fbpx
Wilhelm Lichtenburg & Amira Willighagen sing THE PRAYER

Wilhelm Lichtenburg & Amira Willighagen sing THE PRAYER

Die bekroonde klassieke sanger en kardiotorokale chirurg, Dr. Wilhelm Lichtenberg, is ’n ambisieuse en veelsydige sanger wat nie bang is om “ongewone projekte’’ saam met internasionale kunstenaars aan te pak nie.

Hy het, met sy jongste enkelsnit, THE PRAYER, sy stem by die van die Hollandse sopraan en Holland’s Got Talent-wenner Amira Willighagen gevoeg en die resultaat is ’n bekende duet wat uniek verpak is om by die Suid-Afrikaanse mark byval te vind.

Celine Dion en Andrea Bocelli het die snit oorspronlik in 1999 opgeneem en sedertdien is die liedjie ook deur verskeie ander bekende sangers, onder andere Josh Groban en Charlotte Church, opgeneem.

Dit is ’n universele gebed wat die grense van kultuur, ras en taal oorskry en vir almal ’n unieke betekenis het. Die snit resorteer vierkantig in die baie gewilde klassieke cross-over genre. Dit is ’n musikale smorgasbord style en klanke wat die klassieke genre oorsteek om dit ook meer luistervriendelik vir die moderne oor te maak.

Die negentienjarige Amira, wat ’n paar jaar gelede saam met haar ouers na Suid-Afrika geïmmigreer het, se helder sopraan en Wilhelm se donkerder tenoor is ’n treffende paradoks wat dié snit uiters geslaagd maak.

Wilhelm het gedurende sy studentejare aan die Universiteit van die Vrystaat trompet in die simfonieorkes van die Vrystaatste Kunsteraad gespeel het. Eers nadat hy as hartchirurg gekwalifiseer het, het hy sangstudies onder die befaamde mezzosopraan Violina Anguelov begin.

Onder haar bekwame leiding het sy stem in ’n ryk, stygende tenoor ontwikkel wat hom in staat stel gestel het om klassieke sowel as kontemporêre genres met moeitelose, suiwerheid te bemeester.

Sy nuuste projek kan ook vergelyk word met ’n klassieke Suid-Afrikaanse rooiwyn; dit is ’n snit wat oor honderd jaar nog net so relevant gaan wees soos dit vandag is. Riaan Steyn het die musikale verwerking van die liedjie gedoen.

Dit is nie die eerste keer wat Wilhelm sy stem aan ’n meer geestelike snit verleen nie. Hy het in Oktober 2022 ’n vollengte geestelike album, Sacred Heart, opgeneem wat baie goed deur radiostasies en gehore ontvang is. Een van die snitte op hierdie album was ‘n finalis in die klassieke kategorie by die onlangse Aitsa Afrikaanse musiektoekennings.

Hy het ook sowat vier jaar gelede ’n duet, Die Taal van My Hart, saam met die bekroonde sanger en liedjieskrywer Stef Bos opgeneem. Sy gelyknamige debuutalbum, waarop die duet ook verskyn, is in 2020 vir ’n SAMA-toekenning vir beste klassieke album genomineer, iets wat bykans ongehoord vir ‘n debuutalbum in die SuidAfrikaanse musiekbedryf is.

Met die loods van sy liefdadigheidsstigting, die Young Hearts Africa Foundation, het hy kragte saamgesnoer met die Queen legende Brian May, die West End en Broadway superster Kerry Ellis en die Grammy-bekroonde Soweto Gospelkoor, in Riaan Steyn se unieke verwerking van May se treffer Who Wants To Live Forever.

Hierdie opname het wêreldwyd groot byval gevind. Hierdie stigting het dit ten doel om lewensdreddende hartoperasies aan behoeftige kinders in Suid Afrika moontlik te maak, deur bewustheid te skep en fondse in te samel deur middel van musiek. Hul het tot dusver meer as dertig van hierdie uiters gespesialiseerde prosedures in Kaapstad kon uitvoer.

Wilhelm het, in sy hoedanigheid as stigter en voorsitter van Young Hearts Africa ook onlangs bykans net meer as ‘n honderd ander kandidate die loef afgesteek om die Conscious Companies toekenning vir etiese bestuur en voorbeeldige leierskap in te palm en sodoende as die voorste nieregeringsorganisasie in Suid Afrika bekroon te word.

Daarbenewens het Wilhelm verlede jaar in Kaapstad die voorreg gehad om tydens die laaste toets tussen die Springbokke en die Drake die uiters uitdagende Walliese volkslied voor vyftig duisend toeskouers te sing, ‚n vertoning wat uit verskeie oorde, insluitend Wallis self, met groot lof ontvang is.

Suid Afrika se „Singende Chirurg“ het reeds in ‚n baie kort tydperk ongekende hoogtes op verskeie gebiede bereik en hierdie merkwaardige man het nog groot doelwitte op sy horison. Daar is onder andere gerugte dat ‚n tweede opname met Brian May op die lappe is en moontlik binnekort die lug mag sein.

SOSIALE MEDIA

Wilhelm Lichtenburg

Facebook, Instagram

Amira Willihagen

Facebook, Instagram