fbpx
Faraway George stel eerste vollengte album bekend!

Faraway George stel eerste vollengte album bekend!

Faraway George bou voort op die sukses van sy nuutste enkelsnit, SUGAR CANE, met die vrystelling van sy eerste vollengte album. Hiermee saam stel hy die tweede enkelsnitvrystelling vanaf sy nuwe album bekend en beloof om Suid-Afrikaners verder gaande te hê!

Die enkelsnit, ARMOUR, is deur die kunstenaar self geskryf en gaan daaroor dat jy jou drome so styf kan vashou en bewaar dat jy dit uitstel. So kom die drome nooit tot uitvoering nie.  

“Terwyl ek besig was om klavier te speel en te dagdroom oor plekke waar ek nog nooit was nie, het die lirieke van hierdie liedjie by my vorm aangeneem,” sê hy oor hierdie kontemporêre snit. “Dit is dikwels mense se drome wat hulle inspireer om groot dinge te doen, maar baie min kan terugkyk en sê dat hulle dit wel gedoen het. Die liedjie daag jou uit om ja te sê vir jou drome!”

Burnt & Found word deur die musikant en liedjieskrywer beskryf as ’n mengsel van Folk-akoesties en Indie, met elemente van Country wat plek-plek deurskemer. Dit is ’n album wat daarop gemik is om aanhangers te inspireer om weer die mense in hulle lewens te waardeer en te fokus op wat belangrik is eerder as op die geraas van aardse dinge. Dit bestaan uit tien indrukwekkende, oorspronklike snitte waarvan nege uit sy eie pen kom. HOLD UP het hy saam met sy broer, Fritz Günter, geskryf.  

Die album se titel is ’n woordspeling op die Engelse term ‘lost and found’ – wat daarop sinspeel dat iets wat verlore is, weer gevind kan word. Burnt & Found dui egter daarop dat dit wat verbrand het, vir altyd verlore sal wees.

Oor die algehele gevoel van die album en wat hy hoop om daarmee te bereik, deel hy: “Ek geniet die idee dat mense my liedjies deel van hulle storie maak. Musiek behoort vir luisteraars die vryheid te gee om hulle eie wêreld en gevoel daaroor te vorm.” 

Toe Sugar Cane laas November uitgereik is, het dit luisteraars juis beïndruk as gevolg van die liedjie se unieke aanslag – dit was een van vier snitte wat tydens ’n lewendige optrede opgeneem is. Nie net kry dit speeltyd op die meeste groot radiostasies nie, maar dit verskyn ook steeds op Lekker FM se Top 20-treffersparade en is dit al deur duisende mense gestroom.

Die grootste gedeelte van Burnt & Found se inhoud volg dieselfde benadering; dit is lewendig opgeneem, op een dag, by die Centurion-teater. Oor dié besluit, wat nogal ongewoon is in die bedryf, verklap hy dat hy graag wil teruggaan na die basiese elemente van musiekmaak toe.

Alhoewel hy natuurlik sy persoonlike gunstelinge het, wat HOLD UP, ARMOUR en SUGAR CANE insluit, erken hy dat dit nogal ’n uitdaging was om die perfekte kombinasie liedjies vir die album te kies. “Ek het besef dat ek die eenvoud van die produksie moet waardeer en dus tevrede moes wees daarmee dat alles nie perfek gaan wees nie. Die kuns van ‘foute maak’ word gereeld misgekyk,” verduidelik hy.

Faraway George is in Pietersburg (Polokwane) gebore en het grootgeword met Jazz-musiek. Hy het as tiener begin kitaar speel. Alhoewel hy aanvanklik argitektuur sou studeer, het hy dit opgegee vir sy musiekloopbaan. Sy debuutkortspeelplaat, Vir ’n Vreemdeling, is in 2016 vrygestel.

Fotokrediet: Rozier van Tonder (Okay Deer)

Deesdae luister hy na ’n wye verskeidenheid genres, insluitend moderne folk, Afrikaans, alternatiewe musiek, Blues en Americana. Hy put groot inspirasie uit stories uit. “Soms is dit my eie storie en ander kere is dit iemand anders se verhaal. Partykeer tower my verbeelding ook iets op en dan verewig ek dit in musiek,” gesels hy.

Die kunstenaar se planne vir die toekoms, sluit ’n nuwe Afrikaanse album in, waaraan hy reeds begin werk het. “Ek glo dat die proses moet vloei, so wanneer die inspirasie volop is, moet jy juis die krane oopdraai”. Hy beplan ook meer optredes en fokus tans op feeste, soos Splashy Fen waar hy Augustus te sien sal wees. 

Faraway George glo dat sy nuwe album en enkelsnit die naaste is aan wat hy nog ooit gekom het aan die klank wat hy graag met die wêreld wil deel. “Musiek kan jou in baie verskillende rigtings stuur, maar ek voel asof ek nou doen waarvoor ek gemaak is,” sluit hy af.

LYS VAN SNITTE:

  • Wilderness
  • Sugar Cane
  • Armour
  • Hey Sister
  • Thorn In My Side
  • When The Sun Comes Through
  • Hold Up
  • Blue And Grey
  • Willow
  • Almal Sien In Kleur

Die album is op alle digitale platforms hier beskikbaar: Apple 

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter, YouTube
Webtuiste: www.farawaygeorge.co.za