings as inspirasie vir die meeste van sy liedjies dien. “’n Agtergrond van baie sukkel, seer en moedeloosheid wat ek wil omdraai en ’n vars boodskap van ‘wees Asem’ deurgee. Deur my lirieke wil ek lig bring met die boodskap: ‘Bly positief, glo in ons Vader en jy sal sien dat dinge daadwerklik verander.’

Hy luister graag na musiek waarmee hy op ’n spesifieke oomblik in sy lewe kan identifiseer, maar lig Enrique Iglisias uit as ’n kunstenaar wat sy sangstyl beïnvloed. Wanneer jy hom uitvra oor sy gunsteling musiekaanhaling, antwoord hy: “Music speaks when words can’t.”

Verder bieg hy ook dat hy maar skaam is wanneer hy nuwe mense ontmoet en dat hy graag ’n vlieënier sou wou wees indien musiek nie vir hom beskore was nie. “Wat jy werklik is, moet dit nie weggooi of wegsteek nie. Wees altyd nederig, maak nie saak hoe groot jou naam word nie,” vertel Vincent oor wat die bedryf vir hom geleer het.

Vincent het al verskynings op TV-programme soos JAM, Skoonma se Tong en Die GROOT Ontbyt gemaak en is gereeld te hoor op radiostasies soos Groot FM, Hosa Radio, Bok Radio, IFM, Luister FM, Knysna FM en Algoa FM.

Vra jy hom uit oor sy grootste prestasie tot dusver, antwoord hy: “Daar is soveel, maar bo-aan die lys is my volledige album wat in Oktober verlede jaar vry gestel is, waarin my hart en siel geskryf is.” Hy sonder ook sy groot treffer, Stap soos Karlien, uit.

Vir Vincent is daar ’n groot toekoms en behalwe vir optree en sy ondersteuners ontmoet, is dit sy debuutalbum, Asem, wat hom tans besig hou.

Volg vir Vincent Gordon op sosiale media:

Facebook, Twitter, Instagram en YouTube

Besoek ook gerus sy webblad (https://www.vincentgordon.co.za) om op hoogte te bly.

Indien jy meer inligting oor Vincent Gordon wil bekom, kontak gerus:

The Marketing Zoo – 012 004 0642

[email protected] / [email protected]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui