fbpx
Waldo Greeff – Facebook LIVE met Liedjies & Stories

Waldo Greeff – Facebook LIVE met Liedjies & Stories

Waldo Greeff is op Vrydag 18 September in sy eerste aanlyn konsert getiteld LIEDJIES EN STORIES te sien. Hierin gaan hy die treffers uitvoer wat hy vir bekendes in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf geskryf het. Greeff is al vir langer as ‘n dekade ‘n bekende liedjieskrywer op die Afrikaanse musieklandskap, met snitte uit sy pen vir groot name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Dit sluit onder meer twee Huisgenoot Tempo-musiektoennings agter sy naam, in.

In LIEDJIES EN STORIES voer hy ook onderhoude met kunstenaars soos Andriëtte, Nadia Beukes, Lee Scott, Izak Davel, Vincent Gordon, Carma, Loriska Bubb van die groep Mwah, Michael Lindt, Riaan Grobler en Talana vir ‘n agter-die-skerms blik op die treffers uit sy pen wat deur hulle hul eie gemaak is. Nelmari Rabie (sang) en Ruan Graaff (kitaar) is ook in die vertoning te sien. “My gunsteling deel van die konsert was die rookmasjien. Dit lyk of ek op ‘n wolk klavier speel,” skerts Greeff.

Hy woon en werk tans in Qatar in die Midde-Ooste, waar die kwik op die oomblik by sowat 40 grade Celsius draai. Hy was egter tydens die inperkingstydperk weens die Covid-19-pandemie vir vyf maande op eie bodem. In die tyd het hy gewoeker met die opname van LIEDJIES EN STORIES sowel as ‘n splinternuwe enkelsnit getiteld “Skadu’s van grys”.

Die nuweling-sangeres Carma is saam met hom op dié kommersiële pop-ballade te hoor. Hy verklap dat hy tans besig is met die finale skaafwerk aan die musiekvideo. Dit word eersdaags saam met die liedjie uitgereik . “Die liedjie is vir my baie spesiaal, want dit beklemtoon hoe kompleks die mensdom is en dat ‘n mens se persoonlikheid baie grys areas het. Alles is nie altyd net swart of wit nie,” voeg hy by.

LIEDJIES EN STORIES word op Vrydag 18 September 19:00 op Waldo se Facebook-blad uitgesaai, waarna dit op YouTube sal verskyn.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook
Twitter
Instagram
YouTube

Lees meer:
Waldo Greeff se BED OF THORNS vertel ‘n storie van gebrokenheid