fbpx
Frikkie van Biljon leef IN DIE OOMBLIK met sy nuutste enkelsnit

Frikkie van Biljon leef IN DIE OOMBLIK met sy nuutste enkelsnit

Frikkie van Biljon, wat reeds vir homself naam gemaak het met sy liriese tenoorstem en betekenisvolle liefdeslirieke, se nuutste enkelvrystelling is hier. Net soos sy vorige vrystelling Dalk Nooit het dit ’n kragtige boodskap wat hy met sy aanhangers wil deel.

IN DIE OOMBLIK is in baie opsigte ’n ode aan oomblikke wat ’n mens se lewe verander. “Oomblikke kan goed of sleg wees en aan die einde van die dag is al die oomblikke wat ons ervaar die somtotaal van ons menswees. Jou lewe is ’n oomblik in die van ’n ander wat blywend is,” sê dié Centurionse sanger en rekenaarprogrammeerder oor dié liedjie wat gedurende die grendeltydperk gebore is.

Dit is Frikkie se agtste enkelsnit en, anders as sy vorige ballades, het hy met IN DIE OOMBLIK akrobatiese, musikale spronge geneem en die eindproduk is ’n ligte rock/pop liedjie wat ’n sterk boodskap oor die liefde oordra. “Ek het gedink aan ’n temalied vir een van my vertonings en my gedagtes het gedraai rondom oomblikke,” vertel hy oor die skepping- en skryfproses.

Hy het met die hulp van sy stemafrigter, Jolanda Becker, wat sy stem al die afgelope drie jaar tot perfeksie gebeitel en geslyp het, en die vervaardiger André Hurter die konsep verder uitgebrei. “Ek het ’n idee gehad hoe dit moes klink, heeltemal anders as van my vorige liedjies.”

Frikkie is ’n liefdesliedjieskrywer wie se liedjies nie soos ’n soetsappige Hallmark-kaartjie klink nie. “Ek glo dat as ons liefde kan verstaan, veral in sy onvoorwaardelike vorm, sal dit die naaste wees wat ons aan hemel op aarde kan kom. Daar is ’n ingebore wil in elkeen van ons om dit te kan verstaan – musiek is een van die hulpbronne wat ons kan gebruik om oor die liefde na te slaan.”

Luister hier

Hy is al jare baie gelukkig getroud en is ook “tuispa” vir sy vier kinders. Die sterk band tussen hom en sy gesin en die oomblikke wat hulle saam beleef resoneer ook in die lirieke van IN DIE OOMBLIK: al wat saak maak is die oomblikke wat leef in jou en my …”  

Die mooiste geheime is dié wat daar tussen geliefdes bestaan. Geheime word gemaak uit oomblikke – van vreugde, hartseer, saam sukkel, saam soek, saam vind. Al hierdie is dit wat ons maak wie ons is.  Dit is gebeurtenisse wat niemand kan ontken nie en ook niemand kan wegneem nie. Dit is blywend,” sê hy.

Frikkie is nie ’n onbekende stem in die musiekbedryf nie, en as hy ’n ander afdraaipad gekies het, sou hy dalk ‘n kinderster gewees het. Hy was in graad 5 (standerd 3) toe Corrie Myburgh sy talent raakgesien het en aan hom ’n platekontrak aangebied het. “Ons het verhuis en my ouers kon toe nooit die platekontrak deurvoer nie.

As student het hy deelgeneem aan talle kultuuraktiwiteite by die Noordwes-Universiteit se Potchefstrookampus (PUK) en is hy selfs gekeur vir die Alabama-studentegeselskap, maar na sy studies het sy lewe in rekenaarkodes en hardeware verstrengel geraak. Hy het eers weer in 2017 sy stem laat hoor. “Dit is maklik om jou identiteit te verloor as jy eers begin werk en die probleme van die grootmenswêreld in die gesig staar.”  

Die besluit om weer met sanglesse te begin, was ’n poging om myself uit ’n gat van depressie te ruk. Ek het in daardie stadium bykans ’n 100 kilogram geweeg en was emosioneel nie op ’n gesonde plek nie. Ek het gewig afgeskud en weer na my eie identiteit gaan soek.  Danksy my vrou en gesin se ondersteuning kon ek weer myself vind.

Sy storie vind weerklank in die koorgedeelte … vertel al die stories wat jy agterlaat … wat ’n diep persoonlike en egte weerspieëling van sy menswees is.

Frikkie is ’n stem wat nie van die sangtoneel af mag verdwyn nie en hopelik word sy droom om ’n vollengte album vry te stel ook eendag bewaarheid.

IN DIE OOMBLIK is vanaf 18 September 2020 beskikbaar op alle digitale platforms: Klik hier

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook
Instagram
YouTube

Lees meer:
Sal die liefde ooit gebeur of DALK NOOIT?